Jennifer Zamudio

Suid-Afrikaanse sangeres

Jennifer Leonie Zamudio is ’n Afrikaanse sangeres van Suid Afrika. Sy is op Gansbaai, Suid-Afrika, gebore en het op die Weskus-dorpie Laaiplek/Velddrif grootgeword. Haar van is van Spaanse afkoms en word foneties uitgespreek as “Za-moe-die-hou”. Sy het in 1989 aan die Hoërskool Swartland op Malmesbury gematrikuleer en woon die afgelope 33 jaar in Pretoria.

Jennifer Zamudio
GeboortenaamJennifer Leonie Zamudio
Gebore15 Januarie 1972 (1972-01-15) (52 jaar oud)
Gansbaai, Suid-Afrika
GenresPop
Beroep(e)Sangeres
InstrumenteStem
Jare aktief2000 - nou
EtiketteJennifer Zamudio, Sting Music, Universal Music, Markon Records
Webwerfjenniferzamudio.co.za

Loopbaan

wysig

Jennifer sing reeds die afgelope 23 jaar professioneel. Sy het haar sangloopbaan by Anneli van Rooyen se sangskool, Promuzik in Pretoria, begin. Sy in 2000 tydens die KKNK op Oudtshoorn deur die musiekpromotor Lydia Winchester raakgesien en dit het gelei tot haar eerste platekontrak.

Haar musiek is lewendig en energiek, maar sy sing ook ballades. Sy skryf van haar eie liedjies en kan kitaar speel. Sy het reeds 14 solo-albums agter haar naam: Leef, Jy is die een, Ek het jou gevind, Hart se loper, Hoor hoor, Hier's my hart, ’n Dekade van musiek (’n dubbele CD ter viering van haar 10 jaar in die Afrikaanse musiekbedryf), Die lewe is ’n liedjie, Hart en siel, 15 Jaar spesiale uitgawe (ter viering van haar 15 jaar in die Afrikaanse musiekbedryf), Ongelooflik, Goud is my woorde, Twintigeenentwintig en Hartswater. Sy is ook al ingesluit op 16 verskillende kompilasie-albums.

Haar 2013 liedjie "Hart en siel", wat spesiaal vir haar geskryf is deur die liedjieskrywer Rudi Claase, was 22 weke lank in die no. 1-posisie op Bosveld Stereo se Top 20. Dit het ook gelei tot die enkelsnit “Sê dit harder” in 2015 wat ook deur Claase geskryf is. Die lied het ook kort ná uitreiking die verskeie no. 1-posisies behaal.

In 2016 het Jennifer ’n spesiale projek saam met Allen McKendree van PGI Global in Nashville, VSA, aangepak en haar 11de CD, Ongelooflik uitgereik. Sy het met dié projek ook haar eerste registrasie as liedjieskrywer by ASCAP, die Amerikaanse weergawe van SAMRO, gekry.

In April 2017 het Jennifer ’n Ghoema-musiektoekenning in die kategorie beste country-album gewen vir haar album Ongelooflik en een vir die publiek se gunsteling- vroulike kunstenaar.

In Junie 2018 reik sy haar album Goud is my woorde uit. Hierdie album sluit liedjies in uit haar eie pen sowel as die van Rudi Claase, Stefan Visagie, Tertius Pretorius, Marno van der Merwe en Juandré Marais. Bo en behalwe die twaalf oorspronklike snitte op die album, waag sy haar stem aan Anneli van Rooyen se “Ek glo” en Neil Diamond se “I am I said” wat positiewe reaksie uitlok by die publiek. Die album roer vanaf uitreiking verskeie trefferparades met die eerste enkelsnitvrystelling “Altyd myne”. In Augustus word die musiekvideo van “Altyd myne” bekendgestel en die publiek hoor haar gereeld op radiostasies regoor Suid-Afrika.

In Februarie 2019 word Jennifer benoem vir ‘n Ghoema-toekenning vir haar album Goud is my woorde in die kategorie “Beste Kontemporêre Album deur ‘n Vroulike Kunstenaar” asook vir “Publiek se Gunsteling Vroulike Kunstenaar”. Sy stap in April 2019 weg met die Ghoema-toekenning vir “Publiek se Gunsteling Vroulike Kunstenaar”.

Einde Maart 2020 word die enkelsnit, “Daar’s ‘n rede”, ‘n duet met Jennifer Zamudio en Henri Alant vrygestel. Die Rudi Claase -skepping bevestig weereens hoekom Rudi beskou word as een van die vooraanstaande liedjieskrywers in die Afrikaanse musiekbedryf. Zamudio en Alant se stemme, saam, bring hierdie lied tot volle reg en die lied behaal nommer-een-posisies op menige radiostasies.

September 2020 word die enkelsnit, “Liefdeshartaanval”, ‘n duet met Jennifer Zamudio en Riaan Grobler (in samewerking met Universal Musiek) vrygestel. Die lied verras talle luistenaars en was baie suksesvol, en was ook later opgevolg met ‘n musiekvideo.

Oktober 2020 word die solo-enkelsnit, “Dalk” vrygestel. Die Tertius Pretorius lied tref menige harte van dag een af. Die lied behaal tans verskeie nommer-een-posisies en staan reeds sterk op verskeie trefferparades. Met 10 weke op Radio Rosestad se Top 20, breek sy Andriëtte Norman se rekord van 7 weke in die nommer-een-posisie. Jennifer het ‘n musiekvideo van Dapper Media gewen, en het hierdie prys aangewend vir die musiekvideo van “Dalk”.

27 Augustus 2021 word haar solo-enkelsnit, “As ek huil” vrygestel. Jennifer en Tertius Pretorius het hierdie lied geskryf.

4 Oktober 2021 verras Jennifer haar Zamjammers met die vrystelling van haar twintigeenentwintig-CD wat ‘n versameling van haar grendeltydgunstelinge asook al haar vrygestelde enkelsnitte van die voorafgaande 18 maande bevat.

Op 12 April 2022, stap Jennifer weg met ‘n Afri-Indie-Musiektoekenning in die kategorie “Best Female Pop Album” vir haar album TWINTIGEENENTWINTIG.

In Junie 2022, word Jennifer benoem vir twee SAMA’s (South African Music Awards) in die kategorieë “Beste Kontemporêre Musiek Album” vir haar CD “TWINTIGEENENTWINTIG” asook vir “SAMPRA Artist of the Year

4 April 2023 stap Jennifer weg met twee Afri-Indie Musiek Toekennings, “Best Adult Contemporary Artist (Female)” en "Best Pop Single (Female)" vir “Weerkaats

Diskografie

wysig
  • 2001: Leef (Sting Music)
  • 2002: Jy Is Die Een (Sting Music)
  • 2003: Ek Het Jou Gevind (Sting Musiek)
  • 2005: Hart Se Loper (Jennifer Zamudio)
  • 2006: Hoor hoor (Jennifer Zamudio)
  • 2008: Hier's My Hart (Markon Records)
  • 2010: 'n Dekade van musiek (Dubbel CD; Markon Records)
  • 2011: Die lewe is 'n liedjie] (Zamudio Musiek)
  • 2013: Hart en siel (Zamudio Musiek)
  • 2015: 15 Jaar Spesiale Uitgawe (Jewel Music / Universal Music)
  • 2016: Ongelooflik (Jennifer Zamudio)
  • 2018: Goud is my woorde (Jennifer Zamudio)
  • 2021: Twintigeenentwintig (Jennifer Zamudio)
  • 2023: Hartswater (Jennifer Zamudio)

Bronne

wysig

Sien ook

wysig

Eksterne skakels

wysig