Monsters: The Lyle and Erik Menendez Story
Monsters: The Lyle and Erik Menendez Story is die tweede seisoen van die Amerikaanse biografiese misdaaddramareeks vir televisie Monster. Dit is vir Netflix geskep deur die vervaardiger Ryan Murphy en skrywer Ian Brennan. Die tweede seisoen sentreer om die moord in 1989 op José (Javier Bardem) en Kitty Menendez (Chloë Sevigny) deur hulle seuns, Lyle (Nicholas Alexander Chavez) en Erik (Cooper Koch). Dit vertel die storie uit verskillende perspektiewe, met die broers se oogpunt as die sentrale vertelling.
Monsters: The Lyle and Erik Menendez Story | |
Genre | Ware moorddrama |
---|---|
Geskryf deur | Ian Brennan |
Met |
|
Oorsprong | VSA |
Taal | Engels |
Aantal episodes | 9 |
Produksie | |
Vervaardiger(s) | Ryan Murphy |
Uitsending | |
Oorspronklike kanaal | Netflix |
Oorspronklike lopie | 19 September 2024 |
Kronologie | |
Voorafgegaan deur | The Jeffrey Dahmer Story |
Dit is die tweede seisoen in die Monster-reeks en volg op Dahmer – Monster: The Jeffrey Dahmer Story. Die program is aanvanklik in 2020 as 'n beperkte reeks bestel, maar Netflix het in 2022 aangekondig dat dit uitgebrei is met twee verdere uitgawes wat geskoei is op "ander monsteragtige figure". Die ontwikkeling van die tweede seisoen, wat op die Menendez-broers fokus, is op 1 Mei 2023 aangekondig.
Met die première op 19 September 2024 het die seisoen gemengde resensies gekry, hoewel die toneelspel van veral Bardem en Koch geprys is. Kritiek is uitgespreek oor die lengte, inkonsekwente toon en die uitbeelding van die bloedskandelike verhouding tussen die Menendez-broers. Erik Menendez het die seisoen gekritiseer oor die onakkuraathede en die uitbeelding van Lyle. Dit was 'n kommersiële sukses en met sy debuut was dit wêreldwyd die nommereenreeks op Netflix. 'n Derde seisoen met die titel The Original Monster word tans ontwikkel, met Charlie Hunnam as die reeksmoordenaar Ed Gein.
Opsomming
wysigMonsters: The Lyle and Erik Menendez Story vertel die verhaal van twee broers wat in 1996 aangekla is van die moord op hulle ouers, José en Kitty Menendez. Die aanklaer het beweer hulle het dit gedoen omdat hulle hulle ouers se fortuin wou erf, maar die broers het beweer, en volstaan steeds daarby, dat hulle lewenslank deur hulle ouers fisiek, emosioneel en seksueel mishandel is. Hulle dien lewenslange vonnisse uit, sonder die moontlikheid van parool.[1][2]
Hoofkarakters
wysig- Javier Bardem is José Menendez, 'n ryk en magtige sakeman in die vermaakbedryf. Hy word beskryf as 'n ambisieuse en beherende pa wat hoë verwagtings van sy seuns koester. Lyle en Erik beweer hulle het José uit selfverdediging vermoor ná jare se fisieke, emosionele en seksuele mishandeling.[3] Dit is die eerste groot TV-rol vir Bardem, wat hoofsaaklik rolprentwerk doen. Hy beskryf José as "hierdie veeleisende man [wat] regtig dink en voel hy is altyd reg en ander moet hom gehoorsaam".[4]
- Chloë Sevigny is Mary Louise "Kitty" Menendez, Lyle en Erik se ma wat 'n stryd voer teen geestestoestande, veral depressie, alkoholisme en dwelmmisbruik. Ná die moorde het Lyle en Erik beweer Kitty was medepligtig aan die beweerde mishandeling deur hulle pa. In haar beskrywing van Kitty het Sevigny gesê sy twyfel of Kitty met opset die beweerde sekusele mishandeling geïgnoreer het.[5]
