Fietas
Fietas was 'n voorstad van Johannesburg, Suid-Afrika wat nou as Pageview bekend staan. Die woonbuurt is deur Kaapse Maleiers en Suid-Afrikaanse Indiërs bewoon. In die 1970's is die gebied van nie-blanke mense ontruim in terme van die Groepsgebiedewet. Baie huise is gesloop en huise vir witmense is op van die grond gebou. Groot dele het egter onontwikkeld gebly.
Fietas Pageview | |
---|---|
Koördinate: 26°11′53″S 28°01′01″O / 26.19806°S 28.01694°O | |
Land | Suid-Afrika |
Provinsie | Gauteng |
Metropolitaanse Munisipaliteit | Johannesburg |
Oppervlak | |
• Totaal | 0,17 km2 (0,07 vk. myl) |
Bevolking | |
• Totaal | 947 |
• Digtheid | 5 600/km2 (14 000/vk. myl) |
Tydsone | UTC+2 (SAST) |
Poskode | 2092 |
Fietas kom in 1893 tot stand toe die ZAR-regering onder Paul Kruger drie sogenaamde lokasies vir Indiërs, Maleiers en swartmense gestig het. In 1903 is vyf erwe aan Indiërs oorgedra en 'n verdere 48 tussen 1904 en 1907 en 112 tussen 1912 en 1934. As gevolg van die gebrek aan wettige blyplek vir nie-blankes trek al hoe meer mense na Pageview.[1] In 1930 word swartmense uit die suide van Fietas na Orlando verskuif en bruinmense en Indiërs trek in hulle plek in. Na 'n huurboikot teen krotmelkers word bruin mense blykbaar vrywillig na die Coronationdorpsgebied en Albertsville verskuif. Na 1940 is meeste van die inwoners van Pageview Indiërs en ontwikkel die buurt 'n bepaalde Indiese karakter met Moskees, Hindoetempels en kerke. Die gewilde 14de Straat inkopie-Mecca raak ook gevestig.[1] In 1943 word die gebied amptelik Pageview genoem ter ere van die burgemeester van Johannesburg, Mnr. JJ Page.[1]
In 1957 word uitsettingsbevele aan alle nie-blanke inwoners suid van 22ste Straat in Pageview uitgereik. Swartmense word na Soweto verskuif, bruinmense na Western Areas en Indiërs na Lenasia.[1] In 1962 was daar 177 winkels in die gebied, twee moskees, vier kerke, twee filmteaters, vier Islamskole, een Hindoeskool, 'n gebou wat as Tamilskool, tempel en saal gedien het, 'n Indiërmeisiesskool, 1 bruinlaerskool en 'n kollege vir bruinmense. 'n Sensus wat gehou is bepaal dat daar 4125 Indiërs in die gebied gewoon het, 501 bruinmense, 860 Maleiers, 59 Sjinese en 'n onbekende aantal swartmense. Tussen 1964 en 1970 word uitsettingsbevele aan alle Pageview inwoners uitgereik.[1] Die Oriental Plaza word in 1974 in Fordsburg opgerig. Dit bly egter so te sê leeg tot 1976 toe onwillige handelaars gedwing word om hulle winkels uit Pageview te skuif. In 1976 begin grootskaalse verskuiwings van Pageview se inwoners en teen 1977 dwing regeringsamptenare en sekuriteitsmagte met honde meeste van die oorblywende handelaars uit Fietas. 'n Spontane protesoptog vind in 1977 plaas van Pageview na die Oriental Plaza, deur die Plaza en terug na Pageview om inwoners se misnoeë met die uitsettings te toon.[1]
Teen 1981 woon 67 Indiërgesinne nog steeds onwettig in Pageview. In Desember van die jaar word uitsettingsbevele aan die oorblywende gesinne uitgereik in terme waarvan hulle gedwing sou word om te skuif as hulle nie aan die voorwaardes voldoen nie. Die gesinne slaag egter in 'n aansoek in die Randse Hooggeregshof daarin om uitvoering van die bevel te verhoed. Ook in 1981 word die Pageview Moskees deur sloping bedreig vir die bou van 'n snelweg. Na protes deur die SPA en verskeie Moslemorganisasies word daar egter bevind dat in terme van die beskerming van godsdiensregte die geboue nie gesloop mag word nie.[1] In Februarie 1982 begin die Departement van Gemeenskapsontwikkeling om paaie op te knap en slote rondom die oorblywende inwoners van Pageview se huise te grawe. 'n Hofgeding bepaal dat die slote geskuif moet word. In Julie 1982 sterf 'n moeder en haar vierjarige dogter toe 'n heining tydens die sloping van 'n buurhuis op hulle val. Die eerste witmense ontvang in die jaar huurregte en begin teen die einde van 1982 in te trek.[1] Die laaste handelaar in Pageview, Baba Saheb, verlaat sy familie se slaghuis eers in 1984 toe hy uit die winkel gesluit is nadat hy 'n uitsettingsbevel verontagsaam het. Die saak is hof toe geneem en hoewel die hof die Department van Gemeenskapsontwikkeling beveel het om die winkel te heropen, het Mnr. Saheb geen ander keuse gehad as om sy besigheid na Lenasia te verskuif nie.[1]
Verwysings
wysig- ↑ 1,0 1,1 1,2 1,3 1,4 1,5 1,6 1,7 1,8 SA History, FIETAS Chronology Geargiveer 6 November 2013 op Wayback Machine, besoek op 2 Junie 2012
Eksterne skakels
wysig- Geskiedenis en oorsig van Johannesburg se westelike middestad insluitend Pageview Geargiveer 7 Oktober 2006 op Wayback Machine
- Geskiedenis van Fietas Geargiveer 24 September 2006 op Wayback Machine
- Swart woonbuurte van Johannesburg, insluitend Fietas Geargiveer 14 Maart 2007 op Wayback Machine