Piket-Bo-Berg

streek en plaasgemeenskap in die Wes-Kaap, Suid-Afrika

Piket-Bo-Berg is 'n plaasgemeenskap geleë in die Weskus-distriksmunisipaliteit van die Wes-Kaapprovinsie van Suid-Afrika. Die gemeenskap lê bo-op die Piketberg en is noordwes van Piketberg (dorp) en noord van Goedverwacht geplaas. Dit is oor die jare deur 'n verskeidenheid boere bewerk en later, van die vroeë 1700's af, onder hul kinders verdeel. Voorheen is die Bo-Berg deur Boesmans bewoon, naamlik die Khoikhoi (Hottentotte) en die San.

Map

Teen 1810 is daar reeds vyf plase op die Berg gevestig. Dié was naamlik Moutonsvlei,[1] Tweefontein,[2] Rheeboksfontein, Kafferskloof[3] en Voorstevlei. Die voorgenoemde Goedverwacht word buite rekening gelaat en word gewoonlik as "onder die Berg" beskou omrede dit so laag af in die kloof lê.

Die Berg en vrugteverbouing

wysig

Op 21 Februarie 1814 het 'n Britse soldaat, die Skotse luitenant James Ewart, die Berg opgegaan. Hy het beskryf hoe die tuinboere van die Berg tabak in toue en rolle spin, lemoene, suurlemoene, granate, waatlemoene, vye, perskes, appelkose, amandels, appels en pere kweek en vrugte droog. 'n Klein hoeveelheid wyn en brandewyn is ook gemaak.[4] Dit is gevolglik interessant om te sien hoe boerdery op die Berg vir minstens 150 jaar lank grootliks op dieselfde basis bedryf is.

Boesmantekeninge

wysig
 
Boesman-tekening, moontlik van 'n bok en 'n eland
 
Boesman-tekening van drie mans op die Piket-Bo-Berg

Soos die naam van die Boesmansrivier aandui, waarvan die bolope deur die berg se klofies vloei, benewens die rotstekeninge by Bushman's Hollow, was die boesmans die eerste inwoners van die Berg. Piket-Bo-Berg se Langberg het ook Boesmantekeninge. Al die tekeninge is in rooi oker, behalwe een van 'n koei wat in wit kleurstof aangebring is. Diere en mense is uitgebeeld in die tekeninge wat tussen 50 mm en 100 mm hoog is. Een van die tekeninge is van 'n trop bobbejane en 'n ander van drie wildehonde om 'n vuur. Die tekeninge by Bangkoppie is van klein handafdrukke in rooi verf teen die rotse. Die tekeninge op regterhand, alhoewel nie onder voorgenoemdes nie, is almal op die Berg gevind.

Piket-Bo-Berg en vragmotors

wysig

In die 1920er jare het die eerste vragmotors op die ou Versfeldpas (Ossewaenspas) gery. In die 1940's moes mense met vragmotors op- en afry omdat daar geen ander toegangsweg vir motorvoertuie tot die Berg was nie en die owerhede hulself nog nie daartoe kon dryf om 'n moderne pad te bou nie. Later is die nuwe Versfeldpas gebou en geteer, wat vandag deur meeste mense gebruik word om die Berg te bereik.[5]

Geskiedenis van plase en afdelings

wysig
Moutonsvlei
wysig

Vermoedelik sou Moutonsvlei, in die Moutonsvallei geleë, oorspronklik deel van Namaquasfontein-plaas gewees het wat reeds in 1723 aangelê is. Die boer het die plaas De Kromme Hoek genoem[6] wat dan Moutonshoek geword het, en waarvan Moutonsvlei ‘n plaasonderverdeling was. Moutonsvlei is in 1839 aan Willem van Zyl verkoop.

