Esmé Euvrard
Esmé Euvrard (geb. 19 Mei 1919, Smithfield, Oranje-Vrystaat – 11 September 1993, Sandton, Transvaal) was 'n radio-omroeper, sangeres en aktrise.
Esmé Euvrard | |
Geboorte | 19 Mei 1919 Smithfield, Oranje-Vrystaat |
---|---|
Sterfte | 11 September 1993 (op 74) Sandton, Transvaal |
Nasionaliteit | Suid-Afrika |
Beroep(e) | Aktrise, radio-omroeper en sangeres |
Internet-rolprentdatabasis-profiel |
Op 26 Januarie 2020 is Esmé ook ingehuldig as 'n lewende legende in die Suid-Afrikaanse legendesmuseum.
Biografie
wysigRadio
wysigEsmé Euvrard was die jongste van vier kinders van Albertus en Anna Euvrard en was in haar tyd een van Suid-Afrika se gewildste radiopersoonlikhede. Sy en Jan Cronjé het saam opgetree in die langdurige Afrikaanse radiovervolgreekse Liefdeslied en Verbode Liefde (1953-1959) en ook Só Maak Mens aangebied, 'n program met wenke, resepte en onderhoude vir huishoudings wat van 1957 tot 1985 uitgesaai is toe Springbokradio gesluit het. Die program is daarna na Radio Suid-Afrika verskuif. Saam met Paul Desmond het sy Springbok Rendezvous aangebied, 'n program vir die 'seuns op die grens' wat bestaan het uit musiekversoeke en boodskappe, asook 'n gewilde Sondagaand-musiekprogram genaamd Esmé se Musiekalbum. Tannie Esmé was ook verantwoordelik vir baie Afrikaanse kinderprogramme.
Op 26 Januarie 2020 is Esmé ook ingehuldig as 'n lewende legende in die Suid-Afrikaanse legendesmuseum.
Haar seuns het 'n reuse skildery van Esmé asook die Ster van Suid-Afrika toekenning wat sy destyds van die Staatspresident ontvang het aan die legendesmuseum geskenk.
Film
wysigSy speel klein rolle in vyf rolprente, naamlik Man in die Donker (Truida Pohl / 1962), Majuba: Hill of Doves / Majuba: Heuwel van Duiwe (David Millin / 1968), Vrolike Vrydag die 13de (Richard Daneel / 1969), Stadig oor die Klippe (Richard Daneel / 1969) en Wolhaarstories (Bromley Cawood / 1983). Saam met Dana Niehaus het sy in die televisiereeks Net 'n Bietjie Liefde (Henk Hugo / 1977) opgetree. Sy en Cronjé het ook die sprekende stemme van onderskeidelik Marika Rökk en Paul Hubschmid oorgeklank vir die Afrikaanse weergawe van die Duitse film Maske in Blau (1953). Boonop was sy een van die vertellers van die Afrikaanse weergawe van die dokumentêr Krag vir Suid-Afrika (Denis Scully / 1959).
Musiek
wysigSy was getroud met die bekende Portugees-gebore flamenco-kitaarspeler Gilberto Bonegio en hulle het albei by die Mercedes Molina Spanish Dance Company aangesluit toe dit in 1958 gestig is. Sy was 'n talentvolle sangeres en sy en Gilberto het ten minste een fado-plaat geproduseer. In 1988 lewer sy 'n plaat van kinderverhale met die titel Diereverhaaltjies op. Gilberto is in 1964 oorlede nadat hy 20 maande in 'n koma was ná 'n motorongeluk en al haar toegewyde aanhangers het met haar verlies geïdentifiseer. Hul twee seuns, Raúl en Fernando, het in hul pa se voetspore gevolg en talentvolle flamenco-kunstenaars in eie reg geword.