Slang (sterrebeeld)
Die Slang (Latyn: Serpens) is ’n sterrebeeld in die noordelike hemelruim. Dit is een van die 48 konstellasies wat deur die 2de-eeuse sterrekundige Ptolemeus beskryf is en is steeds een van die 88 moderne sterrebeelde.
Slang | ||||
Latynse naam | Serpens | |||
Genitief | Serpentis | |||
Afkorting | Ser | |||
Waarnemingsdata (Epog J2000) | ||||
Regte klimming | Serpens Caput: 16h Serpens Cauda: 18h | |||
Deklinasie | Serpens Caput: 10º Serpens Cauda: -5º | |||
Grootte | 637 vk. grade (23ste) | |||
Kwadrant | Serpens Caput: NQ3 Serpens Cauda: SQ3 | |||
Besonderhede | ||||
Hoofsterre | 9 | |||
Helderste ster | Alpha Serpentis (Unukalhai) | |||
Naaste ster | GJ 1224 | |||
Sterre helderder as 3 m | 1 | |||
Sterre met planete | 11 | |||
Messier-voorwerpe | 2 | |||
Bayer-/Flamsteed-sterre | 57 | |||
Aangrensende sterrebeelde | ||||
Serpens Caput: Noordelike Kroon, Veewagter, Maagd, Weegskaal, Slangdraer, Hercules Serpens Cauda: Arend, Slangdraer, Boogskutter, Skild | ||||
|
Dit is uniek onder moderne sterrebeelde deurdat dit uit twee nie-aangrensende dele bestaan: Serpens Caput (die Slang se Kop) in die weste en Serpens Cauda (die Slang se Stert) in die ooste. Tussen dié twee helftes lê die Slangdraer. Die lyf van die Slang word gewoonlik uitgebeeld as sou dit agter die Slangdraer lê. Al bestaan dit uit twee dele, word dit as een sterrebeeld beskou.
Ruimtevoorwerpe
wysigSterre
wysigDie helderste ster in die Slang is Unukalhai of Cor Serpentis (die Slang se Hart), wat ’n skynbare magnitude van 2,63 het. Net een van die sterre in die sterrebeeld is helderder as 3 mag. Alpha Serpentis is in die kopgedeelte. Delta Serpentis, ook in die kop, is ’n dubbelster 210 ligjare van die Aarde af. Theta Serpentis, in die stert, is ook ’n dubbelster.
Diepruimtevoorwerpe
wysigMessier 5, ’n bolvormige sterreswerm, is in die kop.
Die Arend-newel (IC 4703) en sy sterreswerm, Messier 16, is sowat 7 000 ligjare van die Aarde af. Die newel is 70 x 50 ligjare groot en bevat die Skeppingspilare, drie stofwolke wat beroemd geword het nadat die Hubble-ruimteteleskoop ’n foto daarvan geneem het. Die sterre wat in die Arend-newel ontstaan, tesame met dié van ’n ouderdom van sowat 5 miljoen jaar, het ’n gemiddelde temperatuur van 45 000 Kelvin en vervaardig genoeg bestraling dat dit die stofpilare eindelik sal vernietig.[1]
’n Deel van die Melkweg strek deur die stert.
Die Serpens-suid-sterreswerm is deur Nasa se Spitzer-ruimteteleskoop (SST) ontdek in die suidelike deel van die Serpens-wolk. Die ontdekking is danksy die infrarooi-waarnemingsfunksie van die SST omdat die sterre teen sigbare golflengtes feitlik heeltemal verberg word deur interstellêre stof in die Serpens-wolk.
Hoag se Voorwerp is ’n perfek gevormde ringsterrestelsel 59 miljoen ligjare van die Aarde af met ’n rooiverskuiwing van 0,00425. Die buitenste ring bestaan uit hoofsaaklik jong blou sterre, maar in die middel kom ouer, geel sterre voor. Die gewildste teorie vir die buitengewone vorm is dat dit ’n staafspiraalstelsel was waarvan die spiraalarms se snelheid te groot was om deel van die stelsel te bly en daarom losgekom het.[1]
Arp 220 is nog ’n ongewone stelsel in die Slang. Dié prototipiese ultrahelder infrarooi-sterrestelsel is 250 miljoen ligjare van die Aarde af. Dit bestaan uit twee groot spiraalstelsels wat besig is om te bots, met hul kerns wat op ’n afstand van 1 200 ligjare om mekaar wentel. Dit veroorsaak uitgebreide stervorming in albei stelsels. Dit bevat ’n groot sterreswerm van meer as ’n miljard sterre wat gedeeltelik bedek lê onder dik stofwolke naby een van die sterrestelsels se aktiewe kern.[1]
Seyfert se Sekstet is ’n groep van ses sterrestelsels, waarvan vier interaktief is. Die swaartekraggebonde stelsels is omtrent 190 miljoen ligjare van die Aarde af en is sowat 100 000 ligjare breed – dit is dus een van die digste bekende sterrestelselgroepe. Sterrekundiges voorspel die vier interaktiewe stelsels sal eindelik saamsmelt en een groot elliptiese sterrestelsel vorm.[1]
Meteoorreëns
wysigDaar is twee daglig-meteoorreëns wat oënskynlik uit die Slang kom, die Omega- en die Sigma-Serpentiede. Albei se hoogtepunt is tussen 18 en 25 Desember.[2]
Verwysings
wysig- ↑ 1,0 1,1 1,2 1,3 Wilkins, Jamie; Dunn, Robert (2006). 300 Astronomical Objects: A Visual Reference to the Universe (1ste uitg.). Buffalo, New York: Firefly Books. ISBN 978-1-55407-175-3.
- ↑ Jenniskens, Peter (September 2012). "Mapping Meteoroid Orbits: New Meteor Showers Discovered". Sky & Telescope: 24.
- Ridpath, Ian, en Tirion, Wil. Stars and Planets Guide, Collins, Londen, (2007). ISBN 978-0-00-725120-9. Princeton University Press, Princeton. ISBN 978-0-691-13556-4.
Eksterne skakels
wysig- The Deep Photographic Guide to the Constellations: Serpens
- The clickable Serpens (Caput)
- Star Tales – Serpens
- Stellar Siblings in Serpens South Geargiveer 7 Junie 2010 op Wayback Machine
- Wikimedia Commons het meer media in die kategorie Die Slang.
- Hierdie artikel is vertaal uit die Engelse Wikipedia