Lydia van der Vyver
Lydia van der Vyver (*Reddersburg, Oranje-Vrystaat, datum onbekend – plek en datum onbekend) was ’n vroueleier in die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika.
Lydia du Plessis was ’n dogter van mnr. en mev. L.J. du Plessis van Reddersburg. Sy het aan die Potchefstroomse Universiteit studeer en die B.A. en Uniale Onderwysdiploma behaal. Sy het ook ’n diploma in musiek verwerf en dikwels as orreliste opgetree. In 1946 is sy met dr. G.C.P. van der Vyver getroud en uit dié huwelik is twee dogters gebore. Mev. Van der Vyver was agtereenvolgens pastoriemoeder van Colesberg (waar haar man leraar was van 1943 tot die jaar van hul huwelik), Innesdal (1946–'49), Pretoria-Brooklyn (1949–'55) en Bloemfontein-Suid (1955–'70). Hierna het sy en haar man na Potchefstroom verhuis waar hy van 1971 tot sy dood op 2 September 1975 aan die Gereformeerde Kerke se Teologiese Skool verbonde was.
Van der Vyver is omstreeks 1958 verkies tot voorsitster van die provinsiale komitee van die Sustersorganisasies van die Oranje-Vrystaat.
Bron
wysig- (af) Die Gereformeerde Vroueblad. 1959. Die Gereformeerde vrou 1859-1959. Potchefstroom: Potchefstroom Herald.