Pakistanse Krieketraad
Die Pakistanse Krieketraad (Engels: Pakistan Cricket Board, afgekort “PCB”; Oerdoe: پاکستان کرکٹ بورڈ), voorheen bekend as die Raad vir Beheer van Krieket in Pakistan (Board of Control for Cricket in Pakistan, “BCCP”), is die bestuursliggaam wat krieket in Pakistan beheer. Die beheerliggaam is op 1 Mei 1949 gestig en by die Gaddafistadion in Lahore gesetel. Sedert 1952 verteenwoordig dit Pakistan by die Internasionale Krieketraad (IKR) as ’n volle lid en sedert 1983 ook by die Asiatiese Krieketraad (Asian Cricket Council, ACC).
Pakistanse Krieketraad | |
---|---|
Kenteken van die Pakistanse Krieketraad
| |
Engelse naam | Pakistan Cricket Board |
Afkorting | PCB |
Oerdoenaam | پاکستان کرکٹ بورڈ |
Land | Pakistan |
Sportsoort | Krieket |
Gestig op | 1 Mei 1949 |
Lid van | Internasionale Krieketraad |
Aangesluit op | 28 Julie 1952 |
Vastelandse beheerliggaam | Asiatiese Krieketraad |
Voorsitter | Mohammad Hafeez |
Direkteur | Zaka Ashraf |
Setel | Gaddafistadion, Lahore, Pakistan |
Amptelike tale | Engels en Oerdoe |
Amptelike webwerf | pcb.com.pk |
Geskiedenis
wysigNadat Pakistan onafhanklik geword het van die Britse Ryk in 1947, het professionele en amateurkrieket in dieselfde jaar begin, aangesien plaaslike infrastruktuur reeds gevestig was toe die land deel was van die Britse Raj. Die Pakistanse Krieketraad is op 1 Mei 1949 as Raad vir Beheer van Krieket in Pakistan gestig.[1] Op 28 Julie 1952 het Pakistan – op aanbeveling van Indië – ’n volle lid van die Internasionale Krieketraad (IKR) geword en mag dus toetskrieket speel, wat na die belangrikste en vernaamste internasionale krieketwedstryde verwys.[2] Daarbenewens was die Pakistanse beheerliggaam in 1983 ’n stigtingslid van die Asiatiese Krieketkonferensie (Asian Cricket Conference, ACC; nou Asiatiese Krieketraad).[3]
Taak
wysigDie Pakistanse Krieketraad organiseer verskeie nasionale spanne, insluitend Pakistan se nasionale seniorkrieketspan vir mans (die Shaheens, Green Shirts, Men in Green of Cornered Tigers), vroue en jeug. Hulle is ook verantwoordelik vir die bestuur en organisasie van toets-, EDI- en T20I-reekse teen ander spanne, en vir die reëling van internasionale wedstryde tuis. Daarbenewens is die Pakistanse Krieketraad verantwoordelik vir inkomsteverkryging deur die verkoop van kaartjies, borgskappe en uitsaairegte, veral in verband met die Pakistanse span.
Daarbenewens bestuur die beheerliggaam kinder- en jeugkrieket in Pakistan. Net soos ander krieketlande beskik Pakistan oor ’n o/19-nasionale span wat aan die o/19-krieketwêreldbeker deelneem.[4] Pakistan A, oftewel Pakistan Shaheens, is die tweede nasionale span van Pakistan en van hul wedstryde geniet eersterangse of A-lys-status.
Die beheerliggaam reël ook die plaaslike kompetisies. Die belangrikste krieketligas in Pakistan is die Quaid-e-Azam-trofee in eersterangse krieket (agt spanne), die Pakistanse Beker in A-lys-krieket (ses spanne) en die Pakistanse Superliga in T20-krieket (ses spanne).
Die Pakistanse Krieketraad organiseer ook gereeld internasionale toernooie. Hulle het al opgetree as gasheer van die krieketwêreldbekertoernooie in 1987 (saam met Indië) en 1996 (saam met Indië en Sri Lanka). Pakistan sal ook die komende Kampioenetrofee 2025 aanbied.[5]
Kenteken
wysigPakistan se spankenteken is ’n ster, gewoonlik in die kleure goud of groen, met die woord “Pakistan” (پاکِستان) in die middel in Oerdoe, Pakistan se nasionale taal.
Verwysings
wysig- ↑ (en) Ikram Bari Cheema (11 November 2014). "A history of cricket in Pakistan". Tribune. Besoek op 16 Februarie 2024.
- ↑ (en) "Pakistan Cricket Board". Internasionale Krieketraad. Besoek op 16 Februarie 2024.
- ↑ (en) "Inaugural Meeting of The Asian Cricket Conference on 19th and 20th September 1983, New Delhi, India". Asiatiese Krieketraad. Besoek op 16 Februarie 2024.
- ↑ (en) Martin Williamson (11 Januarie 2006). "The Under-19 World Cup". ESPNcricinfo. Besoek op 16 Februarie 2024.
- ↑ (en) Nagraj Gollapudi (16 November 2021). "USA co-hosts for 2024 T20 WC, Pakistan gets 2025 Champions Trophy, India and Bangladesh 2031 World Cup". ESPNcricinfo. Besoek op 16 Februarie 2024.