Gholf
- Vir ander betekenisse van die woord, kyk ook na Gholf (dubbelsinnig).
Gholf is 'n buitelugsport waar individuele spelers of spanne 'n klein balletjie tot binne 'n gaatjie in die grond moet slaan deur verskeie gholfstokke te gebruik. Dit is ook een van die min spelle wat nie 'n vaste bepaalde spelarea gebruik nie, dit wil sê golfbane verskil in vorm en uitleg. Die spel word bepaal deur die Reëls van Gholf (opgestel deur die Verenigde State se Gholfvereniging) as "die slaan van 'n bal vanaf die bofperk tot in die gaatjie deur een of meer houe onderhewig aan die Reëls".[1] Daar word beweer dat gholf in Skotland ontstaan het en volgens oorlewering is die eerste gholfspel moontlik by die Bruntsfield Links in Skotland in 1456 gespeel, aldus die Royal Burgess Golfing Society.
Gholf, in sy huidige vorm, was wel sedert ten minste 1257 in Nederland en sedert 1672 op Skotland se Musselburgh Links gespeel (die oudste gholfbaan in die wêreld), maar ander weergawes van die spel is al vele eeue voorheen dwarsdeur die Britse eilande en die Nederlande van Noord-Europa gespeel.
Alhoewel dit gereeld as 'n elite-tydverdryf gesien word, word gholf nou meer gewild en trek al hoe meer spelers dwarsoor die wêreld.
Uitleg van 'n gholfbaan
wysig'n Spel bestaan uit die speel van 'n rondte van etlike putjies. 'n Putjie bestaan uit die slaan van 'n bal vanaf die bofperk ('n gemerkte area wat uitgesit word vir die eerste hou van 'n gaatjie), en opvolgende houe met yster- of houthoue. Sodra die bal die setperk ('n area van kortgesnyde gras) bereik word die bal met sethoue (wat teen die grond langs gespeel word) tot in die gaatjie gespeel. Meeste gholfbane bestaan uit 18 putjies, alhoewel sekere 9 het. Die doel — om so min as moontlik houe te gebruik om die bal in die putjie te kry — word deur verskeie versperrings soos bome, sandkuile en waterhindernisse bemoeilik.
Gebruike
wysigDaar bestaan 'n magdom van jarelange gebruike en natuurlik ook 'n lys van etiket/reëls wat nagekom behoort te word by elke baan. Enkeles is:
- Gee 'n medespeler 'n behoorlike kans om sy bal te vind en dan te speel. Dit is ongeskik om hom aan te jaag (binne perke).
- Moenie voor/te naby aan 'n medespeler staan as hy sy bal wil slaan nie.
- Moenie beweeg of hard praat terwyl 'n speler aanlê na die putjie toe nie. (Dit geld ook vir toeskouers en baljoggies)
- Moenie sigarette rook of stompies op die setperk neergooi nie.
- Moet NOOIT 'n ander speler se bal optel (of selfs aanraak), tensy hy jou vra nie.
- Moenie jou bal tussen die spelersgroep voor jou op die baan inslaan nie (tensy dit natuurlik 'n ongeluk was).
- Moenie met halftyd só lank in die klubhuis vertoef dat ander spelers vir jou moet wag op die afslaanbof nie.
- Dra die korrekte sportklere en skoene tydens 'n rondte gholf. (Géén T-hemde, rugbybroeke of plakkies word by enige klub toegelaat nie!)
- Heelaas, moenie vuil taal gebruik voor medespelers nie, veral nie dames nie (geld vir alle sportsoorte).
Trivia
wysigDie bekendste gholfwoord wat in daaglikse omgangstaal gebruik word, is die 19de putjie, bedoelende die kroeg in die klubhuis. "Sam het by die negentiende putjie vasgeval".
Sien ook
wysigVerwysings
wysig- ↑ "The Rules of Golf". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 11 Oktober 2007. Besoek op 23 Maart 2007.
Eksterne skakels
wysig- Wikimedia Commons het meer media in die kategorie Gholf.