Gereformeerde kerk Bloemfontein-Oos
Die Gereformeerde kerk Bloemfontein-Oos was die derde oudste gemeente van die GKSA in die Vrystaat se hoofstad, Bloemfontein, maar het in 2007 ontbind, waarna lidmate ingeskakel het by die moedergemeente Bloemfontein, wat op sy beurt in 2013 ontbind het.
Gereformeerde Kerk Bloemfontein-Oos | ||
Sluit in | Bob Reigerpark Lugmagbasis Bloemspruit Grootvlei-gevangenis Bloemspruit-hoewes | |
Klassis | Suid-Vrystaat | |
Belydende lidmate | 143 (2001) | |
Dooplidmate | 41 (2001) | |
Adres | Hoewe 162 Ou Thaba Nchuweg Bloemspruit | |
Geskiedenis | ||
Stigtingsdatum | 1949 | |
Afgestig van | Bloemfontein | |
Eerste predikant | J.J.H. Booysen, James John Herman (1950–1969) | |
Datum ontbind | 2007 |
Die Gereformeerde kerk Bloemfontein het in die veertigerjare buitedienste begin hou op Shannon, ’n kleinhoewegebied aan die oostekant van die stad, noord van Heidedal en oos van Bloemspruit. Tydens die Tweede Wêreldoorlog was dit swaar om ’n boupermit te kry; daarom het die kerkraad van die moedergemeente ’n sinkpakhuis by ene Glover gekoop. In 1949 het Bloemfontein-Oos afgestig. Later kon die moedergemeente die eerste, beskeie saalkerk oprig wat tot 1966 in gebruik was. Vir dié gebou het die Gereformeerde kerk Burgersdorp hul ou preekstoel skenk. Dit het van vanaf 1965 tot 2005 in ’n pakhuis op ’n plaas gestaan en is toe aan Burgersdorp teruggegee, wat dit gerestoureer en aan die Gereformeerde kerk Graaff-Reinet geskenk het.
Nadat die ou saalkerk te klein geraak het, is ’n nuwe gebou in 1965 opgerig. Einde 1997 het die gemeente 140 belydende en 57 dooplidmate gehad en die moedergemeente onderskeidelik 181 en 32. Kort voordat die moedergemeente ook ontbind het (2013), was daar net 102 belydende en 19 dooplidmate.
Die gemeente het die gebiede Bob Rogerspark en die Bloemspruit-hoewes asook die Grootvlei-gevangenis en Lugmagbasis Bloemspruit beslaan.
Predikante
wysig- Booysen, James John Herman, 1950 – 20 September 1969 (oorlede in die amp)
- Aucamp, dr. Marius, 1970 – 1974
- Coetzee, Jan Hendrik, 1976 – 1984 (aanvaar sy emeritaat)
- Lourens, dr. Pieter Kruger, 1984 – 2008 (waarna Bloemfontein/Brandfort 2008 – 2013)
Bronne
wysig- (af) Harris, C.T., Noëth, J.G., Sarkady, N.G., Schutte, F.M. en Van Tonder, J.M. 2010. Van seringboom tot kerkgebou: die argitektoniese erfenis van die Gereformeerde Kerke. Potchefstroom: Administratiewe Buro.
- (af) Schalekamp, ds. M.E. (voorsitter: redaksiekommissie). 2001. Die Almanak van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika vir die jaar 2002. Potchefstroom: Administratiewe Buro.
- (af) Van der Walt, dr. S.J. (voorsitter: deputate almanak). 1997. Die Almanak van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika vir die jaar 1998. Potchefstroom: Administratiewe Buro.
- (af) Vogel, Willem (red.). 2014. Die Almanak van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika vir die jaar 2015. Potchefstroom: Administratiewe Buro.
Eksterne skakels
wysig- (en) Die destydse Gereformeerde kerk Bloemfontein-Oos aan die Ou Thaba Nchupad, Shannon, Bloemspruit. URL besoek op 12 Desember 2015.