- Cooper Koch is Erik Menendez, die jongste broer wat, saam met Kyle, hulle ouers in 1989 vermoor het.[3]
- Nicholas Alexander Chavez is Lyle Menendez, die oudste broer.[3]
- Ari Graynor is Leslie Abramson, Erik se hoofadvokaat. Sy het 'n aggressiewe styl in die hof.[3]
- Nathan Lane is Dominick Dunne, 'n prominente joernalis wat bekend is vir sy groot belangstelling in hoëprofielmisdaadsake. Dunne het 'n sleutelstem geword in die vorming van die openbare mening oor die broers se storie deur sy artikel "The Nightmare on Elm Drive" vir die tydskrif Vanity Fair.[6]
Episodes
wysigSeisoen | Episodes | Uitgereik | |
---|---|---|---|
2 | 9 | 19 September 2024 |
Seisoen 2
wysigEpisode | Titel | Regisseur | Skrywer | Uitgereik |
---|---|---|---|---|
1 | "Blame It on the Rain" | Carl Franklin | Ryan Murphy, Ian Brennan | 19 September 2024 |
In 1989 word Lyle en Erik Menendez tydelik deur die FBI in hegtenis geneem ná die moord op hulle ouers, José en Kitty Menendez, in hulle huis in Beverly Hills. Die broers gee die Mafia aanvanklik die skuld. Erik word gery deur nagmerries oor sy ouers wat sterf en gaan spreek dr. Jerome Oziel. Hy erken hy en sy broer het hulle ouers vermoor en vertel hoekom: Hulle pa, José, het hulle beheer en fisiek mishandel terwyl sy ma, Kitty, aan dwelms verslaaf en geneig tot selfmoord was. Daarna roep dr. Oziel vir Lyle na sy kantoor en bel sy minnares, Judalon, om die bekentenis aan te hoor. Lyle ontken hulle het hulle ouers vermoor en verlaat die kantoor saam met Erik.
Episode | Titel | Regisseur | Skrywer | Uitgereik |
---|---|---|---|---|
2 | "Spree" | Carl Franklin | Ian Brennan, David McMillan | 19 September 2024 |
Nadat hulle hulle ouers vermoor het, bestee Lyle en Erik 'n deel van die aand uithuisig om 'n alibi te skep. Toe hulle terugkeer huis toe, bel Lyle die polisie om die moord te rapporteer. Ná 'n ruk begin die broers 'n klomp geld op luukseartikels uitgee, hoewel hulle dink hulle pa het hulle onterf en dat hulle die testament moet kry voordat dit gelees word. Nadat die kluis waar die testament was, oopgemaak is, kom hulle agter hulle pa het al sy geld aan hulle nagelaat. Dr. Oziel hou aan om die seuns in sy spreekkamer te sien en bied aan dat hulle sy sakevennote word. Nadat Oziel vir Judalon uit sy huis gegooi het in 'n woedeaanval, gaan sy na die polisie nadat sy alles oor die Menendez-saak uitgevind het.
Episode | Titel | Regisseur | Skrywer | Uitgereik |
---|---|---|---|---|
3 | "Brother, Can You Spare a Dime?" | Paris Barclay | Ian Brennan, David McMillan | 19 September 2024 |
Nadat Judalon vir die polisie van dr. Oziel se bande vertel wat hy opgeneem het, gaan die polisie na sy huis om daarop beslag te lê. Hulle hoor die broers se bekentenis. Lyle en Erik word gearresteer en van die moorde aangekla. Dis vir hulle moeilik om in die tronk aan te pas, maar Erik bevriend 'n ander gevangene. Die broers ontken die erns van hulle situasie en die moontlike gevolge totdat hulle prokureur vir hulle vertel hulle kan die doodstraf kry. Erik besluit om die waarheid oor sy ouers te vertel, maar Lyle weier. Die bewaarders kom agter Lyle wil saam met Erik ontsnap en skuif hom na 'n ander sel. Die familie stel Leslie Abramson as Erik se prokureur aan. Op voorstel van Leslie vertel Erik vir dr. William Vicary dat Lyle hom seksueel aangerand het, en dat José dit weer met Lyle gedoen het.
