Groep van Sewe
Die Groep van Sewe (kort G7) is 'n informele forum van die Westerse wêreld se leidende nywerheidslande wat in 1975 in die lewe geroep is. Die G7 se staats- en regeringshoofde kom gereeld vir spitsberade byeen om ekonomiese en ander kwessies te bespreek. Die G7 bestaan tans uit Duitsland, Frankryk, Italië, Japan, Kanada, die Verenigde Koninkryk en die Verenigde State. Die Russiese Federasie, wat in 1998 tot die forum toegetree het wat vervolgens as Groep van Agt bekendgestaan het, is ná die anneksasie van die Krim-skiereiland op 25 Maart 2014 uitgesluit. Die forum het sodoende na sy oorspronklike formaat teruggekeer.[1][2]
Die lidlande van die Groep van Sewe (G7) en hulle verteenwoordigers tydens spitsberade. |
---|
Duitsland – Bondskanselier Olaf Scholz |
Frankryk – President Emmanuel Macron |
Italië – Eerste Minister Mario Draghi |
Japan – Eerste Minister Fumio Kishida |
Kanada – Eerste Minister Justin Trudeau |
Verenigde Koninkryk – Eerste Minister Boris Johnson |
Verenigde State – President Joe Biden |
Die Europese Gemeenskap (sedert 1993 die Europese Unie) neem sedert 1977 aan die spitsberade deel en word deur die Europese Kommissie en die land, wat op dié tydstip die roterende presidentskap van die Europese Unie beklee, verteenwoordig.
Die forum het hom aanvanklik op die koördinasie van die lidlande se ekonomiese beleid toegespits, maar het later ook begin om internasionale vraagstukke soos die stryd teen armoede in die ontwikkelende lande, werkloosheid, die stryd teen misdaad en terrorisme en die proliferasie van massavernietigingswapens te behandel.
Die eerste internasionale ekonomiese spitsberaad van die (destyds ses) leidende nywerheidslande het in 1975 as G6-spitsberaad op inisiatief van die Franse regering in die kasteel van Rambouillet (Frankryk) plaasgevind.
Lys van die Groep van Sewe-spitsberade
wysigLeiers van die G7
wysigHoofonderwerpe
wysigDie G7-spitsberade word veral gekenmerk deur die geleidelike uitbreiding van hulle agenda's. Terwyl hulle in die 1970's nog deur ekonomiese vraagstukke oorheers is, het ook die internasionale politiek in die 1980's meer aandag gekry. In die negentigerjare het dit saam met kwelvrae soos die bestryding van terrorisme tot die hoofonderwerp van die spitsberade ontwikkel.
Verwysings
wysig- ↑ (en) "U.S., other powers kick Russia out of G8". CNN. 25 Maart 2014. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 29 April 2020. Besoek op 30 November 2018.
- ↑ (en) "Russia just quit the G8 for good". The Independent. 13 Januarie 2017. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 4 September 2019. Besoek op 30 November 2018.
Eksterne skakels
wysigWikimedia Commons bevat media in verband met Groep van Sewe. |