Ivoriaanse Rugbyfederasie
Die Ivoriaanse Rugbyfederasie (Frans: Fédération ivoirienne de rugby, afgekort “FIR”) is die bestuursliggaam wat rugby en sewesrugby in Ivoorkus beheer. Die beheerliggaam is in 1961 gestig en in Abidjan gesetel. Sedert 1988 verteenwoordig dit Ivoorkus by Wêreldrugby en sedert 1986 ook by Rugby Afrika (“RA”).
Ivoriaanse Rugbyfederasie | |
---|---|
Kenteken van die Ivoriaanse Rugbyfederasie
| |
Franse naam | Fédération Ivoirienne de Rugby |
Afkorting | FIJ |
Land | Ivoorkus |
Sportsoorte | Rugby, Sewesrugby |
Stigting | 1961 |
Lid van | Wêreldrugby |
Aangesluit in | 1988 |
Vastelandse beheerliggaam | Rugby Afrika |
President | Marcellin Zahui |
Setel | Abidjan, Ivoorkus |
Amptelike taal | Frans |
Geskiedenis
wysigDie Ivoriaanse Rugbyfederasie is in 1961 gestig en het in 1988 ’n volle lid van die Internasionale Rugbyvoetbalraad (IRVR; nou Wêreldrugby) geword.[1] Daarbenewens was die Ivoriaanse Rugbyfederasie ’n stigtingslid van die kontinentale beheerliggaam Konfederasie van Afrikarugby (Engels: Confederation of African Rugby; Frans: Confédération Africaine de Rugby; nou Rugby Afrika) wat in 1986 in Tunis deur agt beheerliggame gestig is.[2]
Taak
wysigDie Ivoriaanse Rugbyfederasie organiseer verskeie nasionale spanne, insluitend Ivoorkus se nasionale seniorrugbyspan vir mans (die Olifante), vroue en jeug. Die FIR hou ook toesig oor sewesrugby in Ivoorkus en aangesien dit ’n Olimpiese sportsoort is, werk hulle met die Ivoriaanse Nasionale Olimpiese Komitee saam. Naas die amptelike nasionale span roep die Ivoriaanse Rugbyfederasie ook ander keurspanne byeen. Daarbenewens bestuur die beheerliggaam kinder- en jeugrugby in Ivoorkus. Kinders en jongmense word reeds op skool aan rugby bekend gestel en na gelang van hul belangstelling en talent begin hul met hul afrigting. Net soos ander rugbylande beskik Ivoorkus oor ’n o/20-nasionale span wat aan die Wêreldrugby o/20-kampioenskap deelneem.[3]
Die nasionale rugbykampioenskap in Ivoorkus (Championnat National de Rugby a XV) word in twee afdelings tussen altesaam 20 spanne met promosie en relegasie beslis. Die eerste afdeling Ivoorse Rugbyliga (Ligue ivoire rugby, LIR) word tussen agt spanne beslis en die tweede afdeling Rugbyskool (École de rugby) tussen twaalf spanne.[4] Die meeste spelers van die Ivoriaanse nasionale span is uit dié liga afkomstig. Van die ander spelers is veral in Frankryk aktief.
Kenteken
wysigDie Ivoriaanse Rugbyfederasie se kenteken toon ’n rugbyspeler met doelpale op die agtergrond en ’n Afrika-olifant, Ivoorkus se wapendier. Die nasionale span se bynaam is Les éléphants (“die olifante”).
Verwysings
wysig- ↑ (en) "Ivory Coast". Wêreldrugby. Besoek op 20 Maart 2024.
- ↑ (en) "Rugby Africa Unions". Rugby Afrika. 2020. Besoek op 20 Maart 2024.
- ↑ (en) "World Rugby U20 Championship". Wêreldrugby. Besoek op 20 Maart 2024.
- ↑ (fr) "Bilan moral de la saison sportive 2018–2019" (PDF). Ivoriaanse Rugbyfederasie. Besoek op 20 Maart 2024.
Eksterne skakels
wysig- (fr) Amptelike webwerf van die Ivoriaanse Rugbyfederasie Geargiveer 18 Oktober 2021 op Wayback Machine