Koloniale sekretaris

posisie in Britse koloniale regerings

Koloniale sekretaris was 'n amp in die administrasie van die Kaapkolonie. Die pligte van die koloniale sekretaris in die Kaapkolonie kom rofweg ooreen met dié van ‘n minister van binnelandse sake in 'n huidige regeringstelsel.

Regering

wysig

Hierdie pos het bestaan van 1834 tot 1910. In 1834 het die kolonie ‘n genomineerde wetgewende raad gekry met ‘n uitvoerende raad bestaande uit die goewerneur en die vier hoogste staatsamptenare, naamlik die koloniale sekretaris, die bevelvoerende offisier van die weermag, die koloniale tesourier en die ouditeur-generaal. Toe die kolonie in 1872 ‘n verteenwoordigende regeringstelsel kry, is die pos van koloniale sekretaris tot met Uniewording behou.

In ‘n kolonie met ‘n geringe bevolking en ‘n ontwikkelende staatsadministrasie was die pligte van die koloniale sekretaris wyduiteenlopende: vervoer, onderwys, burgerlike bestuur, regspraak, ens. Soos die kolonie ontwikkel het, het die staatsdepartemente toegeneem. In 1839 is ‘n prokureur -generaal aangestel in die persoon van Wiliam Porter en later James Rose-Innes as onderwyshoof.

Eerste ampsbekleërs

wysig

Van 1834 tot 1841 het John Bell en van 1843 tot 1853 John Montagu die pos beklee. Beide was uiters bekwame persone. Bell het baie aandag aan die onderwys gegee. Montagu het op sy beurt hom toegespits op die bou en aanleg van paaie, passe en hawens en die ontwikkeling van die posdiens. Die senioriteit van die die amp van koloniale sekretaris stam waarskynlik daaruit dat Bell ook sekere van Benjamin D’Urban se take moes behartig toe die goewerneur op besoek was aan die Oosgrens. Netso het Montagu opgetree toe Harry Smith vir Natal en die Vrystaat besoek het. Beide het dus op daardie tyd as ‘n soort “eerste minister” opgetree.

Latere ampsbekleërs

wysig

John Montagu, Gordon Sprigg en Thomas Scanlen, die eerste drie premiers van die Kaapkolonie, het self die werk van koloniale sekretaris behartig. Scanlen het die twee poste later geskei en Molteno daarin aangestel. W.P. Schreiner het die poste weer gekombineer. Ander bekende mense in hierdie pos in die administrasie van die kolonie was Jacobus Wilhelmus Sauer, Thomas te Water, Thomas Smartt, Nicolaas Frederic de Waal en John Montagu.

Ander kolonies

wysig

Charles Mitchell en Henry Binns het die pos in Natal beklee. Die Oranjerivierkolonie se premier Abraham Fischer was self die koloniale sekretaris. Patrick Duncan en Jan Smuts het die pos beklee in die kroonkolonie Tranvala.

Enkele betrokke persone

wysig
  • John Bell (*Bonytoun, Skotland, 1 Januarie 1782 - †Londen, 20 November 1876), koloniale sekretaris in die Kaapkolonie van 1834 tot 1841
  • sir Frederick Napier Broome (*Montreal, Kanada, 18 November 1842 – †Londen, 26 November 1896), koloniale sekretaris in Natal
  • William Broome (*Zante, Griekeland, 12 April 1852 – †Kaapstad, Augustus 1930), Natalse koloniale sekretaris, regter
  • sir Pieter Hendrik Faure (*Eersterivier, 8 November 1848 - †Kaapstad, 21 Mei 1914), Kaapse politikus, koloniale sekretaris
  • William Porter (*Artikelly, naby Limavady, Londonderry, Ierland, 15 September 1805 – †Lennoxvale, Belfast, Noord-Ierland, 13 Julie 1880), prokureur-generaal van die Kaapkolonie
  • Rawson William Rawson (*Londen, 8 September 1812 - †Londen, 20 November 1899), koloniale sekretaris van die Kaapkolonie 1854 tot 1864
  • James Rose-Innes (*Netherdale, Marnoch, Banffshire, Skotland, 11 Desember 1799 - †Port Elizabeth, 20 Desember 1873), eerste superintendent van onderwys in die Kaapkolonie

Bronnelys

wysig
  • Standard Encyclopaedia of Southern Africa, deel 9. Kaapstad: Nasou, 1973. ISBN 0-625-00325-X