Episode | Titel | Regisseur | Skrywer | Uitgereik |
---|---|---|---|---|
4 | "Kill Or Be Killed" | Paris Barclay | Ian Brennan, David McMillan | 19 September 2024 |
Leslie besoek Lyle om sy kant van die storie te hoor, maar Lyle weier om sy pa as 'n monster uit te beeld. Hy sê sy pa wou die beste vir hom hê, al was hy so streng met hom. Hy noem dat sy hare uitgeval het weens die druk wat sy pa op hom geplaas het en dat hulle pa gekeer het dat die broers in hegtenis geneem word vir roof. Eindelik begin Lyle praat oor hoe sy pa hom misbruik het en dat dit van erg na erger gevorder het. Sy ma het niks gedoen om dit stop te sit nie. Lyle het sy pa later sover gekry om op te hou om hom te misbruik, maar hy het Erik toe begin misbruik. Lyle het sy pa gekonfronteer en vir Leslie vertel José wou hulle vermoor. Dominick Dunne, 'n vyand van Leslie, het geargumenteer dat die broers waarlik boos is en nie vergifnis verdien nie.
Episode | Titel | Regisseur | Skrywer | Uitgereik |
---|---|---|---|---|
5 | "The Hurt Man" | Michael Uppendahl | Ian Brennan | 19 September 2024 |
Tydens Leslie se besoek aan Erik, vertel Erik vir haar hoe sy ouers hom begin opsluit het en hoe sy pa hom misbruik het. Volgens hom was sy pa net vir Lyle lief. Toe José hom begin misbruik, het dit gevoel of dit die enigste tyd was dat sy pa werklik vir hom lief was. Die misbruik het later gevorder van masserings tot verkragting. Sy pa het gesê dit is om hom sterk te maak, hoewel dit vir hom eerder 'n marteling was. Sy ma was bewus hiervan en het sy penis begin ondersoek om te sien of hy 'n seksueel oordraagbare siekte het, want hy het in die geheim met 'n ander man seks gehad weens sy ondervinding met sy pa. Erik vertel vir Leslie hy is sedertdien 'n gebroke man.
Episode | Titel | Regisseur | Skrywer | Uitgereik |
---|---|---|---|---|
6 | "Don't Dream It's Over" | Max Winkler | Ryan Murphy, Ian Brennan | 19 September 2024 |
Die fokus skuif na die ontknoping van die broers se bekentenis. Die polisie hoor op dr. Oziel se bande die seuns erken dat hulle hulle ouers vermoor het. Lyle en Erik begin verstaan hoe ernstig hulle situasie is. Die episode delf dieper in hulle sielkundige toestand en die groeiende spanning voor hulle verhoor.
Episode | Titel | Regisseur | Skrywer | Uitgereik |
---|---|---|---|---|
7 | "Showtime" | Michael Uppendahl | David McMillan, Reilly Smith, Todd Kubrak | 19 September 2024 |
Lyle en Erik se verhoor begin in alle erns. Dié episode handel oor die begin van die hofdrama terwyl die aanklaer en advokate hulle openingsrede lewer. Die broers se advokate probeer hulle uitbeeld as die slagoffers van ernstige misbruik, terwyl die aanklaer van mening is dat gierigheid die rede vir die moorde was. Spanning neem toe terwyl die verhoor 'n mediasensasie word en dieper delf in die familiegeheime en emosionele lot van almal wat betrokke is.
Episode | Titel | Regisseur | Skrywer | Uitgereik |
---|---|---|---|---|
8 | "Seismic Shifts" | Ian Brennan | Ian Brennan | 19 September 2024 |
Daar is 'n onverwagte ontwrigting wanneer 'n sterk aardbewing chaos in die hof en die broers se persoonlike lewe veroorsaak. Dié natuurramp word 'n metafoor vir die omwenteling in die hofsaak wanneer nuwe, skokkende getuienis gelewer word. Die spanning van die hofsaak word verweef met die letterlike skudding van die aarde en lê klem op die onstabiliteit en onvoorspelbaarheid van beide die regstryd en die broers se toekoms.
