Rynse Kerk, Stellenbosch

Die Rynse Kerk in Stellenbosch is 'n sendingkerk in Suid-Afrika. Sowel die kerk as die preekstoel is kultuurmonumente.

Ligging

wysig

Die kerk is in Bloemstraat aan die suidekant van die Braak.

Die oos-wes-vleuel van die kerk kan 400 lidmate huisves en is opgerig deur ‘’Het Stellenbosche Meedewerkende Zendelings Genootschap ‘’ om sendingwerk onder die slawe te doen. Die erf is geskenk deur die plaaslike Turf Club. Op die oorspronklike gewel staan die datum van oprigting, naamlik 1823, en daardie gewel is ‘n nabootsing van die gewel van die destydse N.G. Kerk op die dorp. Ds. Meent Borcherds het op 5 Februarie 1824 die inwyding waargeneem waarby ook Charles Somerset, Abraham Faure, eerw. Evans van die Paarl, die Wesleyaan James Archbell en Erasmus Smit aanwesig was. In 1830 neem die Rynse Sendinggenootskap (Vereinigte Rheinische Missionsgesellschaft) onder P.D. Lückhoff die gemeente oor. Weens die groeiende lidmaattal is die muur tussen die kerk en die konsistorie in 1838 verwyder en ‘n galery ingebou. Met die vrystelling van die slawe het die gemeente so gegroei dat in 1840 die noordelike vleuel gebou is. Dit is op 1 Desember daardie jaar deur Tobias Johannes Herold ingewy in die aanwesigheid van o.a. P.K. Albertyn en P.E. Faure. Die dubbel klokkestoel langs die nuwe hoofingang is ontwerp deur W. Blersch en die twee klokke is geskenk deur die Sondagskoolleerlinge van Barmen, waar die hoofkantoor van die Rynse Sendinggenootskap in Duitsland gevestig is. Omvattende restourasie van die gebou het in 1977 plaasgevind onder die leiding van die bewaringsargitek Gawie Fagan. Op 6 September 1963 is die kerk weens sy historiese en argitektoniese belang tot gedenkwaardigheid verklaar.

Preekstoel

wysig

Die preekstoel sowel as die kateder in hierdie kerk is sedert 6 Februarie 1948 amptelike kultuurmonumente weens die besondere houtsneekuns. Dit is in 1853 deur die Kaapse meubelmaker Simon Pieter Christoffel Londt vervaardig vir die Moedergemeente op Stellenbosch. Toe laasgenoemde gemeente sy kerkgebou restoureer, is die preekstoel en kateder in 1863 aan die Rynse gemeente geskenk. Jare lank is vermoed dat dit die werk was van Anton Anreith omdat dit kenmerke toon van die preekstoele in die Lutherse kerk en die Groote Kerk, beide in Kaapstad. Londt en sy familie het Anreith goed geken en is die beïnvloeding in die styl nie onverwags nie.

Persone

wysig
  • Pieter Kuypers Albertyn (*Stellenbosch, 6 Desember 1813 - †Botrivier, 11 April 1878), NG kerk predikant
  • James Archbell (*Tadcaster, Engeland, 30 Januarie 1798 - †Pietermaritzburg, 1866), Wesleyaanse sendeling
  • Philip Eduard Faure (*Stellenbosch, 1 Februarie 1811 - †Wynberg, 7 Desember 1882), NG kerk predikant
  • Paulus Daniël Lückhoff (*Elberfeld, Duitsland, 27 September 1803 - †Stellenbosch, 28 Desember 1891), Rynse sendeling

Lees ook

wysig

Bibliografie

wysig
  • Barker, Brian Johnson en Daryl Balfour: Stellenbosch – place of gables, oaks & wine. Kaapstad: Struik, 1992. ISBN 1-86825-149-7
  • Fransen, Hans: A guide to the old buildings of the Cape. A survey of extant architecture from before c1910 in the area of Cape Town, CalviniaColesbergUitenhage. Kaapstad: Jonathan Ball, 2004. ISBN 1-86842-191-0
  • Oberholster, J.J.: Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Kultuurstigting Rembrandt van Rijn vir die Raad vir Nasionale Gedenkwaardighede, 1972. ISBN 0-620-00191-7
  • Proust, Alain en D.H. Pennewaert: Stellenbosch – a visual promenade. Vlaeberg: La Compagnie du Cap, 2006. ISBN 0-620-35009-1
  • van Huyssteen, Ters: Foot-loose in Stellenbosch – a guide for walkers. Kaapstad: Tafelberg, 1977. ISBN 0-624-01303-0