Teen 1849 was Moutonsvlei nog maar 'n swak ontwikkelde plaas met 'n eenvoudige plaasopstal en min bome. Daar was egter alreeds 'n lemoenboord volgens 'n tekening wat J.C. Poortermans in daardie jaar gemaak het. Die plaas het die afgelope 200 jaar verskeie eienaars gehad en was ook nie deurgaans permanent bewoon nie. Dit is deur van die vorige eienaars in die somermaande bewoon wanneer dit ondraaglik warm onder die Berg was. Die familie Versfeld was die volgende eienaars en het die plaas Moutonsvlei in 1872 vir £800 gekoop. In 1872 koop Johannes Paulus Eksteen Versfeld Moutonsvlei, 3 850 hektaar groot, van die twee broers Johannes Nicolaas en Theunis Daniël Smit. Hy het heelwat boegoe op die berg aangetref waarvan die familie Versfeld sedert 1872, en tot selfs ná die heengaan van Walter Versfeld, na die buiteland uitgevoer het.[7] John Versfeld het Moutonsvlei ontwikkel tot 'n pragplaas. Hy het vrugteboorde aangeplant, bykomstig tot die enkeles wat daar alreeds was en het die eikelanings aangelê. Die Versfelds het Moutonsvlei verder onderverdeel en die plase Stawelklip (1925), Kersefontein en Seven Oaks het ontstaan. Eersgenoemde twee was van Walter Versfeld se grond, terwyl Seven Oaks aan sy broer William behoort het. William het veral met boegoe geboer en het ook boegoe-olie gestook. Frank Versfeld (Francis John, geb. 28 Desember 1874) het na sy vader se dood in 1896, die boerdery op Moutonsvlei oorgeneem. Op 16 November 1952 het Frank se seun John die plaas Moutonsvlei aan Peter H. Starke verkoop en daarmee het die plaas se verbintenis tot die Versfeld familie ten einde geloop.

Kafferskloof
wysig

Teen die jaar 1800 het Michiel Johannes Lucas (1766-1840) te Kafferskloof gewoon. Van sy afstammelinge was teen 1865 nog daar woonagtig en dit is hier waar hulle die tabaktboerdery begin het wat vir sowat 'n 150  jaar lank op die Berg voortgeduur het en waaraan die familie se naam gekoppel geraak het.[8] In 1898 het Jacobus Johannes Lambrechts Kafferskloof gekoop.

Tweefontein
wysig

Die ou plaas Twee Fontynen op die Platberg is voor 1781 deur Jurgen Hanenkamp bewoon en toe hy die plaas verlaat het, is Frederik Diederiksz[9] toegelaat om hom op die plaas te vestig. Afstammelinge van hierdie familie, woon na meer as 200 jaar nog steeds op die Berg. Die familie Diederiks was van die Berg se mees gerespekteerde bruin families. Die oorspronklike plaas het van die huidige plase en kleinhoewes van Eagle's Pride af, oor Weltevrede en tot by die suidelike grense van Adullam gestrek. Op 27 Januarie 1870 was die plaas nog 2 598 morg groot en het dit uit die boedel van Johanna Adriana Lucas (gebore Vermeulen), oorgegaan na haar vier seuns. Tweefontein is later in verskeie tuinplase onderverdeel en verskeie families het hier gewoon.

Rheeboksfontein
wysig
 
Rheeboksfontein-afdeling op Piket-Bo-Berg

Hierdie plaas het blykbaar vroeër jare vir Langberg-plaas aangesluit. Rheeboksfontein het al die hedendaagse plase soos Langberg, Stalkrans, Tierhoek, Achtervlei, Morester, Januariesfontein, Dennegeur, Kleinbegin en die gedeelte wat steeds as Rheeboksfontein bekend is ingesluit. Francis Johannes (Frank) Smith, seun van F. J. J. van Langberg, koop in die 1940's gedeelte 5 van die plaas wat vandag nog die naam dra. Sy seun Lambert (Bert) Karel het na sy dood die plaas bekom.

Langberg
wysig
 
Plaas op Piket-Bo-Berg vanaf Beacon Isle staproete

Die plaas is in 1831 aan Stephanus Christian Smit toegeken en het daarna verskeie eienaars gehad wat gesukkel het om 'n bestaan daar te maak. Daar is egter aanduidings dat die plaas moontlik selfs al in die vorige eeu bewoon was.[10] Versfeld en sy vrou, Mary Metcalf, het op Langberg gaan woon nadat hulle £300 (R600) kontant vir die plaas betaal het wat op daardie stadium aan ene Daniel A. Lambrechts behoort het. In 1872 het die Versfelds na Moutonsvlei getrek en daar gaan boer. Francois J.J. Smith het Langberg van die Versfelds gekoop. Teen ongeveer die middel vyftiger jare het Christiaan Johannes Smith, Frank se jonger broer, Langberg aan die familie Green verkoop. Daar was op een stadium so 'n konsentrasie van mense om Langberg dat daar in 1920 'n skooltjie geopen is wat tot in 1939 bestaan het, waarna dit by die Sunnybrook-skool ingelyf is.

Diepkloof
wysig

Diepkloof was die plaas van Corelis Johannes Erasmus Paxton en eggenote Christoffelina Geldenhuys. Hy het die plaas op 23 Februarie 1927 van Walter Versfeld gekoop, wat dit van Stawelklip afgesny Het.

