Groot Stormsrivierbrug
Die Groot Stormsrivierbrug (voorheen die Paul Sauer-brug) is 'n motorbrug in die Oos-Kaap, Suid-Afrika.
Geskiedenis
wysigHierdie brug oor die Stormsrivier is in 1958 voltooi om 'n belangrike skakel in die N2 ('n nasionale pad) tussen George en Gqeberha te vorm. Dit is 'n geribde boogbrug van beton en lê na-aan die kus, met die gevolg dat dit in 'n klam en verwerende seeklimaat staande moet bly. Hierdie brug aan die oostelike kant van die Tuinroete is 190 meter lank en oorspan die Stormsrivier op 'n hoogte van 130 m. Dit het die Stormsrivierpas uitgesny.
Ontwerp-ingenieur
wysigDie ontwerper van die brug was Riccardo Morandi (1902 – 1989), 'n Italiaanse siviele ingenieur van Rome, wat nie net bekend was vir sy brûe in Italië self nie, maar ook in Kanada en Colombia. Die Stormsrivierbrug is as 'n meesterwerk op die gebied van brug-argitektuur en siviele ingenieurswese beskryf.[1][2]
Verbetering in 1990
wysigMet verloop van tyd het verhoogde motorverkeer dit nogtans noodsaaklik gemaak dat die brug verbreed en versterk moes word. Die ekstra konstruksiewerk is deur die konstruksiemaatskappy HBO Africa gedoen. Die maatskappy is met 'n toekenning vir hierdie projek bekroon.
Dit het 'n bekende plek in die land geword vir avontuurlustiges om hul rekspronge (Eng. bungee jumping) uit te voer.
Ander boogbrûe op die N2
wysigDaar is ook ander betonboogbrûe in Suid-Afrika, soos die Bloukransrivierbrug met 'n span van 272 m, die Van Stadensrivierbrug naby Gqeberha met 'n span van 198 m, die Grootrivierbrug van 189 m en die Bobbejaansrivierbrug van 165 m. Wes van Mosselbaai is 'n balkbrug, die Gouritsrivierbrug, wat 182 m lank is.
Daar is ook 'n hangbrug vir voetgangers aan die mond van die Stormsrivier wat die Stormsrivierbrug genoem word, maar dié is nie in dieselfde klas as die Groot Stormsrivierbrug en soortgelykes wat veel groter motorverkeer dra nie.
Sien ook
wysigVerwysings
wysigWikimedia Commons bevat media in verband met Paul Sauer Bridge. |