Adderleystraat
Adderleystraat is die hoofstraat van Kaapstad.[1] Dit begin by die herwonne strandgebied by Roggebaai en eindig aan die voet van Goewermentlaan. Dit het eers as Amsterdamkanaal en daarna Heerengracht bekendgestaan en langs 'n varswaterkanaal geloop wat lank gelede reeds toegegooi is. Dié water, wat van Tafelberg af kom, loop vandag onder die straat in 'n groot pyp af see toe.
Adderleystraat het sy huidige naam in 1850 gekry ter ere van Charles Bowyer Adderley, 'n Britse parlementslid wat die Kaapse koloniste se geslaagde poging gesteun het om te verhoed dat die Kaap omskep word in 'n strafkolonie. Van die bekende bakens aan Adderleystraat is die Groote Kerk, die Kultuurhistoriese Museum, Standard Bank se eertydse hoofkantoor en die Goue Akker.
Die voortsetting van Adderleystraat, wat oor die herwonne strandgebied loop tot teen aan die hawe, staan bekend as Heerengracht.
Daar is ook 'n Adderleystraat in Port Elizabeth en talle plattelandse dorpe, onder meer Worcester, Robertson en Stanford.
Bron
wysig- Potgieter, D.J. (hoofred.) Standard Encyclopaedia of Southern Africa. Cape Town: Nasionale Opvoedkundige Uitgewery Ltd., 1973.
Verwysings
wysig- ↑ HAT Taal-en-feitegids, Pearson, Desember 2013, ISBN 978-1-77578-243-8
Eksterne skakels
wysig- Wikimedia Commons het meer media in die kategorie Adderleystraat.