Episode | Titel | Regisseur | Skrywer | Uitgereik} |
---|---|---|---|---|
9 | "Hang Men" | Michael Uppendahl | David McMillan, Reilly Smith, Todd Kubrak, Ian Brennan | 19 September 2024 |
Die verhoor bereik 'n hoogtepunt wanneer albei kante hulle slotredes lewer. Die spanning in die hof is voelbaar terwyl die jurie die seuns se lot beslis. Buite die hof neem die mediawaansin toe en die broers worstel met die feit dat hulle die doodstraf kan kry. Dié episode verken die emosionele en sielkundige tol op Lyle en Erik, sowel as die impak op die res van die familie terwyl die verhoor sy einde nader.
Ontvangs
wysigDie seisoen se debuut was wêreldwyd in die nommereenposisie van Netflix, met 12,3 miljoen kyke (of 97,5 miljoen uur se kyk) in net vier dae ná die uitreiking.[7] In sy tweede week het dit die gewildste reeks van die stromingsdiens gebly.[8] In sy derde week het dit 13,1 miljoen kyke gekry en in die vierde week 8,7 miljoen kyke.[9][10]
Resensente se reakie
wysigRotten Tomatoes het gemeen dit is morbied en bied kykers geen plesier in ruil daarvoor nie.[11] Metacritic het dit 'n punt van 47 uit 100 gegee, gebaseer op 12 resensies, wat dui op 'n "gemengde of gemiddelde" reaksie.[12]
Aramide Tinubu van die tydskrif Variety het gemeen dit is "te lank en uitputtend".[13] Sy het die eerste helfte geprys, veral episode 5, maar gesê dit is daarna minder suksesvol. Tinubu het ook die toneelspel geprys, maar het gedink die verhaal is "futiel en bisar".[13] Inkoo Kang van The New Yorker het ook episode 5 uitgesonder as "van Murphy se roerendste en ontstellendste werk in 'n lang tyd", maar die tweede helfte gekritiseer.[14]
In 'n resensie vir The Hollywood Reporter het Daniel Feinberg gesê die seisoen is "onregverdig lank", maar hy het die vyfde episode geprys vir die skryfwerk en Cooper Koch en Javier Bardem se spel.[15] TVLine het Nicholas Alexander Chavez gekies as "ster van die week" vir sy spel in die vierde episode.[16] Coch het 'n eervolle vermelding gekry vir sy spel in die vyfde episode.[17]
Lyle en Erik se verhouding
wysigDie seisoen is gekritiseer oor die implikasie van 'n bloedskandelike verhouding tussen die Menendez-broers.[18][19] Kevin Dolak het in The Hollywood Reporter van die tonele genoem met skimpe van bloedskande: In die tweede episode soen die broers mekaar kortliks nadat Lyle sy hande op Erik se nek gesit het; later onderbreek Lyle 'n dans van Erik en 'n meisie, vee kokaïen van sy neus af en plaas sy duim in sy broer se mond. Later, in epiosde sewe, kom Kitty af op die broers wat intiem saam stort.[20]
Nicole Vassell van die tydskrif Glamour beskryf die bloedskandelike uitbeelding as "'n skokkende byvoeging tot 'n storie wat reeds moeilik is om te verteer".[21]
Die hofsaakkundige en joernalis Robert Rand, skrywer van die boek van 2018 The Menendez Murders, noem die bewerings van bloedskande "fantasie" en sê daar is geen geloofbare bewyse vir sulke bewerings nie.[22] Volgens hom ruk die storie die broers se verhouding uit verband vir dramatiese effek. Lyle Menendez het ook tydens sy verhoor getuig hy het nooit 'n seksuele verhouding met sy broer gehad nie.[20]
Reaksie van Erik Menendez
wysigOp 20 September 2024 het Erik Menendez 'n verklaring uitgereik deur sy vrou se X-rekening. Hy kritiseer die karikatuuragtige uitbeelding van Lyle en die blatante leuens in die program. Hy voel dit is met opset gedoen en kan nie glo Ryan Murphy weet so min van hulle lewens dat hy dit nie met voorbedagte rade gedoen het nie.
