Midnight Mass (TV-minireeks)

Midnight Mass is 'n Amerikaanse Gotiese, bonatuurlike rillerminireeks vir televisie wat deur Mike Flanagan geskep en geregisseer is. Van die akteurs is Zach Gilford, Hamish Linklater, Samantha Sloyan, Rahul Kohli, Kristin Lehman en Henry Thomas.

Midnight Mass

Hamish Linklater is vader Paul Hill.
Genre
  • Drama
  • Bonatuurlike riller
Geskep deur Mike Flanagan
Geskryf deur
  • Mike Flanagan
  • James Flanagan
  • Elan Gale
  • Dani Parker
  • Jeff Howard
Met
Temamusiekkomponis The Newton Brothers
Oorsprong VSA
Taal Engels
Aantal episodes 7
Produksie
Uitvoerende vervaardiger(s)
  • Mike Flanagan
  • Trevor Macy
  • Jeff Howard
Venue(s) Brits-Columbië, Kanada
Produksiemaatskappy Intrepid Pictures
Uitsending
Oorspronklike kanaal Netflix

Die minireeks handel oor 'n arm, godsdienstige eilandgemeenskap wat bonatuurlike verskynsels beleef ná die aankoms van 'n geheimsinnige priester.[1] Dit is op 24 September 2021 op Netflix uitgereik[2] en het positiewe resensies gekry.

Storielyn

wysig

'n Jong man keer terug na sy geïsoleerde tuisdorp, Crockett Island, in die hoop om sy lewe weer op te bou nadat hy vier jaar lank in die tronk was weens iemand se dood in 'n dronkbestuurongeluk. Hy kom op die eiland aan op dieselfde tyd as 'n geheimsinnige, charismatiese jong priester wat weer lewe blaas in die gemeenskap se kwynende geloofslewe. Die verdelings in die gemeenskap raak egter al hoe groter weens die prieser se dade terwyl vreemde dinge in die gemeenskap gebeur.

Hoofkarakters

wysig

Die hoofkarakters in Midnight Mass is:[3][4]

  • Zach Gilford is Riley Flynn, 'n man wat na sy tuisdorp, Crockett Island, terugkeer nadat hy vier jaar in 'n tronk gesit het omdat hy die dood van 'n vrou in 'n dronkbestuurongeluk veroorsaak het.
  • Kate Siegel is Erin Greene, Riley se skoolliefde, wat nou 'n onderwyseres op die eiland is en 'n kind verwag.
  • Hamish Linklater is vader Paul Hill, die enigmatiese nuwe priester by die Sint Patrick-kerk, wat waarneem in die plek van die bejaarde vader Pruitt.
  • Kristin Lehman is Annie Flynn, Riley se godsdienstige, vergewensgesinde ma.
  • Henry Thomas is Ed Flynn, 'n visserman, Riley se pa en Kristin se man.
  • Samantha Sloyan is Bev Keane, 'n oorywerige, opdringerige en invloedryke lid van die kerk.
  • Igby Rigney is Warren Flynn, Riley se tienerbroer wat 'n koorseun in die kerk is.
  • Rahul Kohli is sheriff Hassan, Crockett Island se Moslemsheriff wat algemeen deur die hoofsaaklik Katolieke gemeenskap aanvaar word, maar deur baie met skeptisisme bejeën word.
  • Annabeth Gish is dr. Sarah Gunning, die dorp se plaaslike dokter en 'n vriendin van Erin.
  • Alex Essoe is Mildred Gunning, Sarah se bejaarde ma met demensie.
  • Rahul Abburi is Ali, die sheriff se seun en 'n vriend van Warren en Ooker.
  • Annarah Cymone is Leeza Scarborough, die burgemeester se dogter wat in 'n rolstoel is ná 'n besering.
  • Michael Trucco is Wade Scarborough, die burgemeester.
  • Crystal Balint is Dolly Scarborough, Wade se vrou en Leeza se ma.
  • Matt Biedel is Sturge, die eiland se nutsman.

Episodes

wysig

Die titel van elke episode is 'n boek in die Bybel. Elke episode bevat 'n toneel wat na die Bybelboek verwys.[5]


Bederwingswaarskuwing: Die storielyn of storie se einde volg hieronder.


