Gereformeerde kerk Cradock/Somerset-Oos
Die Gereformeerde kerk Cradock/Somerset-Oos was die vyfde oudste gemeente in die GKSA se Klassis Karoo-Kei. In 2015 het Cradock/Somerset-Oos net 20 belydende en twee dooplidmate gehad en was dit ook die kleinste van die 12 gemeentes in die Klassis. Buiten die twee hoofdorpe, Cradock en Somerset-Oos, sluit die gemeentegrense ook onder meer die dorpe Adelaide, Bedford en Cookhouse in.
Gereformeerde lidmate van Cradock is tot 1898 as verspreidwonendes van die Gereformeerde kerk Middelburg, Kaap, beskou, maar in daardie jaar het hulle ’n wyk met ’n eie ouderling geword. Vroeg in die 1960's het Cradock sy eie Gereformeerde kerk gekry al het die wyk Cradock, toe nog deel van Middelburg, in 1960 net 18 doop- en 25 belydende lidmate gehad. Die kerkgebou is veral opgerig met die oog daarop dat die Kerk hier moes omsien na die klompie Gereformeerde seuns aan die Hoër Landbouskool Marlow.
Prof. S.J. van der Walt het die kerkgebou se hoeksteen op 21 November 1964 gelê. Die argitek was ene P.A. Gouws en die bouaannemers B.F. Lutz en W. Smith. Die koste van die kerkgebou, met meublement ingesluit, het R10 644 beloop.
In 1972 (volgens die bron, maar dit moet waarskynlik 1962 wees) het Middelburg tydelike reëlings met Steynsburg getref om Cradock se bediening oor te neem, maar Cradock is net as wyk van Steynsburg bedien tot dit op 24 November 1964 ’n selfstandige gemeente geword het.
Die aftrede van ds. D.H.P. Wijnbeek in 2012 was nie net ’n groot terugslag vir Steynsburg wat sedertdien vakant is nie, maar ook vir Cradock/Somerset-Oos, want hy het Cradock elke Sondag bedien en Somerset-Oos elke tweede Sondag. Hy was ook verantwoordelik vir die Gereformeerde kerk Molteno.
Bronne
wysig- (af) Harris, C.T., Noëth, J.G., Sarkady, N.G., Schutte, F.M. en Van Tonder, J.M. 2010. Van seringboom tot kerkgebou: die argitektoniese erfenis van die Gereformeerde Kerke. Potchefstroom: Administratiewe Buro.
- (af) Schalekamp, ds. M.E. (voorsitter: redaksiekommissie). 2001. Die Almanak van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika vir die jaar 2002. Potchefstroom: Administratiewe Buro.
- (af) Van der Walt, dr. S.J. (voorsitter: deputate almanak). 1997. Die Almanak van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika vir die jaar 1998. Potchefstroom: Administratiewe Buro.
- (af) Venter, ds. A.A. (hoofred.) 1960. Almanak van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika vir die jaar 1961. Potchefstroom: Administratiewe Buro.
- (af) Vogel, Willem (red.). 2014. Die Almanak van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika vir die jaar 2015. Potchefstroom: Administratiewe Buro.
- (af) Vogel, Willem (red.). 2015. Die Almanak van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika vir die jaar 2016. Potchefstroom: Administratiewe Buro.