Hy sê: "Dit is vir my hartseer dat Netflix se oneerlike uitbeelding van die tragedies om ons misdaad die pynlike waarhede verskeie stappe terug geneem het – terug deur 'n tyd toe die aanklaer 'n verhaal gebou het op die geloofstelsel dat mans nie seksueel misbruik word nie, en dat mans verkragtingstrauma anders as vroue ervaar. Dié skandelike leuens is die laaste twee dekades verkeerd bewys deur talle dapper slagoffers wat hulle persoonlike skande ontsien en dapper daaroor gepraat het."[23]
In reaksie op Erik se verklaring sê die medeskepper Ryan Murphy: "Daar was vier mense betrokke – twee van hulle is dood, en twee lewe met hulle standpunte. Maar wat van die ouers? Ons het as storievertellers die verpligting om ook hulle perspektief te plaas op grond van ons navorsing, wat ons gedoen het."[24] Nathan Lane, wat die rol van Dominick Dunne vertolk, het gesê: "[Erik] het nie die program gesien nie. Hy kritiseer en veroordeel dit sonder dat hy dit gesien het. 'n Mens moet dit dus met 'n knippie sout neem."[25]
Cooper Koch, wat Erik in die program uitbeeld, sê: "Dit het my beslis geraak en my dinge laat voel [...] Ek verstaan hoe moeilik dit is dat die ergste deel van jou lewe op televisie uitgesaai word waar miljoene mense dit kan sien. Dit is so ontblotend. Ek verstaan hoe hy voel en staan by hom."[25]
Reaksie van die Menendez-familie
wysigOp 25 September 2024 het Lyle en Erik Menendez se familie 'n verklaring oor die seisoen uitgereik, en dit beskryf as 'n "fobiese, afstootlike, anachronistiese, reeksepisodiese nagmerrie". Hulle het bygevoeg: "Ons familie is geviktimiseer deur hierdie groteske skokdrama [...] Dalk gaan Monsters eintlik oor Ryan Murphy."[26] Murphy het geantwoord dat Monsters "die beste ding is wat die afgelope 30 jaar met die Menendez-broers gebeur het", met verwysing na die hernude openbare belangstelling in hulle saak ná die seisoen se kommersiële sukses.[27]
Verwysings
wysig- ↑ Netflix (4 September 2024). MONSTERS: The Lyle and Erik Menendez Story | Official Trailer #1 | Netflix. Besoek op 6 September 2024 – via YouTube.
- ↑ Blistein, Jon (4 September 2024). "The Menendez Brothers Take Family Drama to New Extremes in Monsters Trailer". Rolling Stone. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 16 Oktober 2024. Besoek op 6 September 2024.
- ↑ 3,0 3,1 3,2 3,3 Burack, Emily (19 September 2024). "The Monsters: The Lyle and Erik Menendez Story Casting Is So Spot-On". Town & Country. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 16 Oktober 2024.
- ↑ "Your Guide to the Multiple Perspectives in Monsters". Tudum deur Netflix. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 16 Oktober 2024.
- ↑ "Chloë Sevigny on 'Feud,' 'Monsters,' and Being a Generational Muse". Harper's BAZAAR. 25 Maart 2024. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 16 Oktober 2024. Besoek op 27 September 2024.
- ↑ Dunne, Dominick. "Nightmare on Elm Drive". Vanity Fair (in Engels (VSA)). Besoek op 14 Oktober 2024.
{{cite web}}
: AS1-onderhoud: url-status (link) - ↑ Campione, Katie (24 September 2024). "'Monsters: The Lyle and Erik Menendez Story' Tops Netflix Charts In Debut Weekend But Can't Beat 'Dahmer'". Deadline. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 7 Oktober 2024. Besoek op 25 September 2024.
- ↑ Campione, Katie (1 Oktober 2024). "'Monsters: The Lyle And Erik Menendez Story' Is Netflix's Most-Watched Weekly Title As 'Nobody Wants This' Debuts In Second Place For TV". Deadline (in Engels (VSA)). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 7 Oktober 2024. Besoek op 2 Oktober 2024.
- ↑ "Global Top 10 – TV (English)". Netflix. 9 Oktober 2024. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 9 Oktober 2024.
- ↑ Massoto, Erick (15 Oktober 2024). "Netflix Subscribers Couldn't Wait To Watch The Menendez Brothers Themselves Talk About Their Crime". Collider (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 17 Oktober 2024. Besoek op 16 Oktober 2024.
- ↑ "The Lyle and Erik Menendez Story – Monsters". Rotten Tomatoes. Besoek op 12 Oktober 2024.