Episode 1 – Genesis

Nadat hy tronkstraf van vier jaar uitgedien het weens 'n dronkbestuurongeluk waarin 'n vrou dood is, keer Riley Flynn terug na sy tuisdorp, Crockett Island, 'n klein vissersdorpie wat nog steier onder 'n olielekkasie wat sy vissersbedryf erg geraak het. Riley het sy geloof in die tronk verloor, maar probeer weer inpas in die dorp se Katolieke gemeenskap, insluitende sy ouers, Annie en Ed; sy tienerbroer, Warren; sy skoolliefde, die verwagtende Erin Greene; en die oorywerige gemeentelid Bev Keane. Vader Paul Hill, 'n jong priester, sluit in dié tyd by die gemeente aan en beweer hy neem waar in die plek van die bejaarde vader Pruitt, wat op 'n pelgrimstog in die Heilige Land is. Terwyl hy snags saam met sy vriende Ooker en Ali is, sien Warren vreemde bewegings op 'n afgeleë eilandjie wat deur rondloperkatte bewoon word. Een van hulle word later deur 'n ongesiene entiteit verskeur. Die volgende nag sien Riley die figuur van vader Pruitt op die strand loop te midde van 'n woeste storm, maar die figuur verdwyn toe Riley hom agternasit. Die volgende oggend word honderde dooie katte op die strand ontdek.

Episode 2 – Psalms

Die dorpenaars kan nie vasstel wat die katte se dood veroorsaak het nie. Bev gooi rottegif op die kerkperseel om knaagdiere weg te hou. Vader Paul ontmoet Leeza Scarborough, die burgemeester se dogter wat in 'n rolstoel is. Sy is verlam nadat die dorp se dronkaard, Joe Collie, haar per ongeluk geskiet het. Tydens die eiland se jaarlikse "Crock Pot Luck"-Aswoensdagfees vrek Joe se hond skielik nadat hy kos van die grond af geëet het. Joe vermoed Bev is daarvoor verantwoordelik; Joe haat Bev omdat sy kerkskenkings van die dorpenaars gekry het nadat sy hulle oortuig het om 'n skikking met die oliemaatskappy te aanvaar wat die baai se water vergiftig het, terwyl sy geweet het dit sal die kerk bevoordeel. Daardie nag sien Erin 'n vreemde figuur op haar erf. Riley woon 'n Alkoholiste Anoniem-vergadering in die ontspanningsentrum by met net vader Paul. Riley veroordeel God omdat Hy boosheid in die wêreld toelaat. Dié nag word Bowl, die eiland se dwelmhandelaar, deur 'n ongesiene entiteit aangeval. Tydens die Mis daardie Sondag beveel vader Paul Leeza om uit haar rolstoel uit op te staan om die Nagmaal te gebruik. Tot almal se verbasing staan Leeza op en loop.

Rahul Kohli (HEEL BO) is die Moslemsheriff, sheriff Hassan, en Michael Trucco is burgemeester Wade Scarborough.
Episode 3 – Spreuke

Crockett Island begin 'n godsdienstige herlewing beleef ná Leeza se skielike herstel, wat die gemeenskap as 'n wonderwerk beskou. Leeza besoek Joe en sê haar haat vir hom het haar lewe amper verwoes, en dat sy hom nou vergewe. 'n Aangedane Joe woon nou AA-vergaderings saam met Riley en vader Paul by. Sheriff Hassan, wie se Moslemgeloof sekere Christelike dorpenaars skeef laat opkyk, vind uit sy seun, Ali, bestudeer die Bybel. Later, op 'n dorpsvergadering, probeer hy Bev oortuig om nie meer Bybels aan kinders in openbare skole uit te deel nie. Vader Paul sak voor Bev en die Scarboroughs ineen. Hy sterf nadat hy bloed hoes, maar herleef skielik. In 'n terugflits na die nag voor sy eerste diens op die eiland sit Paul in 'n bieghokkie. Hy onthul die waarheid oor vader Pruitt: Hy is naby Jerusalem in 'n sandstorm vasgevang en het skuiling in 'n antieke ruïne gesoek, maar is deur 'n bloedsuiende, mensagtige wese aangeval wat hom toe sy bloed laat drink het. Toe Pruitt die volgende oggend wakker word, het hy ontdek hy het sy jeug herwin. Daardeur is vader Paul se ware identiteit onthul as vader Pruitt aan wie nuwe lewe gegee is. Paul/Pruitt bieg hy glo die wese wat hom aangeval het, is 'n engel, en die verjongingseienskappe van sy bloed is 'n geskenk wat hy wil deel.

