Bloeddiamant
Bloeddiamante (ook genoem konflikdiamante, bruin diamante, warm diamante of rooi diamante) is diamante wat in 'n oorlogsone ontgin en verkoop word om 'n insurgensie, 'n invallende weermag se oorlogspogings, terrorisme of 'n krygsheer se aktiwiteite te finansier. Die term word gebruik om die negatiewe gevolge van diamanthandel in sekere gebiede uit te lig, of om 'n individuele diamant te bestempel as afkomstig van so 'n gebied. Diamante wat tydens die 20–21ste eeuse burgeroorloë in Angola, Ivoorkus, Sierra Leone, Liberië, Guinee en Guinee-Bissau ontgin is, het die etiket gekry. Die term konflikmineraal verwys na soortgelyke situasies waarby ander natuurlike hulpbronne betrokke is. Bloeddiamante kan ook deur georganiseerde misdaadsindikate gesmokkel word sodat dit op die swart mark verkoop kan word.[1][2][3]
Op versoek van die Verenigde Nasies het 'n aantal lande saam met die diamantbedryf 'n sertifiseringstelsel, die Kimberley-proses, ingestel om dit moeiliker te maak om konflikdiamante te bemark. Op 19 Julie 2000 is 'n resolusie in hierdie verband by die Wêreld Diamantkongres in Antwerpen aanvaar.
Nog 'n natuurlike hulpbron in die konflikmineraalreeks is coltan, wat goed geskik is vir die vervaardiging van kapasitors vir selfone en ander elektronika.
Die 2006-rolprent Blood Diamond handel oor die handel in en die stryd teen bloeddiamante.
Die modemodel Naomi Campbell het die nuus gehaal toe sy in 2010 in Leidschendam ondervra is as 'n getuie in die Sierra Leone-tribunaal teen die Liberiese voormalige diktator Charles Taylor, van wie sy na bewering 'n bloeddiamant ontvang het.
Verwysings
wysig- ↑ Conflict Diamonds. United Nations Department of Public Information, March 21, 2001, archived online 23 October 2013.
- ↑ "Conflict resources: from 'curse' to blessing" by Ernest Harsch. Africa Renewal: January 2007.
- ↑ "Global Summary 2008" (PDF). Kimberley Process Certification Scheme. Geargiveer vanaf die oorspronklike (PDF) op 26 Julie 2011.