- ↑ "Monster (2022): Season 2". Metacritic. Besoek op 10 Oktober 2024.
- ↑ 13,0 13,1 Tinubu, Aramide (19 September 2024). "Netflix's Menendez Brothers Series 'Monsters' Has Powerful Performances That Can't Stop the Story From Falling Off a Cliff: TV Review". Variety. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 9 Oktober 2024. Besoek op 20 September 2024.
- ↑ Kang, Inkoo (8 Oktober 2024). "Ryan Murphy's Latest Era of Cynical Hits". The New Yorker (in Engels (VSA)). ISSN 0028-792X. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 9 Oktober 2024. Besoek op 14 Oktober 2024.
- ↑ Fienberg, Daniel (20 September 2024). "'Monsters: The Lyle and Erik Menendez Story' Review: Despite a Terrifying Javier Bardem, Ryan Murphy's Netflix True-Crime Saga Falls Flat". The Hollywood Reporter. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 8 Oktober 2024. Besoek op 20 September 2024.
- ↑ Mason, Charlie (28 September 2024). "Performer of the Week: Nicholas Alexander Chavez". TVLine (in Engels (VSA)). Besoek op 20 Oktober 2024.
- ↑ Gelman, Vlada (5 Oktober 2024). "Performers of the Week: Kristen Bell and Adam Brody". TVLine (in Engels (VSA)). Besoek op 20 Oktober 2024.
- ↑ Grebenyuk, Yana (21 September 2024). "Inside Monsters' Erik, Lyle Menendez Inaccuracies: Incest Claims, More". Us Weekly. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 9 Oktober 2024. Besoek op 24 September 2024.
- ↑ Chaney, Jen (20 September 2024). "Did Monsters: The Lyle and Erik Menendez Story Need to Be So Sexy?". Vulture. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 9 Oktober 2024. Besoek op 24 September 2024.
- ↑ 20,0 20,1 Dolak, Kevin (23 September 2024). "Incest Innuendo in 'Monsters: The Lyle and Erik Menendez Story' Is Pure Fiction, Says Trial Expert". The Hollywood Reporter. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 9 Oktober 2024. Besoek op 25 September 2024.
- ↑ Vassell, Nicole (20 September 2024). "The Menendez brothers incest plot in Monsters shows true crime has gone too far". Glamour UK. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 7 Oktober 2024. Besoek op 24 September 2024.
- ↑ Esquibias, Liza (23 September 2024). "Lyle and Erik Menendez Trial Expert Says Incest Storyline in Ryan Murphy's 'Monsters' Series Is 'a Fantasy'". People. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 9 Oktober 2024. Besoek op 24 September 2024.
- ↑ Mercuri, Monica. "Erik Menendez Speaks Out Against Netflix's 'Monsters' Series, Calls It A 'Dishonest Portrayal'". Forbes (in Engels). Besoek op 10 Oktober 2024.
- ↑ Ryan Murphy Addresses Criticism of 'Monsters: The Lyle and Erik Menendez Story' (Exclusive) - E! Online. Besoek op 24 September 2024 – via www.eonline.com.
- ↑ 25,0 25,1 Earl, William; Murphy, J. Kim (25 September 2024). "'Monsters' Cast Responds to Erik Menendez Slamming the Series: 'You Should Probably See It Before You Speak Out Again'". Variety. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 6 Oktober 2024. Besoek op 25 September 2024.
- ↑ Kreps, Daniel (26 September 2024). "Menendez Family Slams 'Monsters,' Ryan Murphy in Statement: 'Grotesque Shockadrama'". Rolling Stone (in Engels (VSA)). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 7 Oktober 2024. Besoek op 17 Oktober 2024.
- ↑ Malkin, Marc (26 September 2024). "Ryan Murphy Has 'No Interest' in Meeting the Menendez Bros. and Believes New Trial Is Possible: 'Monsters' Is the 'Best Thing That's Happened to Them in 30 Years'". Variety (in Engels (VSA)). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 9 Oktober 2024. Besoek op 27 September 2024.
Skakels
wysig- Hierdie artikel is in sy geheel of gedeeltelik uit die Engelse Wikipedia vertaal.