Margrethe II van Denemarke
Margrethe II (Margrethe Alexandrine Þórhildur Ingrid, gebore 16 April 1940) was van 1972 tot 2024 koningin van Denemarke. Sy was die eerste vroulike heerser van die land ná Margrethe I, wat van 1388 tot 1412 oor die Skandinawiese lande geheers het tydens die Kalmarunie.
Margrethe II | |
---|---|
Koningin van Denemarke | |
Periode | 14 Januarie 1972 – 14 Januarie 2024 |
Voorganger | Frederik IX |
Opvolger | Frederik X |
Huis | Sleeswyk-Holstein-Sonderburg-Glücksburg |
Eggenoot | Henri de Laborde de Monpezat |
Kinders | Frederik X Prins Joachim |
Vader | Frederik IX |
Moeder | Prinses Ingrid van Swede |
Gebore | 16 April 1940, Kopenhagen |
Koningin Margrethe II se amptelike slagspreuk was: Die Hulp van God, die Liefde van die Volk, die Krag van Denemarke.
Vroeë lewe
wysigPrinses Margrethe is in die Amalienborg-paleis in Kopenhagen gebore as die oudste kind van Frederik IX en sy vrou, kroonprinses Ingrid. Omdat koning Christiaan X in dié tyd ook koning van Ysland was, het die prinses die Yslandse naam Þórhildur gekry as eerbetoon aan die mense van dié land. Dit word gespel met die Yslandse letter thorn, wat ook as "th" geskryf word, en haar naam word dus soms "Thorhildur" gespel.[1]
Margrethe is nie as troonopvolger gebore nie. Weens die Saliese wet, wat ook in Denemarke van krag was, kon net mans die troon bestyg nadat die Glücksburg-tak aan die bewind gekom het. Sy het nie broers gehad nie en haar oom Knud was die waarskynlike troonopvolger.
Die proses om die grondwet te verander het in 1947 begin toe dit duidelik word koningin Ingrid sou nie nog kinders hê nie. Die gewildheid van Frederik en sy dogters en die meer prominente rol wat vroue in Denemarke begin speel het, het die verandering tot gevolg gehad. Twee agtereenvolgende parlemente en ’n referendum moes die stap goedkeur. Sedertdien word vroue toegelaat om die troon te bestyg as hulle nie ’n broer het nie. Prinses Margrethe het toe die waarskynlike opvolger geword.
Sy het aan verskeie universiteite studeer en op 10 Junie 1967 in Kopenhagen getrou met ’n Franse diplomaat, graaf Henri de Laborde de Monpezat. Hy het die koninklike titel "prins Henrik van Denemarke" gekry. Hy is oorlede op 13 Februarie 2018.
Bewind
wysigKoning Frederik IX is in 1972 oorlede en Margrethe het koningin geword kragtens die nuwe opvolgingswet. Haar hooftaak is om die koninkryk oorsee te verteenwoordig en ’n verenigende taak tuis te verrig. Sy open uitstallings, herdenkings, brûe, ens. Sy mag nie aan die politiek deelneem of ’n politieke opinie lug nie.
Die koningin is ’n erkende skilder en het al baie uitstallings van haar werk gehou. Haar illustrasies, onder die skuilnaam Ingahild Grathmer, is gebruik vir die Deense uitgawe van The Lord of the Rings roman wat in 1977 gepubliseer en in 2002 herdruk is. Sy is ook ’n hoogs aangeskrewe vertaler wat aan die boek help vertaal het. Verder ontwerp sy van haar eie klere.
In 2008 het die koningin aangekondig dat haar afstammelinge deur die manlike linie die bykomende titel Graaf of Gravin van Monpezat sou hê.
Op 31 Desember 2023 het Margrethe II haar aftrede van die Deense troon aangekondig en op 14 Januarie 2024, ná presies 52 jaar op die troon, is sy deur haar seun Frederik X opgevolg.
Kinders
wysigDie koningin en prins Henrik het twee seuns:
- Frederik André Henrik Christian, Kroonprins van Denemarke, Graaf van Monpezat, gebore op 26 Mei 1968. Hy het op 14 Mei 2004 getrou met Mary Elizabeth Donaldson. Hulle het vier kinders.
- Prins Joachim Holger Waldemar Christian van Denemarke, Graaf van Monpezat, gebore op 7 Junie 1969. Hy het op 18 November 1995 getrou met Alexandra Christina Manley. Hulle het twee seuns. Die egpaar het egter op 8 April 2005 geskei. Prins Joachim is tweedens getroud met Marie Agathe Odile Cavallier op 24 Mei 2008. 'n Verdere twee kinders is uit die huwelik gebore.
Afkoms in die manlike linie
wysigMargrethe se afkoms deur die manlike linie, dus van vader tot seun, kan eeue terug nagespeur word en beteken dat as sy ’n histories korrekte naam vir die koningshuis moes kies, dit Oldenburg sou wees.
- Egilmar I van Lerigau, datums onbekend
- Egilmar II van Lerigau, d. 1142
- Christiaan I van Oldenburg, d. 1167
- Moritz van Oldenburg, d. 1209
- Christiaan II van Oldenburg, d. 1233
- Johan I, Hertog van Oldenburg, d. 1275
- Christiaan III, Hertog van Oldenburg, d. 1285
- Johan II, Hertog van Oldenburg, d. 1314
- Konrad I, Hertog van Oldenburg, 1300–1347
- Christian V, Hertog van Oldenburg, 1340–1423
- Dietrich, Hertog van Oldenburg, 1398–1440
- Christiaan I van Denemarke, 1426–1481
- Frederik I van Denemarke, 1471–1533
- Christiaan III van Denemarke, 1503–1559
- Johan II, Hertog van Sleeswyk-Holstein-Sonderburg, 1545–1622
- Alexander, Hertog van Sleeswyk-Holstein-Sonderburg, 1573–1627
- August Philipp, Hertog van Sleeswyk-Holstein-Sonderburg-Beck, 1612–1675
- Frederik Lodewyk, Hertog van Sleeswyk-Holstein-Sonderburg-Beck, 1653–1728
- Pieter August, Hertog van Sleeswyk-Holstein-Sonderburg-Beck, 1696–1775
- Prins Karl Anton August van Sleeswyk-Holstein-Sonderburg-Beck, 1727–1759
- Friedrich Karl Ludwig, Hertog van Sleeswyk-Holstein-Sonderburg-Beck, 1757–1816
- Friedrich Wilhelm, Hertog van Sleeswyk-Holstein-Sonderburg-Glücksburg, 1785–1831
- Christiaan IX van Denemarke, 1818–1906
- Frederik VIII van Denemarke, 1843–1912
- Christiaan X van Denemarke, 1870–1947
- Frederik IX van Denemarke, 1899–1972
- Margrethe II van Denemarke, b. 1940
Verwysings
wysig- Hierdie artikel is merendeels vertaal vanaf die Engelse Wikipedia-artikel en:Margrethe II of Denmark
- ↑ "Those Apprentice Kings and Queens Who May – One Day – Ascend a Throne," New York Times. 14 November 1971.
Eksterne skakels
wysigWikimedia Commons bevat media in verband met Margrethe II van Denemarke. |
- Koningshuis van Denemarke en van Ysland Geargiveer 23 Maart 2008 op Wayback Machine
- Die stamboom van Henri de Laborde de Monpezat
- Webtuiste van die koningin Geargiveer 25 Junie 2010 op Wayback Machine
- Webtuiste van die Deense monargie Geargiveer 1 Julie 2006 op Wayback Machine
- Illustrasies – Lord of the Rings Geargiveer 27 September 2007 op Wayback Machine