Episode 4 – Klaagliedere

Crockett se plaaslike dokter, Sarah Gunning, vind uit Erin se fetus het geheimsinnig uit haar baarmoeder verdwyn en sy kom tot die gevolgtrekking dat Erin 'n miskraam gehad het. 'n Ontstelde Erin reis die volgende oggend na die vasteland vir 'n tweede opinie. Die dokter kry egter geen bewyse dat Erin ooit swanger was nie. Vader Paul onthul sonlig brand hom ná sy herlewing en Bev lei af hy is vader Pruitt. Omdat hy nie in staat is om sy take in die daglig uit te voer nie, bedien Paul die Nagmaal aan Sarah se bejaarde ma, Mildred. Sy ly aan demensie, maar herken vader Paul as vader Pruitt. Joe besoek vader Paul daardie aand en sien hoe hy die engel se bloed drink, wat Paul met die Nagmaalwyn verdun en aan sy gemeente gee om te drink. Paul word oorval deur 'n verskriklike dors en vermoor Joe om sy bloed te drink. Bev, die burgemeester, Scarborough, en die plaaslike nutsman, Sturge, ontdek die toneel die volgende oggend; Bev besluit om dit toe te smeer en glo Paul se herlewing is 'n voorspelling van die Wederkoms van Christus. Tydens 'n AA-vergadering beweer Paul teenoor Riley dat Joe afwesig is omdat hy sy suster besoek; Riley weet egter Joe se suster is oorlede en keer laat die nag na die ontspanningsentrum terug om Paul te konfronteer, maar kom af op die engel wat sy bloed in 'n fles giet. Toe die engel Riley sien, val hy hom aan.

Episode 5 – Evangelie

Erin is bekommerd oor Riley se skielike verdwyning en meld dit by die sheriff aan. Dié meen Riley het óf weer begin drink óf selfmoord gepleeg. Tydens die Mis op die aand voor Goeie Vrydag lewer vader Paul 'n diens vol militaristiese retoriek. Hy spoor die gemeente aan om vir oorlog voor te berei as soldate van God. Dit ontstel Mildred Gunning, wie se fisieke en geestelike toestand aansienlik verbeter het ná vader Paul se besoeke. Later dié aand kom Riley by Erin se huis aan en vra haar om saam met hom op 'n boot op die see uit te gaan. Hoewel Erin wantrouig is, stem sy in. Ver weg van die eiland vertel Riley vir Erin wat met hom gebeur het: Nadat die engel Riley aangeval het, het hy vinnig herstel onder die sorg van vader Paul, wat toe sy ware identiteit aan Riley onthul het. Hy het verder gesê hy glo die engel se bloed is 'n geskenk van God en dat hy dit met die Nagmaalwyn gemeng het om die inwoners van Crockett Island gesond te maak. Riley het die kerk verlaat gevul met afgryse en vaarwelbriewe aan sy gesin en Pruitt agtergelaat voordat hy Erin besoek het. Riley sê vir Erin hy het haar op die boot uitgebring om homself te isoleer en vir haar te sê hy is lief vir haar. Toe die son opkom, ontbrand Riley tot as en Erin gil verskrik.

Episode 6 – Handelinge

Erin keer na die eiland terug. Sarah wys vir haar die verjongde Mildred en hoe haar ma se bloed in die son ontbrand. Haar teorie is dat vader Paul mediese "wonderwerke" deur die Nagmaalwyn verrig en dat Erin se fetus verdwyn het omdat sy daarvan gedrink het. Sy vertel sheriff Hassan van haar vermoede, maar hy weier om die kerk te ondersoek omdat hy die dorpenaars se reaksie vrees. Erin, Sarah en Mildred probeer die veerboot na die vasteland haal, maar ontdek die burgemeester het al die veerbote weggestuur. Dié nag sny Sturge al die krag na die dorp af. Tydens die Mis onthul vader Paul hy is vader Pruitt, en hy wys die engel aan die hele gemeente. Pruitt sê vir hulle hulle het almal van die engel se bloed gedrink. Hy spoor hulle aan om gif te drink om herbore te word. Verskeie inwoners doen dit, onder andere Leeza se ouers, Sturge, Ooker en Ali. Mildred skiet Pruitt en word deur die engel aangeval. Die ondooie kerkgangers staan weer op en val dié aan wat nie die gif gedrink het nie. Riley se pa drink van die gif, maar Erin, Hassan, Leeza, Sarah, Warren en Annie ontsnap. Erin skiet Bev, en 'n opgestane Bev en Sturge laat die ondooie kerkgangers die oorblywende inwoners aanval.

