Lawrence Durrell
Lawrence George Durrell (27 Februarie 1912 – 7 November 1990) was 'n Britse romanskrywer wat bekendheid vir sy reisverhale, poësie, toneelstukke en jeuglektuur verwerf het. Die grootste deel van sy lewe het hy buite Engeland gewoon en is internasionaal bekend vir sy romansiklus The Alexanderia Quartet.
Lawrence Durrell | |
---|---|
Gebore | Lawrence George Durrell 27 Februarie 1912 Jalandhar, Punjab, Brits-Indië |
Sterf | 7 November 1990 (op 71) Sommières, Frankryk |
Nasionaliteit | Verenigde Koninkryk |
Beroep | Biograaf, digter, dramaturg, romanskrywer |
Bekend vir | The Alexandria Quartet |
Eggenoot | Nancy Isobel Myers (1935–1947; geskei) Eve "Yvette" Cohen (1947–1955; geskei) Claude-Marie Vincendon (1961–1967; haar dood) Ghislaine de Boysson (1973–1979; geskei) |
Webwerf | lawrencedurrell.org |
Lawrence George Durrell is van Ierse afkoms en is op 27 Februarie 1912 in Punjab, Brits-Indië, gebore. In die jare twintig het die gesin na Engeland teruggekeer. Durrell het vroeg in sy lewe al begin skryf en in die kunstenaarskringe in Londen en Parys beweeg. Die Amerikaans-Kubaanse skryfster Anaïs Nin en Henry Miller het 'n groot invloed op hom uitgeoefen.
Van 1935 tot 1956 was hy predikant en diplomatieke amptenaar op Corfu, Rhodus, Ciprus en die Griekse vasteland. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog het hy in Alexandrië gewoon en ná die oorlog ook in Argentinië en die destydse Joego-Slawië. In 1956 het hy 'n tyd lank in Dorset, Engeland, gewoon en Justine en Bitter Lemons geskryf. Daarna het hy hom in Provence, Frankryk, gevestig.
Durrell se poësie wissel van kort, liriese gedigte tot beskrywende en satiriese werk. Net soos W.H. Auden gebruik hy graag 'n landskap as simboliese agtergrond om aan 'n gevoel uitdrukking te gee. Sy naam as digter is in 1943 gevestig met die bundel A private Country. In 1950 het sy versdrama Sappho verskyn en in 1960 sy Collected Poems. Sy ervarings in die buitelandse diens het hy in die satiriese verhalebundels Esprit de corps (1957) Stift upper Lip (1958) en Sauve qui peut (1966) verwerk, terwyl sy ervarings in die Middellandse Seegebied weergegee word in boeke soos Reflections on a marine Venus (1953) en Bitter Lemons.
Durrell se belangrikste romans, wat saam The Alexandria Quartet vorm, is Justine (1957), Balthazar, Mountolive (albei 1958) en Clea (1960), wat hulle almal afspeel teen die agtergrond van die dekadente Alexandrië ná dekolonisasie. Die tema van 'n beskawing se verval word voortgesit in Tunc (1968) en Nunquam (1970). Verder het hy ook die jeugroman White Eagles over Serbia (1957), die roman The dark Labyrinth (1958) en die toneelstukke An Irish Faustus (1963) en Acte (1964) geskryf.
Gedurende die sewentigerjare het hy weer begin met 'n aantal aaneengeskakelde romans, waarvan Monsieur (1974) die eerste was.
Durrell was vier keer getroud en het ’n dogter by elk van sy eerste twee vroue gehad. Hy het baie jare aan emfiseem gely en in November 1990 het hy in sy huis in Sommières aan ’n beroerte oorlede.
Bronnelys
wysig- Wêreldspektrum, Vol. 5, 180, ISBN 0 908409 46 X
Eksterne skakels
wysig- Wikimedia Commons het meer media in die kategorie Lawrence Durrell.
- (en) Persoonlike webwerf
- (en) "Lawrence Durrell". Encyclopædia Britannica. Besoek op 16 September 2019.
- (en) Lawrence Durrell by Find a Grave