Geskiedenis van Nederlands

Nederlands is 'n Indo-Europese, Germaanse taal wat hoofsaaklik gepraat word in Nederland, Vlaandere en Suriname. Dit is nou verwant aan die ander Wes-Germaanse tale: Engels, Fries, Duits, Nedersaksies, Luxemburgs, Jiddisj en die dogtertaal Afrikaans.

Nederlands se vroeë voorloper is Oudnederfrankies, 'n versameling Istwaeoonse dialekte wat na 500 ontstaan het as gevolg van dialektiese differensiasie binne die Wes-Germaanse groep. Dit kan onder meer toegeskryf word aan twee ontwikkelings: die Ingweoonse klankverskuiwings om die Noordsee, en die Hoogduitse klankverskuiwing in Suid-Duitsland, Switserland en Oostenryk, wat in die teenoorgestelde rigting beweeg het. Frankies word vanaf 800 saam met die Ingweoonse kusdialek ook Oudnederlands genoem, wat vanaf 1150 tot die dialekte van Middelnederlands ontwikkel het.

Vanaf 1550 het Nuwe Nederlands uit hierdie dialekte ontwikkel onder die invloed van 'n strewe na eenvormigheid en standaardisering. Hierdie taal was eers onder die sterk invloed van die Vlaamse en Brabantse dialekte en later Hollands. Daarby het Limburgs 'n rol gespeel, en in 'n mindere mate ook die Noordoostelike dialek Nedersaksies. Gesproke taal en skryftaal het geleidelik uitmekaar gegroei, tot so 'n mate dat 'n skryftaal ontstaan het wat vandag styf en kunsmatig lyk, hoofsaaklik as gevolg van die sterk invloed van die Franse woordeskat en Latynse grammatika. 'n Omgekeerde ontwikkeling het plaasgevind vanaf die einde van die 19de eeu, toe spreektaal en skryftaal weer in moderne Nederlands saamgevloei het.

Verwantskap met die Germaanse taalgroep

wysig
 
Kaart van die Voor-Romeinse Ystertydperk kultuur(e) wat geassosieer word met Proto-Germaans, ongeveer 500 v.C.–50 v.C. Die gebied suid van Skandinawië is die Jastorf-kultuur.

Binne die Indo-Europese taalboom word Nederlands gegroepeer as deel van die Germaanse tale, wat beteken dat dit 'n gemeenskaplike voorouer deel met tale soos Engels, Duits en Skandinawiese tale.

Hierdie algemene, maar nie direkte, voorouer (proto-taal) van alle hedendaagse Germaanse tale word Proto-Germaans genoem, en daar word algemeen aanvaar dat dit in ongeveer die middel van die 1ste millennium v.C. ontstaan het in die Ystertydperk van Noord-Europa.[1]

Wes-Germaans

wysig

Vanaf die tyd van hul vroegste optekening word die Germaanse dialekte in drie groepe verdeel, Wes-, Oos- en Noord-Germaans. Hulle presiese verwantskap is moeilik om te bepaal uit die yl bewyse van rune-inskripsies, en hulle het tot 'n sekere mate onderling verstaanbaar gebly gedurende die Migrasietydperk. Dit beteken dat sommige individuele dialekte moeilik is om te klassifiseer. Die westerse groep het ontwikkel as 'n dialek van Proto-Germaans in die laat Jastorf-kultuur (ongeveer 1ste eeu v.C.).

Gedurende die Vroeë Middeleeue het die Wes-Germaanse tale uiteen gegroei weens die afgesonderde ontwikkeling van Ou Engels (Anglo-Saksies) en die naverwante Oud-Fries, asook die Hoogduitse klankverskuiwing.

Verwysings

wysig
  1. "Languages of the World: Germanic languages". The New Encyclopædia Britannica. (1993). Chicago, IL, Verenigde State: Encyclopædia Britannica, Inc. ISBN 0-85229-571-5.  Hierdie jarelange, bekende artikel oor die tale kan gevind word in byna enige uitgawe van Britannica.