Epsode 7 – Openbaring

Mildred, wat ook nou ondood is, herenig met Pruitt; hulle was jare tevore minnaars en Sarah is hulle dogter. Pruitt het die engel na die eiland gebring om Mildred te verjong sodat hulle 'n tweede kans kan hê om saam te wees. Erin en haar vriende steek die bote aan die brand om te keer dat die ondooie kerkgangers die eiland verlaat. Bev lei die ondooies op 'n vapierstormloop en hulle maak almal dood wat hulle in die hande kry. Pruitt is met afgryse vervul oor die geweld en veroordeel Bev; sy veroordeel hom weer as 'n vals profeet. Sy beveel haar volgelinge om alles behalwe die kerk en die ontspanningsentrum af te brand, want sy wil laasgenoemde as skuiling teen die sonlig gebruik. Erin en haar vriende probeer die kerk en ontspanningsentrum afbrand, maar Sturge skiet Sarah, Bev wond Hassan noodlottig en die engel val Erin aan. Erin sny sy vlerke met 'n mes terwyl sy sterf om te voorkom dat hy ontsnap. Ali brand die ontspanningsentrum af waar die dorpenaars wou gaan skuil. Die ondooie kerkgangers besef niemand sal die sonsopkoms oorleef nie, want die hele eiland is aan die brand. Terwyl dagbreek nader kom, kom die oorblywende inwoners byeen om deur die son verbrand te word terwyl hulle sing "Nader, My God, by U". Leeza en Warren roei op die see uit om van die bloedbad weg te kom en is die eiland se enigste oorlewendes. Hulle kyk hoe die engel probeer wegvlieg voor sonsopkoms, maar sien sy bewegings is stadig en onreëlmatig; hulle wonder of hy skuiling op die vasteland sal bereik voor die son opkom. Toe die son opkom, sterf Bev, Pruitt, Mildred en die res van die eiland se bewoners. Terwyl Leeza en Warren die eiland van 'n boot af dophou, sê Leeza sy kan nie meer haar bene voel nie.

Ontvangs

wysig

Op Rotten Tomatoes het die reeks 'n goedkeuringsyfer van 87% gekry, met 'n gemiddelde syfer van 8,1/10, gebaseer op 97 resensies.[6] Metacritic gee die reeks 'n gemiddelde van 75 uit 100, gebaseer op 23 resensies, wat dui op "algemeen gunstige resensies".[7]

Resensente het Flanagan se regie geprys, asook die toneelspel en die unieke benadering van die vampiergenre. Kristen Baldwin van Entertainment Weekly het dit 'n A gegee en geskryf "dit is nie perfek nie, maar dit is 'n besonder aangrypende, pragtig gespeelde betragting van die dood, geloof, skuldgevoelens, verslawing en die mag van die vrye wil."[8]

Judy Berman van Time het dit 'n baie positiewe resensie gegee en dit Flanagan se beste reeks tot dusver genoem. Sy het die spel van Zach Gilford, Kate Siegel en veral Hamish Linklater geprys.[9] Jen Chaney van Vulture het Linklater se spel "fenomenaal" genoem en gesê: "Hy praat asof hy sy pad deur elke sin ontdek en wil hê jy moet saam met hom kom."[10] David Fear van Rolling Stone het ook Linklater se spel geprys, asook Flanagan se regie.[11] Richard Roeper van die Chicago Sun-Times het die reeks genoem "die beste Stephen King-storie wat Stephen King nooit geskryf het nie".[12]

Die pas en skryfwerk van die reeks het gemengde reaksie ontlok, met baie kritiek oor die baie monoloë. Jack Seale van The Guardian het die reeks drie uit vyf sterre gegee en Flanagan se regie geprys, maar die reeks gekritiseer oor sy "opgeblase dialoog". Hy het geskryf: "Wanneer die einde eindelik aanbreek, is daar baie vuur en binnegoed, maar geen ekstase nie."[13] Brian Tallerico van RogerEbert.com het die reeks twee en halwe ster uit vier gegee. Hy het ook die dialoog en godsdienstige temas gekritiseer. Tallerico het gevoel die baie gepraat strem die pas van die storie.[14]