Sterkfontein
wysig

Nadat hul vader, Dirk, aanvanklik te Moutonsvlei gewoon het, het sy seun, Dirk Johannes Jacobus ("Dirk Eli"), hom te Sterkfontein gevestig waar sy kinders grootgeword het. Op 'n deel van die oorspronklike plaas het sy broer Johannes Jacobus ("Jan Bek") met sy gesin gewoon. Dirk Eli het die plaas in 1927 van Walter Versfeld gekoop wat dit van Stawelklip afgesny het.

Voorstevlei
wysig

Die ou plaas Voorstevlei se naam was oorspronklik Voorste Valley. Een van die vroeë eienaars was Jurgen Hanekom wat die plaas op 28 Februarie 1839 bekom het. In 1852 was Gert Olivier die eienaar en op 18 Maart 1869 Johannes (John) Versfeld van Langberg wat die plaas vir R1 000 gekoop het, want op daardie stadium was dit 'n buurplaas. 'n Deel van Voorstevlei het teen 1921 aan Jacobus Burger behoort wat verwant was aan die Burger van Goedverwacht. Dié gedeelte word in 1922 die plaas Heldervue met Christopher Armstrong as eienaar.

Die oorspronklike plaas Voorste Valley het al die plase ingesluit wat ons vandag as Heldervue, Heideland, Pomona, Tierkloof, Dassieklip, Paardekraal en Vergesig ken, en dit het gestrek tot die bopunt van die nuwe Versfeldpas.

Protea/Vergesig
wysig

Die plaas Protea het ook op 'n stadium aan Walter Versfeld behoort. Volgens Gert J. Coetzee het Walter Versfeld hierdie plaas vir Hendrik Burger, present gegee. 'n Latere intrekker, Michiel Wilhelm Hamman, het op 11 Mei 1951 die plaas gekoop en dit die naam van Vergesig gegee. Sy seun, is dikwels op skool geterg met die stelling dat die  plaas se naam eintlik "bobbejaangesig" moes gewees het omrede dit gegrens het aan 'n stuk ruwe bergveld waar bobbejane gehou het. Die naamgewer het egter die uitsig op Tafelberg, wat mens op 'n mooi dag duidelik in die verte kon sien lê, in gedagte gehad.

Achtervlei
wysig

Blykbaar bestaan die plaas al sedert Augustus 1893 toe John Versfeld 'n gedeelte daarvan bekom het. Francois J.J. Smith het die plaas in 1913 gekoop. Dit is waarskynlik oorspronklik van Rheeboksfontein afgesny. In 1924 koop Dirk Johannes Geldenhuis vir Achtervlei. Sy seun met dieselfde naam, Dirk "Tandjies" het later te Diepkloof gewoon. In 1943 verkoop Dirk Door 'n gedeelte aan Jasper G.J. Smit en in 1953 'n deel aan Nikolaas J. Walters. Die plase Moreson, Stratmore, Tierhoek en Noupoort is almal onderverdelings van hierdie plaas. 'n Gedeelte van Achtervlei is in Januarie 1951 deur Cyril John Charles Burrell gekoop.

Avontuur
wysig

Op Avontuur het families het mekaar redelik vinnig afgewissel. Omstreeks 1900 het Dirk Jacobus Lucas en sy vrou hier gewoon. Op een stadium het Hennie Lambrechts, wat ook op Langberg was, hier gewoon. Bester-families, soos dié van Philip J. en Hendrik Hermanus, het in die dertiger tot veertiger jare hier gewoon. Hennie Lambrechts en sy vrou, Sophia, het hier finansieel baie swaar gekry en het die plaas later aan Walter Versfeld vir £800 verkoop.

Zandleegte/Sandleegte
wysig

Aan die begin van die eeu het Hermanus Jozua Engelbrecht se vader hier gewoon. Jan Engelbrecht het ook nog hier gewoon toe sy vyf oudste kinders skool toe is. Die ou pad dorp toe van Stawelklip af het oor Zandleegte, verby die ou Kamelklip met die ou Versfeldpas af na Voëlvlei geloop.

