Arthur Lasenby Liberty
Sir Arthur Lasenby Liberty (* 13 Augustus 1843, † 11 Mei 1917) was 'n Londense koopman en stigter van die afdelingswinkel Liberty & Co.
Liberty is as die seun van 'n klerasiehandelaar in Chesham, Buckinghamshire gebore en het op sestienjarige ouderdom met sy oom, wat kant verkoop het, begin werk. Later is hy deur 'n ander oom, 'n wynhandelaar, aangestel. In 1859 het hy sy leerjongenskap by 'n klerasiehandelaar begin, maar vervolgens besluit om liewer 'n aanstelling by Farmer and Rogers se Oriental Warehouse te aanvaar. Hier het hy in sy loopbaan gevorder tot bestuurder.
Farmer and Rogers het egter geweier om Liberty as vennoot tot die onderneming te laat toetree, en so het hy op 15 Mei 1875 sy eie afdelingswinkel in Londen se Regent Street geopen waar hy ornamente, tekstielstowwe en 'n verskeidenheid kunswerke uit die Verre-Ooste verkoop het.
Liberty & Co. het aanvanklik 'n eklektiese mengsel van gewilde style aangebied, maar dan begin oorskakel na 'n heeltemal ander styl wat nou verbind was met die Estetiese Beweging van die 1890's, Art Nouveau (die "Nuwe Kuns"). Die onderneming is in só 'n mate met hierdie nuwe styl geassosieer dat in Italië na Art Nouveau as Stile Liberty verwys is. Liberty & Co. se gekleurde en bedrukte tekstiele, veral sy en satyn, het 'n verskil gemaak met hul subtiele en gesofistikeerde kleure en het veral in die dekades tussen 1890 en 1920 groot aanklank gevind by modeliefhebbers. Ná sy sukses in Engeland het Liberty in 1890 'n tweede winkel in Parys geopen.
In 1865 het Arthur Liberty met sy eerste vrou, Martha Cottam, in die huwelik getree, maar is van haar in 1869 weens owerspel geskei. In 1875 het hy met sy tweede vrou, Emma Louise Blackmore, getrou. Uit die huwelik is geen kinders gebore nie. In 1913 is Liberty tot ridder geslaan.
Liberty het 'n fortuin gemaak met sy meerderheid aandele in Liberty & Co. nadat die onderneming in 1890 in 'n public limited liability company (publieke maatskappy met beperkte aanspreeklikheid) omgeskep is. In 1914 het hy afgetree. Hy is drie jaar later, op 11 Mei 1917, op sy landgoed in Buckinghamshire oorlede. Sy bestorwe boedel het naas sy landgoed en herehuis verskeie kleiner huise en 'n groot plaas naby sy geboorteplek in Buckinghamshire ingesluit.
Arthur Liberty se grafsteen is ontwerp deur Archibald Knox, een van Liberty & Co. se langjarige ontwerpers.