Gereformeerde kerk Bloemfontein-Suidheuwels
Die Gereformeerde kerk Bloemfontein-Suidheuwels is die sewende gemeente van die GKSA wat gestig is in die Vrystaat se hoofstad, Bloemfontein, maar nadat twee gemeentes, Bloemfontein en Bloemfontein-Oos ontbind het, is dit nou (2024) die vyfde oudste gemeente. In 2014 het die gemeente 294 belydende en 55 dooplidmate gehad. Tien jaar later was dit 210 en 20.
Gereformeerde Kerk Bloemfontein-Suidheuwels | ||
Sluit in | Ehrlichpark Fauna Fichardtpark Fleurdal Generaal De Wet Oranjezicht Uitsig | |
Klassis | Suid-Vrystaat | |
Huidige predikant(e) | Hans Grobler | |
In kombinasie met | Reddersburg | |
Belydende lidmate | 210 | |
Dooplidmate | 20 | |
Adres | Onze Rustsingel, Generaal De Wet, Bloemfontein | |
Geskiedenis | ||
Stigtingsdatum | 16 Mei 1965 | |
Afgestig van | Bloemfontein-Suid | |
Eerste predikant | W.J.I.M. du Plessis (1965–1971) |
In 1965 het die kerkraad van die Gereformeerde kerk Bloemfontein-Suid vergader en besluit om die wyke suid van die spoorlyn na Kimberley af te stig. Die amptelike afstigting het dan ook op 16 Mei 1965 plaasgevind. As bruidskat kry die nuwe gemeente ’n kerkerf in die voorstad Generaal De Wet, waarop die nuwe gemeente se kerkgebou opgerig moes word.
Aan die begin is eredienste op verskeie plekke gehou voor bouwerk aan die gebou kon begin. Die projek se beplanning het op 27 Julie 1967 begin en ’n tender van R60 877 van die firma J.P.M. Moffett is aanvaar. Ds. W.J.I.M. du Plessis het die hoeksteen op 27 Mei 1968 gelê. Die jongste uitgawe van die gemeenteblad is saam met die hoeksteen ingemessel. ’n Kenmerk van dié destyds moderne gebou is sy wegstaande toring wat met die gebou verbind is. Die gemeente se susters (vrouelidmate) het aan die werk gespring en die orrel, wat teen ’n koste van R6 475, betreklik gou afbetaal.
Net nege maande nadat die hoeksteen gelê is, en wel op 1 Maart 1969 kon die kerk in gebruik geneem word tydens ’n erediens wat dr. G.C.P. van der Vyver gelei het. Ds. W.J.I.M. du Plessis eggenote, Breggie du Plessis (gebore op 9 Februarie 1928), het die hoofingang by die hoeksteen plegtig oopgesluit. Die kerkgebou het sitplek vir sowat 600 kerkgangers, wat met 200 vermeerder kan word wanneer die voudeure oopgeskuif word wat die saal en die kerk skei. Lidmate het heelwat van die items in die kerk geskenk: die galeryhorlosie, doopbakkie, knielbank voor die preekstoel, Kanselbybel en kerkbanke.
Destyds het die gemeente nog gegroei; daarom is op ’n vergadering op 17 Maart 1976 besluit om die kerk te vergroot. Die gevolg was die bou van die kerksaal wat oudl. V. du Plessis teen ’n koste van R104 000 opgerig het. Weens die hoë boukoste het die kerkraad afstigting bespreek en so het die Gereformeerde kerk Bloempark in 1979 afgestig.
Predikante
wysig- Du Plessis, Willem Jacobus Ignatius Michael, 1965 – 1971
- Opperman, Johannes Marthinus, 1971 – 1974 (verlaat die bediening)
- Van der Walt, Johannes Petrus Lodewikus, 1974 – 1979
- Janse van Rensburg, Karel Anton, 1976 – 1981
- Kruger, dr. Petrus Paulus, 1982 – 1991
- Jansen, Carl Albert, 1991 – 1999
- Aucamp, Johannes Louis, 2000 – 2008
- Stoltz, Hendrik Jacobus, 2008 – 2013
- Grobler, Johannes Hendrik, 2014 – hede (in kombinasie met Reddersburg)
Bronne
wysig- (af) Harris, C.T., Noëth, J.G., Sarkady, N.G., Schutte, F.M. en Van Tonder, J.M. 2010. Van seringboom tot kerkgebou: die argitektoniese erfenis van die Gereformeerde Kerke. Potchefstroom: Administratiewe Buro.
- (af) Schalekamp, ds. M.E. (voorsitter: redaksiekommissie). 2001. Die Almanak van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika vir die jaar 2002. Potchefstroom: Administratiewe Buro.
- (af) Van der Walt, dr. S.J. (voorsitter: deputate almanak). 1997. Die Almanak van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika vir die jaar 1998. Potchefstroom: Administratiewe Buro.
- (af) Vogel, Willem (red.). 2014. Die Almanak van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika vir die jaar 2015. Potchefstroom: Administratiewe Buro.
Eksterne skakels
wysig- (en) Die kerkgebou in Onze Rustsingel, soos te sien op Google Maps. URL besoek op 12 Desember 2015.