Eagle's Pride
wysig

Een van die meer onlangse plaasname op die Berg is Eagle's Pride bokant en noord van Platberg. Hoe die plaas se naam ontstaan het, is 'n interessante verhaal deur Gert Johannes Coetzee van Stawelklip. Hy het die 620 morg onontwikkelde grond vir 3 000 pond van Bosman Lucas, die vorige eienaar, gekoop. Toe een bewolkte dag, is hy en Walter Versfeld te perd weg om die 620 morg grond wat hy gekoop het, te gaan besigtig. Terwyl hul na die grond staan en kyk, het Gert se ou klein wit hondjie daar rondgeloop toe 'n groot witkruisarend op die hondjie afgeduik het om hom te vang. Die ou hondjie het net betyds onder 'n bos ingespring en Gert het toe maar afgeklim en hom op sy perd getel uit vrees dat die arend wel later sy hondjie gevang gaan kry. Hul besluit toe om die plaas die naam van Eagle's Pride te gee omrede dit die groot arend se plato was. 'n Bietjie later het die twee besluit om die plaas tussen hulle te verdeel en het die ou boere-ooreenkoms aangegaan: Gert het die plaas in twee verdeel, maar Walter kon eerste kies. Walter het toe vir Eagle's Pride, die verste deel gekies, en Gert het die voorste deel gekies wat die naam New Caledonia gekry het.

Pomona
wysig

Wes van Sandleegte was die plaas Pomona wat Herbert (Bertie) Henry in 1927 gekoop het en wat later deur sy seun oorgeneem is. Hulle was uitvoerders van appels en dit is een van die ouer en beter ontwikkelde plase van die Berg. Pomona was oorspronklik deel van die ou plaas Voorste Valley.

Plantlewe

wysig
 
Groenheide (Erica mammosa) in die noordelike Piketberg

Die Berg is by plantkundiges bekend vir sy groot verskeidenheid fynbosspesies, en wat veral wat die protea-familie betref, besonder sterk verteenwoordig is. Die variant van die koningsprotea (P. cynaroides) wat op die Berg voorkom, so skryf 'n kenner van hierdie plante, suikerkanne (P. nerifolia), suikerbosse (P. repens) en wabome (P. nitida) is besonder volop, benewens tolbosse (Leucadendron) en knokkerbosse (L. pubescens). In haar boek oor proteas verwys Marie Vogts nie minder as sestien keer na minder bekende lede van die familie wat op die Berg voorkom nie. Die besondere rooitolbos (L. discolor) word beskryf as "'n pragtige leucadendron wat beperk is tot Piketberg".[11] Die ander lede van die protea-familie, soos speldekussings (Leucospermum), stompies (Mimetes), spinnekopbosse (Serruria), ensomeer, is ook goed op die Berg verteenwoordig. Die verskeidenheid van heide (Erica) en sewejaartjies is ook iets besonders. Daar is besmoontlik meer plantspesies op die Berg as in die ganse Britse Eilande.[12]

Verwysings

wysig
  1. Smith, M.H.D. (1985) Boerepioniers van die Sandveld. Pretoria: Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing, bl. 71-72: Johannes Nicolaas Smit... Daarna koop hy twee derdes van Moutonsvlei, die tuinplaas geleë bo-op die Piketberge.
  2. Smith, M.H.D. (1985) Boerepioniers van die Sandveld. Pretoria: Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing, bl. 89: Stephanus Christiaan, gedoop 18.11.1771, woon Tweefontein bo-op Piketberg...
  3. Smith, M.H.D. (1985) Boerepioniers van die Sandveld. Pretoria: Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing, bl. 190: Om die hoofstuk oor die Lambrechtse af te sluit kan laastens vermeld word dat ander nasate van die eerste Lambrechtse hulle bo-op die Piketberge as boere gaan vestig het. Die nageslag van hierdie groep besit tans nog die plaas Kafferskloof.
  4. Leibbrandt, H.C.V. (1905) Precis of the archives of the Cape of Good Hope, bl. 141
  5. Smith, M.H.D. (1985) Boerepioniers van die Sandveld, bl. 62-63
  6. Kaapse Argiefbewaarplek. RLR 38, Vol 1, bl. 51
  7. Coetzer, Helene (1957). Die bergplase van Piketberg. bl 6.
  8. Struik, C. (1970) Kaapstad. James Ewart's journal covering his story at the Cape of Good Hope (1811-1814) and his part in the expedition to Florida and New Orleans (1814-1815) with an introduction by A Gordon-Brown, bl. 21-22
  9. Kaapse Argiefbewaarplek. R L R. 28(2), bl. 227
  10. Burger, W.A. (1975) Piket teen 'n berg, die geskiedenis van Piketberg 1660-1970, bl. 319
  11. Vogts, Marie (1982) Kaapstad, Struik. Suid-Afrika se Proteacea. Ken hulle en Kweek hulle, bl. 225.
  12. du Preez, Thys (1994). Die Berg Piketberg en sy Mense, bl. 92

32°47′12″S 18°42′20″E / 32.78667°S 18.70556°O / -32.78667; 18.70556