Ellispark-stadion
Ellispark-stadion (tans bekend as Emirates Airline Park weens borgskapredes) is ’n stadion wat in Johannesburg, Gauteng, Suid-Afrika, geleë is. Die Rugbywêreldbeker 1995-eindstryd, waar die Springbokke geseëvier het, het hier plaasgevind. Dié groot stadion was die land se modernste toe dit in 1982 opgegradeer is om vir bykans 60 000 toeskouers voorsiening te maak. Vandag word beide sokker- en rugbywedstryde daar gespeel en word dit ook gebruik vir ander groot geleenthede, soos onder andere opelugkonserte en geloofsbyeenkomste. Die enigste tyd wat daar nie rugby gespeel is op die veld nie, was tydens die 1980- en 1981-seisoene toe die stadion opgegradeer is.
Ellispark-stadion | ||
Ellispark tydens die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 2010
| ||
Volle naam | Ellispark-stadion | |
---|---|---|
Ligging | Hoek van Currey- en Staibstrate, Doornfontein, Johannesburg | |
Koördinate | 26°11′51.07″S 28°3′38.76″O / 26.1975194°S 28.0607667°O | |
Eienaar | Stad Johannesburg | |
Operateur | Ellis Park World of Sport | |
Kapasiteit | 62 567 (sokker en rugby) 55 686 (FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 2010) | |
Oppervlak | Gras | |
Konstruksie | ||
Eerste sooi gespit | 1927 | |
Geopen | 1928 | |
Renovasie | 2009 | |
Uitgebrei | 2009 | |
Boukoste | £5 000 (1927) R40 miljoen (2009) | |
Huurders | ||
Goue Leeus Lions Springbokke Orlando Pirates FC |
Die stadion is genoem na mnr. J.D. Ellis wat die grond vir die bou van die stadion beskikbaar gestel het.
Liga-, provinsiale en internasionale rugbywedstryde is al in die stadion gespeel. Bekende sokkerspanne soos Manchester United en Arsenal F.C. het al hier sokkerwedstryde gespeel. Ellispark-stadion is die middelpunt van ’n sportsentrum in die suidooste van Johannesburg waar dit begrens word deur die Johannesburgstadion (atletiek), die Standard Bankstadion (tennis) en ’n Olimpiese-standaard swembad.
Ellispark-stadion is die tuisveld van die volgende spanne:
- Orlando Pirates FC (Premier Sokkerliga)
- Goue Leeus (Curriebeker plaaslike Rugbykompetisie)
- Emirates Lions (Superrugby)
Krieketwedstryde het ook al in die stadion plaasgevind in die verlede. Ses toetswedstryde het tussen 1948 en 1954 daar plaasgevind, maar dit is nie weer vir eersterangse krieket gebruik sedert die opening van die Wanderersstadion in 1956 nie, en word tans slegs vir rugby en sokker gebruik.
In 1889 is die Transvaalse Rugby Voetbalunie gestig (nou bekend as die Goue Leeus). Hul eerste wedstryde is by die Wanderersklub gespeel wie se gronde toe nog nabygeleë was (waar die Johannesburg Parkstasie vandag is).
Geskiedenis
wysigGeskille tussen die verskillende rugbyklubs en ook die Wanderers se eis dat die veld vir krieket gebruik moet word het die TRVU destyds genoop om na ’n alternatief te kyk.
’n Gebied wat voorheen gebruik is vir die stort van rommel is in 1927 in Doornfontein geïdentifiseer as ’n moontlike alternatief. Die TRVU het met die Johannesburgse stadsraad se Mnr. JD Ellis onderhandel om die 13 akker en die gronde is toe beskikbaar gestel. Die finale huurooreenkoms is op 10 Oktober 1927 onderteken. ’n Kwotasie vir £600 is aanvaar vir die lê van die stadion se gras en met ’n £5 000-lening van die stadsraad af, het die bou van die stadion ’n aanvang geneem. Die stadion is in agt maande voltooi en die eerste rugbytoets tussen die Springbokke en All Blacks is in Junie 1928 daar gespeel. Skares van tussen 38 000 en ’n rekordskare van 100 000, tydens die toets teen die Britse en Ierse Leeus in 1955, het al wedstryde in die stadion bygewoon.
Krieketwedstryde is daar begin speel nadat ’n ooreenkoms tussen die TRVU en dTransvaalse Krieketunie bereik is. Tussen 1947, toe die krieketblad gelê is, en 1956 is verskeie internasionale wedstryde daar gespeel tot en met die finale wedstryd van die 1953/1954 reeks teen Nieu-Seeland. Krieket het toe verskuif na die huidige Wanderersstadion.
Op 28 April 1969 het die TRVU (Transvaalse Rugby Voetbalunie) ’n komitee gestig om die moontlikhede van ’n nuwe stadion te ondersoek, aangesien die een in gebruik nie aan al die moderne vereistes voldoen het nie. Die ou Ellispark-stadion is toe eers tien jaar later, na die wedstryd tussen Transvaal en die Wêreldspan op 31 Maart 1979, gesloop. Rugbywedstryde is te Wanderers gespeel terwyl die nuwe stadion in aanbou was.