Die minireeks se skeppers het volgehou dat dit nie antigodsdienstig of anti-Katoliek is nie.[15] 'n Katolieke priester wat die reeks gesien het, het gesê die uitbeelding van hoe godsdiens sonde behandel is akkuraat, maar daar is min begrip vir hoe godsdiens die hiernamaals behandel.[16]

Kohli se karakter is deur Moslemkykers geprys, en baie het gesê hy is 'n voorbeeld van positiewe, akkurate Moslemuitbeelding. Die toneel waarin hy praat oor godsdienstige boeke in openbare skole is ook geprys.[17][18] Kohli sê in 'n podsending die rol was sy moeilikste nog. Kohli is "nie 'n Moslem nie, nie Amerikaans nie, nie 'n pa nie en nie 40 nie, en dit was vir hom moeilik om die rol te speel.[19]

Verwysings

wysig
  1. Kennedy, Michael (22 Januarie 2020). "Midnight Mass: What We Know So Far". Screen Rant. Besoek op 18 Augustus 2020.
  2. Petski, Denise (9 Augustus 2021). "'Midnight Mass': Mike Flanagan's Netflix Horror Series Unveils First Trailer, Premiere Date". Deadline (in Engels (VSA)). Besoek op 9 Augustus 2021.
  3. Gemmill, Allie (5 Februarie 2020). "Mike Flanagan's 'Midnight Mass' Cast Includes 'Hill House' Alums Henry Thomas & Kate Siegel". Collider (in Engels (VSA)). Besoek op 18 Augustus 2020.
  4. Squires, John (17 Augustus 2020). ""Midnight Mass": Filming Has Begun on Mike Flanagan's New Netflix Horror Series". Bloody Disgusting (in Engels (VSA)). Besoek op 18 Augustus 2020.
  5. Williams, Jordan (26 September 2021). "Midnight Mass' Books: Every Episode Title Meaning Explained". Screen Rant. Besoek op 30 November 2021.
  6. "Midnight Mass". Rotten Tomatoes. Besoek op 23 Februarie 2023.
  7. "Midnight Mass – Season 1 Reviews". Metacritic. Besoek op 26 September 2021.
  8. Baldwin, Kristen (23 September 2021). "Midnight Mass review: A deeply affecting tale of faith gone wrong". Entertainment Weekly. Besoek op 4 Oktober 2021.
  9. Berman, Judy (20 September 2021). "Netflix's Catholic Horror Story Midnight Mass Is One Hell of a Halloween Binge". Time. Besoek op 4 Oktober 2021.
  10. Chaney, Jen (23 September 2021). "Midnight Mass Provokes More Thoughts Than Screams". Vulture. Besoek op 13 Oktober 2021.
  11. Fear, David (5 Oktober 2021). "The Most Terrifying Show on TV Right Now? It's 'Midnight Mass'". Rolling Stone (in Engels (VSA)). Besoek op 6 Oktober 2021.
  12. Roeper, Richard (22 September 2021). "'Midnight Mass': The best Stephen King story Stephen King never wrote". Chicago Sun-Times (in Engels). Besoek op 6 Oktober 2021.
  13. Seale, Jack (24 September 2021). "Midnight Mass review: blood-soaked horror loses the faith – and the plot". The Guardian. Besoek op 4 Oktober 2021.
  14. Tallerico, Brian (24 September 2021). "Midnight Mass". RogerEbert.com (in Engels). Besoek op 4 Oktober 2021.
  15. Cressler, Matthew J. (25 Oktober 2021). "The Netflix Series That Should Make Religious People Uncomfortable". The Atlantic. Besoek op 3 Desember 2021.
  16. Klein, Terrance (27 Oktober 2021). "What does a Catholic priest think about 'Midnight Mass'?". America. Besoek op 3 Desember 2021.
  17. "A Review of Muslim Representation in Midnight Mass". YouTube. 15 November 2021. Besoek op 14 Augustus 2022.
  18. "Midnight Mass: What Muslim Representation Should Look Like". The Muslim Vibe. 12 November 2021. Besoek op 14 Augustus 2022.
  19. "Rahul Kohli remembers intense Imposter Syndrome he felt while shooting Midnight Mass #insideofyou". YouTube. 3 April 2022. Besoek op 14 Augustus 2022.

Skakels

wysig