Hettie Smit
Hettie Smit, pseudoniem van mev. S.J. van Vuuren (1908–1973), was 'n Afrikaanse skryfster wat veral bekend is vir haar roman Sy kom met die sekelmaan (1937) wat in 'n dagboek- en briefvorm geskryf is en oorspronklik in 1937 deur die Vereniging vir die Vrye Boek in Kaapstad uitgegee is. Dit staan bekend as die eerste bieg- of belydenisroman in Afrikaans en is gegrond op die briefwisseling tussen Smit en die skywer en digter WEG Louw. Dié boek het meer as 10 herdrukke beleef en is in 2001 opgevoer met Nicole Holm en spelleiding deur Juanita Swanepoel. Hiernaas volg daar ook 'n aantal jeugstukke, artikels en resensies uit haar pen.
Hettie Smit | |
---|---|
Gebore | 21 November 1908 Distrik Venterstad, Kaapkolonie |
Sterf | 13 September 1973 |
Nasionaliteit | Suid-Afrika |
Beroep | Onderwyseres, skrywer |
Bekend vir | Sy kom met die sekelmaan |
Eggenoot | S.J. van Vuuren |
Kinders | Twee seuns |
Geloof | Gereformeerd |
Smit het op die dorpie Koffiefontein in die Vrystaat grootgeword en later op Brandfort skoolgegaan, waar haar vader prokureur was. Haar gesin was lidmate van die Gereformeerde Kerk. Haar verdere opleiding het sy aan die Universiteit van Kaapstad ontvang, waar sy die grade M.A. en B.Educ. behaal het. Sy het op talle plekke skoolgehou: Wellington, Prins Albert, Hennenman, Bloemfontein, Kimberley en Pretoria, en is later met S.J. van Vuuren van die departement van landbou en bosbou in die hoofstad getroud. Die egpaar het in 'n stadium in Waterkloof gewoon en het twee seuns gehad. Smit het ná haar huwelik by die Sentrale Vertaalburo van die staatsdiens gewerk.[1]
Bronne
wysig- (af) JC Kannemeyer, Die Afrikaanse Literatuur 1652–1987, Human & Rousseau
- (af) JC Kannemeyer, Ek ken jou goed genoeg: die briefwisseling tussen N.P. van Wyk Louw en W.E.G. Louw, 1936-1939, Protea
- (af) Nienaber, P.J. Hier Is Ons Skrywers! Biografiese Sketse van Afrikaanse Skrywers. Johannesburg: Afrikaanse Pers-Boekhandel.
- (af) Wallis, F. (2000). Nuusdagboek: feite en fratse oor 1000 jaar, Kaapstad: Human & Rousseau
Verwysings
wysig- ↑ (af) Biografiese besonderhede op die webtuiste van NB-uitgewers Geargiveer 27 Augustus 2016 op Wayback Machine. URL besoek op 31 julie 2016.