’n Nuwe TRVU-bestuur is in 1984 verkies met Dr Louis Luyt as voorsitter en Prof Joe Poolman as ondervoorsitter. Die besluit is toe geneem om Ellispark-stadion onder die bestuur van ’n trust te plaas. In 1987, na die notering van Ellispark-stadion op die aandelebeurs en vanweë beter finansiële bestuur onder Dr Luyt, is daar aangekondig dat die uitstaande skuld ten bedrae van R53 miljoen ten volle betaal is en dat daar voortgegaan sou kon word met die oprig van 86 nuwe losies.
In 1995 het rugbykoors hoog geloop toe Suid-Afrika die gasheerland was vir die Rugbywêreldbeker 1995, die grootste gebeurtenis op die rugbykalender. Ellispark was dan ook waar die Wêreldbekereindstryd op 24 Junie 1995 gespeel is. Die skouspelagtige eindstryd is deur 62 000 toeskouers by die stadion en miljoene TV-kykers aanskou. Suid-Afrika het die wedstryd met 15–12 gewen nadat ekstra tyd toegelaat is.
Op 11 April 2001 tydens ’n plaaslike sokkerwedstryd tussen Kaizer Chiefs en Orlando Pirates FC het ’n stormloop deur die skare gelei tot die dood van 42 mense. Dit bly tot vandag toe die grootste lewensverlies ooit vir ’n ramp van so ’n aard in Suid-Afrika. In 2005 is geskiedenis gemaak toe Ellispark-stadion die eerste stadion in Suid-Afrika geword het met ’n swart meerderheidsaandeelhouding.
Ellispark-stadion was die gasheer van een van die halfeindwedstryde van die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 2010. Die kapasiteit van die stadion is gedurende 2009 opgegradeer om ’n verdere 10 000 mense te akkommodeer, ’n totaal van 70 000 sitplekke.
Wedstryde
wysigRugbywêreldbeker 1995
wysig- Die hoofartikel vir hierdie afdeling is: Rugbywêreldbeker 1995.
Datum | Span 1 | Telling | Span 2 | Rondte | Toeskouers |
---|---|---|---|---|---|
27 Mei 1995 | Ierland | 19–43 | Nieu-Seeland | Groep C | 38 000 |
31 Mei 1995 | Nieu-Seeland | 34–9 | Wallis | Groep C | 38 000 |
4 Junie 1995 | Ierland | 24–23 | Wallis | Groep C | 35 000 |
10 Junie 1995 | Suid-Afrika | 42–14 | Samoa | Kwarteindrondte | 52 000 |
24 Junie 1995 | Suid-Afrika | 15–12 (e.t.) | Nieu-Seeland | Eindstryd | 65 000 |
FIFA Sokker-Konfederasiebeker in 2009
wysig- Die hoofartikel vir hierdie afdeling is: FIFA Sokker-Konfederasiebeker in 2009.
Datum | Tyd | Span 1 | Telling | Span 2 | Rondte | Toeskouers |
---|---|---|---|---|---|---|
14 Junie 2009 | 16:00 | Suid-Afrika | 0–0 | Irak | Groep A | 48 837 |
18 Junie 2009 | 20:30 | Egipte | 1–0 | Italië | Groep B | 52 150 |
20 Junie 2009 | 20:30 | Irak | 0–0 | Nieu-Seeland | Groep A | 23 295 |
25 Junie 2009 | 20:30 | Brasilië | 1–0 | Suid-Afrika | Halfeindrondte | 48 049 |
28 Junie 2009 | 20:30 | Verenigde State | 2–3 | Brasilië | Eindstryd | 52 291 |
FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 2010
wysig- Die hoofartikel vir hierdie afdeling is: FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 2010.
Datum | Tyd | Span 1 | Telling | Span 2 | Rondte | Toeskouers |
---|---|---|---|---|---|---|
12 Junie 2010 | 16:00 | Argentinië | 1–0 | Nigerië | Groep B | 55 686 |
15 Junie 2010 | 20:30 | Brasilië | 2–1 | Noord-Korea | Groep G | 54 331 |
18 Junie 2010 | 16:00 | Slowenië | 2–2 | Verenigde State | Groep C | 45 573 |
21 Junie 2010 | 20:30 | Spanje | 2–0 | Honduras | Groep H | 54 386 |
24 Junie 2010 | 16:00 | Slowakye | 3–2 | Italië | Groep F | 53 412 |
28 Junie 2010 | 20:30 | Brasilië | 3–0 | Chili | Agtste eindrondte | 54 096 |
3 Julie 2010 | 20:30 | Paraguay | 0–1 | Spanje | Kwarteindrondte | 55 359 |
Sien ook
wysigEksterne skakels
wysigWikimedia Commons bevat media in verband met Ellis Park Stadium. |
- Die stadion se amptelike webwerf
- Gronduitleg vanaf Cricinfo