Queen's Road
Die Queen’s Road is ‘n historiese en toeristiese roete tussen Grahamstad en Fort Beaufort in die Oos-Kaap. Die pad is deel van die R67-roete wat Port Alfred met Queenstown verbind.
Weens die Sesde Grensoorlog is ‘n dertigtal militêre vestings opgerig. Daarom was die verbetering aan die paaie in die grensgebied dringend noodsaaklik. In 1837 het 'n Britse genie-offisier, maj. Charles Jasper Selwyn (* 27 Mei 1793, Engeland - † 12 Desember 1847, Montreal, Kanada), opdrag aan die later bekende pad- en pasbouer Andrew Geddes Bain gegee om hierdie pad onverwyld te bou.
Die roete het afgedaal uit die Eccapas na ‘n drif in die Groot-Visrivier, daarna oor die Koonaprivier en die Katrivier. Die pad is noordwaarts verleng na Post Retief en ‘n ander deel is gebou via Pluto’s Vale deur Komiteesdrif en verder ooswaarts na Breakfastvlei. Drie groot brûe is metteryd gebou, naamlik oor die Groot-Vis by Fort Brown, oor die Koonap by Tomlinson’s Post en die Victoriabrug by Fort Beaufort oor die Katrivier. Hierdie pad was aanvanklik slegs bedoel as militêre roete en is in 1842 voltooi en het so vinnige toegang tot die oorlogsgebiede gegee.
Aan die bopunt van die Eccapas is ‘n monument op 7 September 1964 onthul wat die werk van Bain herdenk.
Bibliografie
wysig- Walters, Dennis: Bridging the Eastern Cape. The Life and Work of Joseph Newey. Oos-Londen: Coral Tree Press, 2014. ISBN 978-0-620-59478-3