Bengale
- Hierdie artikel handel oor die geografiese streek in Suid-Asië. Vir die etniese groep, sien Bengale (volk).
Bengale of Bongo (Bengaals: বাংলা, Bangla, [baŋla], of বঙ্গ Bônggo [bɔŋɡo]; Engels: Bengal) is 'n gebied van Suid-Asië wat Bangladesj en die Indiese deelstaat Wes-Bengale insluit.[1] Dit vorm 'n geografiese en etnolinguistiese streek in die oostelike gedeelte van die Indiese subkontinent tussen die Himalaja in die noorde en die Golf van Bengale in die suide. Dit is suidoos van Nepal, suid van Sikkim, suidwes van Bhoetan en noordwes van Mianmar geleë.
Bengale is een van die digbevolkste streke ter wêreld en hier mond die Ganges saam met die Brahmaputra in die Golf van Bengale uit. Die streek bestaan uit die onafhanklike land Bangladesj in die ooste en die Indiese deelstaat Wes-Bengale in die weste. Bengale beslaan 'n totale oppervlakte van 236 322 km² en het 'n bevolking van sowat 260 miljoen in 2015 gehad.[2][3] Twee van die wêreld se megastede is in die streek geleë: Dhaka, die hoofstad van Bangladesj, en Kolkata, Indië se derde grootste stad.
Bengale se bevolking bestaan veral uit Bengale, wat Bengaals as moedertaal praat. Die Bengale van Bangladesj is oorwegend Moslems, terwyl die Bengale van Wes-Bengale oorwegend Hindoes is. Daarbenewens leef ander etniese groepe in Bengale wat Austro-Asiatiese, Drawidiese en Tibeto-Birmaanse tale praat.
Bengale het tot 1905 een van die subdivisies van Brits-Indië gevorm met Kolkata as sy hoofstad tot in 1912. Met die Partisie van Indië het Oos-Bengale met sy Islamitiese bevolking as Oos-Pakistan deel van Pakistan geword, terwyl die Hindoeïstiese Wes-Bengale deel van die onafhanklike Republiek Indië geword het. Dit het tot 'n grootskaalse uitruiling van bevolkingsgroepe tussen Oos- en Wes-Bengale gelei. As gevolg van die Bengaals-Indiese oorwinning oor Pakistan tydens die Bangladesj Bevrydingsoorlog het Bangladesj in 1971 onafhanklik geword.
Verwysings
wysig- ↑ HAT Taal-en-feitegids, Pearson, Desember 2013, ISBN 978-1-77578-243-8
- ↑ "U.S. and World Population Clock" (in Engels). United States Census Bureau. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 30 April 2020. Besoek op 23 Oktober 2015.
- ↑ "Area, population, decennial growth rate and density for 2001 and 2011 at a glance for West Bengal and the districts: provisional population totals paper 1 of 2011: West Bengal" (in Engels). Registrar General & Census Commissioner, India. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 20 Oktober 2019. Besoek op 26 Januarie 2012.
Eksterne skakels
wysig- Wikimedia Commons het meer media in die kategorie Bengale.
- (en) "Bengal". Encyclopædia Britannica. Besoek op 16 Desember 2018.