Marlize Hobbs
Marlize Hobbs (*6 Mei 1972, Louwna –) is 'n bekroonde Suid-Afrikaanse skrywer. Sy verower onder meer die Eugène Marais-prys met haar debuut novelle, Flarde. Hobbs is ook bekend vir haar bydrae tot die LitNet webblad.
Lewe en werk
wysigHerkoms en vroeë lewe
wysigMarlize Hobbs is 'n Suid-Afrikaanse skrywer en is op 6 Mei 1972 op 'n plaas in die omgewing van Louwna[1] gebore as een van 'n tweeling. Haar tweelingbroer se naam is Ben. Sy word groot op haar geboorteplaas en gaan tot standerd vyf skool op Laerskool Louwna, wat net vyftig leerlinge en drie onderwysers gehad het. In standerd vyf word sy met epilepsie gediagnoseer. Sy voltooi matriek aan die Hoërskool Vryburg in die Noord-Kaap. Daarna is sy vanaf 1991 vir twee jaar lank sendeling in Hillbrow by die Middestad-Evangelisasie en Sendingaksie.
Verdere studie en loopbaan as maatskaplike werker
wysigSy studeer dan maatskaplike werk aan die Randse Afrikaanse Universiteit en skryf in hierdie tyd vir Heraut se Kunsredaksie. Terwyl sy op universiteit is, bly sy in die koshuis. Na universiteit werk sy vir 'n ruk in 'n plaaswinkel om geld te verdien en hierna reis sy rond vir twee jaar. In hierdie tyd ontmoet sy vir Jeanne Goosen, vir wie sy van haar gedigte stuur. Dit is die begin van 'n lang mentorskap. In 1998 en 1999 werk sy as televisie produksie assistent in Durban by Heine TV-produksies. Dan word sy vir vier jaar 'n maatskaplike werker in die woonbuurt Ganyesa sowat tagtig kilometer buite Vryburg. In hierdie hoedanigheid is sy veral verantwoordelik vir die opstel van voorvonnis-verslae vir die hof. Op Ganyesa is sy die enigste blanke persoon in die kantoor en bly sy in een van die tien huise op die dorp, wat sy van die plaaslike hospitaal huur. In 2002 kry sy 'n oorplasing na Vryburg en later word sy maatskaplike werker vir Noordwes se regering op Potchefstroom.
Persoonlike lewe
wysigSy ly aan epilepsie en raak dan verslaaf aan pyn pille, waarna sy haar aanmeld vir behandeling om die gewoonte af te skud. Na die sukses van haar debuutbundel tree sy per geleentheid op as aanbieder by die Winterskool van die Kreatiewe Skryfskool van die Universiteit van Pretoria en by die Sanlam Aanlynskryfskool[2] op LitNet.[3] Sy neem 'n wees swart kind aan as haar eie.
Skryfwerk
wysigTerwyl sy werkloos is skryf sy 'n soort tuisgemaakte koerant wat sy vir vriende aanstuur, wat sy Flardes uit die vlaktes noem. Daarin plaas sy stories en advertensies wat sy self uitdink. So neem die idee vir 'n boek vorm by haar aan.
