Argentynse Rugbyunie

Die Argentynse Rugbyunie (Spaans: Unión Argentina de Rugby, afgekort “UAR”) is die bestuursliggaam wat rugby en sewesrugby in Argentinië beheer. Die beheerliggaam is in 1899 gestig en in Buenos Aires gesetel. Sedert 1987 verteenwoordig dit Argentinië by Wêreldrugby en sedert 1988 ook by Suid-Amerika Rugby (“SAR”).

Argentynse Rugbyunie
Kenteken van die Argentynse Rugbyunie
Kenteken van die Argentynse Rugbyunie
Spaanse naam Unión Argentina de Rugby
Afkorting UAR
Land Vlag van Argentinië Argentinië
Sportsoorte Rugby, Sewesrugby
Gestig op 10 April 1899
Gestig in Buenos Aires, Argentinië
Lid van Wêreldrugby
Aangesluit in 1987
Vastelandse beheerliggaam Suid-Amerika Rugby
President Gabriel Travaglini
Amptelike taal Spaans
Amptelike webwerf uar.com.ar

Geskiedenis

wysig
 
Stigtingsdokument van die River Plate Rugby Union op 10 April 1899

Die Argentynse Rugbyunie is op 10 April 1899 as River Plate Rugby Union gestig[1] en het in 1987 by die Internasionale Rugbyvoetbalraad (IRVR, nou Wêreldrugby) aangesluit.[2] Daarbenewens was die Argentynse beheerliggaam in 1988 ’n stigtingslid van CONSUR (nou Suid-Amerika Rugby).[3] Die Argentynse Rugbyunie bestaan uit 25 plaaslike beheerliggame, wat grotendeels met die Argentynse provinsies ooreenstem. Die belangrikste rugbyliga in Argentinië is die Nacional de Clubes, waar die helfte van die spanne uit Buenos Aires en die ander helfte uit die provinsies afkomstig is. Van 2016 tot 2020 het met die Jaguares ’n Argentynse span deelgeneem aan die Superrugbytoernooi, die Suidelike Halfrond se internasionale rugbyliga. Sedert 2023 neem die twee Argentynse keurspanne Dogos en Pampas deel aan die professionele Superrugby Amerikas. Hieraan neem ook spanne uit Brasilië, Chili, Paraguay, Uruguay en die Verenigde State deel.[4] Die meeste nasionale spelers is veral aktief by Europese klubs in Engeland of Frankryk.

 
’n Kaart van die Argentynse plaaslike beheerliggame

Die Argentynse Rugbyunie organiseer verskeie nasionale spanne, insluitend Argentinië se nasionale seniorrugbyspan vir mans (die Poemas), vroue en jeug. Hulle bestuur saam met Rugby Australia, Nieu-Seeland Rugby en die Suid-Afrikaanse Rugbyunie as ’n gesamentlike onderneming SANZAAR, die beheerliggaam van beide Superrugby en Die Rugbykampioenskap, die vernaamste rugbytoernooie in die Suidelike Halfrond. Die UAR hou ook toesig oor sewesrugby in Argentinië en aangesien dit ’n Olimpiese sportsoort is, werk hulle met die Argentynse Nasionale Olimpiese Komitee saam.

Naas die amptelike nasionale span roep die Argentynse Rugbyunie ook ander keurspanne byeen. Daarbenewens bestuur die beheerliggaam kinder- en jeugrugby in Argentinië. Kinders en jongmense word reeds op skool aan rugby bekend gestel en na gelang van hul belangstelling en talent begin hul met hul afrigting. Die Pumitas is die o/20-nasionale span en hulle neem aan die o/20-Rugbykampioenskap en die Wêreldrugby o/20-kampioenskap deel.[5][6] Die Argentina XV (XV verwys na die aantal spelers in rugby) is die tweede nasionale span van Argentinië. Van 2010 af het die keurspan Pampas XV bestaan, wat net uit Argentynse spelers saamgestel is, maar aan die Suid-Afrikaanse Vodacombeker (en aansluitend tot hul ontbinding aan die Wêreldrugby Pasifiekuitdaging) deelgeneem het.[7]

Net soos Italië is Argentinië die enigste vlak-een-rugbyland wat tot dusver nog nie ’n wedstryd tydens ’n rugbywêreldbekertoernooi gehuisves het nie, alhoewel hulle vir die Rugbywêreldbeker 2027 aansoek gedoen, maar dié bod ter ondersteuning van die Australiese s’n laat vaar het.[8][9]

Verwysings

wysig
  1. (es) "Fundación del River Plate Rugby Union Championship (1899)". Club Atlético del Rosario. 18 April 2019. Besoek op 26 Maart 2024.
  2. (en) "Argentina". Wêreldrugby. Besoek op 26 Maart 2024.
  3. (es) "Historia". Suid-Amerika Rugby. 2021. Besoek op 26 Maart 2024.
  4. (en) "Super Rugby Americas kicks off in Argentina". Wêreldrugby. 17 Februarie 2023. Besoek op 26 Maart 2024.
  5. (en) "Inaugural rugby championship under-20 all set for sunshine coast kick-off". Superrugby. Besoek op 30 April 2024.
  6. (en) "World Rugby U20 Championship". Wêreldrugby. Besoek op 26 Maart 2024.
  7. (es) "Pampas XV, el equipo nacional que nos representa en un torneo sudáfricano". Diario26. 22 Maart 2013. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 13 Junie 2021. Besoek op 13 Junie 2021.
  8. (en) Nick Mulvanney (16 April 2020). "Argentina ready to abandon 2027 Rugby World Cup bid making Australia strong favourites to host tournament". The Independent. Besoek op 26 Maart 2024.
  9. (en) Nancy Gillen (16 April 2020). "Argentina withdraw 2027 Rugby World Cup bid to strengthen Australian campaign". insidethegames.biz. Besoek op 26 Maart 2024.

Eksterne skakels

wysig