Gereformeerde kerk Elandspoort
Die Gereformeerde kerk Elandspoort is ’n gemeente van die Gereformeerde Kerk (GKSA) in die weste van Pretoria. Dit was einde 2014 die naaskleinste Afrikaanse Gereformeerde kerk in die Jakarandastad met net 68 belydende en 25 dooplidmate, vergeleke met onderskeidelik 191 en 82 einde 2001, ’n afname in die sieletal van amper 66 persent. Die kerk sluit, buiten die gelyknamige woonbuurt, ook Danville, Kwaggasrand en Wespark in.
Gereformeerde Kerk Elandspoort | ||
Vorige naam | Danville-Wespark | |
Sluit in | Danville Elandspoort Kwaggasrand Wespark West-View | |
Klassis | Pretoria-Suidwes | |
Huidige predikant(e) | Vakant | |
Belydende lidmate | 46 | |
Dooplidmate | 7 | |
Adres | H.v. De Villiers- en Delaneystraat Danville Pretoria | |
Geskiedenis | ||
Stigtingsdatum | 1959 | |
Eerste predikant | J.H.S. van der Walt (1961–1966) |
Stigting
wysigElandspoort het in 1959 ontstaan as die Gereformeerde kerk Danville-Wespark toe dit van die Gereformeerde kerk Pretoria-Wes afstig. Die gebied wat binne die gemeentegrense val, is net noord van Kerkstraat langs die Daspoorttonnel, ’n bekende baken in die gebied. Die staalreus Yskor het in die beginjare aan ’n groot aantal werknemers huisvesting in die gebied voorsien. Eredienste is eers in die skoolsaal van die Transoranje-skool vir Dowes by Kerkstraat-Wes 855 gebou, maar enkele jare ná afstigting is ’n kerkgebou in die tentstyl, wat destyds so gewild was, opgerig. Dié A-raam-kerk met sy blou geverfde staalbalke wat tot op die grond loop, staan teen ’n effense skuinste in die suide van Danville op die hoek van De Villiers- en Delaneystraat.
Die argitek was Neels Venter en die bouaannemer Brough en Locke. Ds. R.V. Venter, die gemeente se leraar van 1966 tot 1971, het die gedenksteen op 5 Augustus 1967 gelê. Daarop staan die woorde van Psalm 115:1: "Nie aan ons, o HERE, nie aan ons nie, maar aan u Naam gee eer, om u goedertierenheid, om u trou ontwil."[1]
Danville is sowat 7 km wes van Pretoria se stadsaal geleë, noord van Kwaggasrand. Dit is in Februarie 1951 geproklameer. Die voorgestelde naam, Westlands, was nie aanvaarbaar vir die posowerheid nie; daarom is ’n kompetisie gereël waartydens die naam Danville gekies is, ter ere van genl. Daniël Hermanus (Dan) Pienaar (1893–1942), opperbevelvoerder van die militêre basis Voortrekkerhoogte toe die Tweede Wêreldoorlog uitgebreek het.
Predikante
wysig- Van der Walt, Johannes Hendrik Snyman, 1961 – 1966 (gebore 8 Februarie 1936)
- Venter, Roelof Vorster, 1966 – 1971
- Van der Walt, Jan Hendrik, 1971 – 1976
- Meyer, Ernst Walter, 1977 – 1981 (aanvaar sy emeritaat)
- Du Plessis, Pieter Johannes Lodewyk, 1981 – 1998; 1998 – 1999 (in kombinasie met Bergsig; waarna tot hy sy emeritaat aanvaar in 2005 net Bergsig)
- Van der Klashorst, Renier Johannes, 2005 – 2008
Bronne
wysig- (af) Harris, C.T., Noëth, J.G., Sarkady, N.G., Schutte, F.M. en Van Tonder, J.M. 2010. Van seringboom tot kerkgebou: die argitektoniese erfenis van die Gereformeerde Kerke. Potchefstroom: Administratiewe Buro.
- (af) Schalekamp, ds. M.E. (voorsitter: redaksiekommissie). 2001. Die Almanak van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika vir die jaar 2002. Potchefstroom: Administratiewe Buro.
- (af) Van der Walt, dr. S.J. (voorsitter: deputate almanak). 1997. Die Almanak van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika vir die jaar 1998. Potchefstroom: Administratiewe Buro.
- (af) Venter, ds. A.A. (hoofred.) 1957. Almanak van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika vir die jaar 1958. Potchefstroom: Administratiewe Buro.
- (af) Venter, ds. A.A. (hoofred.) 1958. Almanak van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika vir die jaar 1959. Potchefstroom: Administratiewe Buro.
- (af) Vogel, Willem (red.). 2014. Die Almanak van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika vir die jaar 2015. Potchefstroom: Administratiewe Buro.
Verwysings
wysig- ↑ (af) Die 1953-vertaling van die Afrikaanse Bybel op die webtuiste van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika. URL besoek op 5 Desember 2015.
Eksterne skakels
wysig- (en) Die kerkgebou soos te sien op Google Maps. URL besoek op 5 Desember 2015.