Prosa
wysigHaar debuut maak sy met die novelle Flarde,[4][5] die verhaal van die maatskaplike werker Lisa van Ganyesa en die inwoner Mama Minoto wat hoenderpote verkoop om aan die lewe te bly.[6] As maatskaplike werker raak Lisa diep betrokke by die gemeenskap se diepste probleme, soos gesinsgeweld, dronkenskap, verraad, vigs en armoede. Flardes van verhale word aan haar vertel en sy moet probeer sin maak daaruit, maar soms verstaan sy die situasie heeltemal verkeerd.[7] Dit alles terwyl sy steeds probeer om die flarde van haar eie lewe bymekaar te maak. Flarde verower in 2006 die Eugène Marais-prys en in dieselfde jaar word die Universiteit van Johannesburg-prys vir debuutwerk en die Jan Rabie/Rapport-prys vir innoverende Afrikaanse prosa ook aan hierdie boek toegeken.[8] Die boek word geprys vir sy tegniese vernuf, besonderse aanwending van taal en die oorspronklikheid daarvan.[9][10]
Score my 'n gwai[11][12][13] het twee vertellers, naamlik Miesa, 'n wit meisie wat in die laat sewentigerjare op 'n plaas in Noordwes grootword, en Siena Maamogwe, die Tswana-vrou wat haar grootmaak.[14]Siena is meer 'n ma vir Miesa as wat haar regte ma is. Miesa is anders, want sy leef in haar eie verbeeldingswêreld terwyl sy worstel met haar lesbiese seksualiteit. Sy wonder gedurig wie sy is, hoekom sy is soos wat sy is, of sy werklik só is en of sy haar dit net verbeel. Die groot wending in Miesa se lewe het gekom toe haar pa terugkeer van die grens, totaal anders as wat hy voorheen was. Ook by hom is daar 'n identiteitsverandering en hy begin vir Miesa, toe slegs nege jaar oud, in die nag verkrag. Siena is die enigste mens wat vir Miesa werklik raaksien en agterkom wat gebeur. Miesa se identiteit word gevorm nie net deur haar andersheid nie, maar ook deur die mense wat sy ontmoet, soos Siena, ouma Marie, Leona wat haar gevange hou in 'n obsessiewe liefdesverhouding, en uiteindelik Jasmyn, wat sy op die internet ontmoet en wat haar dadelik uitpluis. Identiteit is ook by Jasmyn 'n tema. Sy is nie gay nie, maar raak op Miesa “se siel verlief”. Uiteindelik is daar Miesa se aangenome dogter, Naledi, wat outisties is en dus haar eie afstandigheid van die wêreld beleef. Siena leef baie nader aan die wêreld met haar praktiese lewensuitkyk. Sy worstel nie met haar identiteit nie, maar help vorm aan Miesa s’n. Hierdie boek is in 2014 op die kortlys vir die toekenning van die KykNet-Rapport-prys in die rolprentkategorie.
Sy publiseer ook verhale op LitNet. Sy eksperimenteer met die konsep van digitale publikasie wanneer sy die eerste honderd bladsye van 'n nuwe roman, Divine Prostitute / The Girl in the Bird’s Nest op die internet publiseer en lesers om kommentaar vra.
Digkuns
wysigVan Hobbs se gedigte verskyn in Komsat onder direksie van Johan de Jager.
Publikasies
wysig- 2005 - Flarde
- 2013 - Score my 'n gwai
- 2016 - Suitcase vol Sterre – digbundel
- 2018 - As sy weer kom
- 2020 - Voëlvrou
Bronnelys
wysig- Nieuwoudt, Stephanie. Die skuilplek wat woorde bied. Plus, 27 Mei 2005.
- Swanepoel, Martie. Skrywersprofiel. Sarie, Junie 2005.
Verwysings
wysig- ↑ NB-Uitgewers: http://www.nb.co.za/Authors/8403 Geargiveer 28 April 2015 op Wayback Machine
- ↑ Bookslive: http://joho.bookslive.co.za/blog/2009/10/08/marlizve-hobbs-author-of-flarde-experiments-with-online-publishing/[dooie skakel]
- ↑ LitNet ATKV-Skrywersalbum 30 Maart 2011: www.litnet.co.za
- ↑ Burger, Willie. Beeld, 1 Augustus 2005.
- ↑ Viljoen, Louise. Rapport, 12 Junie 2005.
- ↑ Loots, Sonja Rapport: http://152.111.1.87/argief/berigte/rapport/2005/05/15/RP/4/01.html
- ↑ Greeff, Rachelle Rapport: http://152.111.1.87/argief/berigte/rapport/2006/06/18/R1/25/01.html
- ↑ Steinmair, Deborah LitNet: http://www.oulitnet.co.za/mond/steinmair_hobbs.asp Geargiveer 31 Augustus 2011 op Wayback Machine
- ↑ Greeff, Rachelle. Hobbs se ‘Flarde’ 3de keer bekroon. Rapport, 18 Junie 2006
- ↑ Loots, Sonja. ’n Formidabele Flarde. Rapport, 15 Mei 2005.
- ↑ De Villiers, Elizabeth. Rapport, 1 September 2013.
- ↑ Fitzpatrick, Marida. Beeld, 23 September 2013.
- ↑ Hambidge, Joan Woorde wa weeg: http://joanhambidge.blogspot.co.za/2013/10/marlize-hobbs-score-my-n-gwai-2013.html
- ↑ Green, Phyllis Sarie: http://www.sarie.com/lewe-liefdes/marlize-hobbs-gesels-oor-score-n-gwai/