Keniaanse Rugbyunie

Die Keniaanse Rugbyunie (Engels: Kenya Rugby Union, afgekort “KRU”; Swahili: Shirikisho la Raga Kenya) is die bestuursliggaam wat rugby en sewesrugby in Kenia beheer. Die beheerliggaam is in 1970 gestig en in Nairobi gesetel. Sedert 1990 verteenwoordig dit Kenia by Wêreldrugby en sedert 1986 ook by Rugby Afrika (“RA”).

Keniaanse Rugbyunie
Kenteken van die Keniaanse Rugbyunie
Kenteken van die Keniaanse Rugbyunie
Engelse naam Kenya Rugby Union
Afkorting KRU
Swahili-naam Shirikisho la Raga Kenya
Land Vlag van Kenia Kenia
Sportsoorte Rugby, Sewesrugby
Stigting 1970
Gestig in Nairobi, Kenia
Lid van Wêreldrugby
Aangesluit in 1990
Vastelandse beheerliggaam Rugby Afrika
Setel Nairobi, Kenia
President Alexander Mutai
Hoof- uitvoerende beampte Thomas Odundo
Amptelike tale Engels en Swahili
Amptelike webwerf kru.co.ke

Geskiedenis

wysig

Die Rugbyvoetbalunie van Kenia (Engels: Rugby Football Union of Kenia, “RFUK”) is oorspronklik in Augustus 1921 gestig en het teen 1923 operasioneel geword met die vorming van die eerste Nairobi-klubs, Nondescripts RFC en Harlequin RFC. In 1953 het die rugbyunies van Tanganjika en Uganda by die RFUK aangesluit om die Rugbyvoetbalunie van Oos-Afrika (Engels: Rugby Football Union of East Africa, “RFUEA”) te word, ter verteenwoordiging van die kolonies van Brits-Oos-Afrika.[1] In 1956 is die RFUK ontbind omdat die meeste distriksunies reeds direk aan RFUEA verbind was. In 1970 is die huidige Keniaanse Rugbyunie in Nairobi gestig en het in 1990 ’n volle lid van die Internasionale Rugbyvoetbalraad (IRVR; nou Wêreldrugby) geword.[2] Daarbenewens was die Keniaanse Rugbyunie ’n stigtingslid van die kontinentale beheerliggaam Konfederasie van Afrikarugby (Engels: Confederation of African Rugby; Frans: Confédération Africaine de Rugby; nou Rugby Afrika) wat in 1986 in Tunis deur agt beheerliggame gestig is.[3]

In 2016 het die Keniaanse Rugbyunie ’n borgskapstransaksie met Sportpesa ter waarde van KES 607 miljoen aangekondig; dit is die winsgewendste borgskapstransaksie in die Keniaanse rugbygeskiedenis, en sal nie net die sewes- en mansspanne borg nie, maar ook die vroue- en jeugspanne.[4] In September dieselfde jaar het Keniaanse Rugbyunie formeel aansoek gedoen om aan die Suid-Afrikaanse Curriebeker deel te neem.[5]

Die Keniaanse Rugbyunie organiseer verskeie nasionale spanne, insluitend Kenia se nasionale seniorrugbyspan vir mans (die Simbas), vroue en jeug. Die KRU hou ook toesig oor sewesrugby in Kenia en aangesien dit ’n Olimpiese sportsoort is, werk hulle met die Keniaanse Nasionale Olimpiese Komitee saam. Naas die amptelike nasionale span roep die Keniaanse Rugbyunie ook ander keurspanne byeen. Daarbenewens bestuur die beheerliggaam kinder- en jeugrugby in Kenia. Kinders en jongmense word reeds op skool aan rugby bekend gestel en na gelang van hul belangstelling en talent begin hul met hul afrigting. Net soos ander rugbylande beskik Kenia oor ’n o/20-nasionale span wat aan die Wêreldrugby o/20-kampioenskap deelneem.[6] Die Kenia Sevens is die Keniaanse sewesrugbyspan.

Die beheerliggaam reël ook die plaaslike kompetisies. Die hoogste rugbyliga in Kenia is die Keniaanse Beker met elf klubspanne. Spelers met groter ambisies draf uit vir die keurspan Simbas wat aan die Suid-Afrikaanse Curriebeker deelneem. Sedertdien is die meeste spelers van die Keniaanse nasionale span uit dié keurspan afkomstig of speel vir ander Suid-Afrikaanse spanne.[7] Van die ander spelers is veral in Europa aktief. Die unie deel ’n tuisveld, die RFUEA-veld in Nairobi, met Kenia Harlequins.

Kenteken

wysig

Die Keniaanse Rugbyunie se kenteken toon ’n Leeu, Kenia se wapendier, en die belettering KENYA RUGBY. Die nasionale span se bynaam is Simbas (“die leeus”).

Sien ook

wysig

Verwysings

wysig
  1. (en) John Nauright (6 April 2012). Sports around the World: History, Culture, and Practice [4 volumes]: History, Culture, and Practice. ABC-CLIO. pp. 146–. ISBN 978-1-59884-301-9.
  2. (en) "Kenya". Wêreldrugby. Besoek op 20 Maart 2024.
  3. (en) "Rugby Africa Unions". Rugby Afrika. 2020. Besoek op 20 Maart 2024.
  4. (en) Isaac Swila (20 Julie 2016). "Betting firm SportPesa, KRU sign Sh600m deal". Daily Nation. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 29 Desember 2019. Besoek op 29 Desember 2019.
  5. (en) William Nuguna (6 September 2016). "Kenya eye Currie Cup". The Star. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 29 Desember 2019. Besoek op 29 Desember 2019.
  6. (en) "World Rugby U20 Championship". Wêreldrugby. Besoek op 20 Maart 2024.
  7. (en) "Kenya's rugby 15s squad unveiled ahead of Currie Cup". Pulselive Kenya. 6 April 2022. Besoek op 20 Maart 2024.

Eksterne skakels

wysig