Gereformeerde kerk Kuruman
Die Gereformeerde kerk Kuruman is die naasoudste gemeente in die GKSA se Klassis Griekwaland-Wes. Einde 2015 was hier 278 belydende en 104 dooplidmate vir ’n sieletal van 382, die naasmeeste in die Klassis en ’n mooi toename van meer as 20 persent vergeleke met die sieletal van 316 einde 2001. In 2019 was die sieletal egter weer 337.
Gereformeerde Kerk Kuruman | ||
Sluit in | Kuruman | |
Klassis | Griekwaland-Wes | |
Huidige predikant(e) | Hennie Reinecke | |
Belydende lidmate | 245 | |
Dooplidmate | 81 | |
Adres | H.v. Breë- en Kromstraat Kuruman | |
Geskiedenis | ||
Stigtingsdatum | 10 Mei 1919 | |
Afgestig van | Postmasburg (waarskynlik) | |
Eerste predikant | J.L. van der Merwe 1930–1939 |
Die gemeente Kuruman is op 10 Mei 1919 gestig. Geen foto's het van die eerste kerkgebou behoue gebly nie. Ds. J.H. Kruger het die tweede kerkgebou, ’n klipkerk in Stewartstraat, op 21 Maart 1925 in gebruik geneem. Dit is ’n pragtige ou gebou wat later tot nasionale gedenkwaardigheid verklaar is, maar die gemeente het dit in 1981 vir R60 000 verkoop. Op hierdie kerk se perseel is ’n boomstomp met ’n gedenkplaatjie aangesien dit die boom was waaronder die eerste boukomitee vergader het om die ligging van die kerkgebou te bespreek.
Die argitek van die nuwe en huidige kerkgebou, in die gewilde tentstyl (kappiekerk) van destyds, was B. De Wet Hartman, wat ook onder meer verantwoordelik was vir die Gereformeerde kerke Kemptonpark-Noord, Roodepoort, Vryburg en Frankfort, asook twee NG kerke op Koppies in die Vrystaat. Die bouaannemer was Frans Lubbe van Hartswater. Die boukoste het R58 600 beloop en die gebou is in gebruik geneem op 20 Mei 1967. Die kerkperseel op die hoek van Breë- en Kromstraat bestaan uit vier erwe.
Tydens die beplanning van die kerkgebou is besluit die dak moes ’n Voortrekkerkappie voorstel; daarom moes die dak hoër wees om die agterste deel van die kappie te vorm. ’n Kruis wat geteël is, is in die toring ingebou. Die kerk se plafon is van sederhout gemaak en die klankbord agter die preekstoel stel ’n gekruisigde figuur met ’n hangende hoof voor. Weerskante van die kansel is ligte wat lyk soos sewe kandelare.
Predikante
wysig- Van der Merwe, Johannes Lodewikus, 1930 - 1939
- Snyman, Nicolaas Tjaart, 1939 - 1943 (in kombinasie)
- Van Wyk, Rudolf Stephanus Jacobus, 1945 - 1949
- Smit, Cornelius Hermanus, 1951 - 1955
- Steyn, Tjaart, 1956 - 1970
- Maas, Samuel, 1967 (in kombinasie met Groenwater; verlaat die bediening ná net ’n jaar)
- Du Plessis, Pieter Johannes Lodewyk, 1970 - 1981
- Kruger, dr. Mechiel Andries, 1977 - 1978 (sendeling)
- Van der Merwe, dr. Sarel Jacobus, 1978-1982
- Kruger, dr. Petrus, 1982-2001 (aanvaar sy emeritaat)
- Van der Walt, Abraham Barend, 2002-2004
- Aucamp, Jan Christoffel, 2005-2011 (verlaat die bediening)
- Reinecke, Hendrik, 2012 – hede
Bronne
wysig- (af) Harris, C.T., Noëth, J.G., Sarkady, N.G., Schutte, F.M. en Van Tonder, J.M. 2010. Van seringboom tot kerkgebou: die argitektoniese erfenis van die Gereformeerde Kerke. Potchefstroom: Administratiewe Buro.
- (af) Schalekamp, ds. M.E. (voorsitter: redaksiekommissie). 2001. Die Almanak van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika vir die jaar 2002. Potchefstroom: Administratiewe Buro.
- (af) Van der Walt, dr. S.J. (voorsitter: deputate almanak). 1997. Die Almanak van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika vir die jaar 1998. Potchefstroom: Administratiewe Buro.
- (af) Venter, ds. A.A. (hoofred.) 1960. Almanak van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika vir die jaar 1961. Potchefstroom: Administratiewe Buro.
- (af) Vogel, Willem (red.). 2015. Die Almanak van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika vir die jaar 2016. Potchefstroom: Administratiewe Buro.