Humpata
Humpata is 'n dorp en plaaslike owerheid in die provinsie Huíla in Angola.
Humpata | |
---|---|
Koördinate: 15°0′S 13°20′O / 15.000°S 13.333°O | |
Land | Angola |
Provinsie | Huíla |
Stigting | 1880 |
Oppervlak | |
• Totaal | 1 261 km2 (487 vk. myl) |
Hoogte | 1 020 m (3 350 ft) |
Bevolking | |
• Totaal | 82 560 |
• Digtheid | 65,5/km2 (170/vk. myl) |
Humpata is sowat 20 km van Sá da Bandeira en sowat 150 km vanaf die hawe van Mossamedes in die suidwestelike uithoek van die land geleë. Die dorp is van belang vir Suid-Afrikaners vanweë sy plek in geskiedenis van die Angola-Boere (Dorslandtrekkers) wat hulle in 1881 hier gevestig het. Dit was die sentrum van waar dié pioniers, van wie die meeste lidmate van die Gereformeerde Kerk was, uit Transvaal versprei het na talle dele van die suide van Angola. Die gebied rondom Humpata het 'n gematigde klimaat danksy die hoogte van sowat 2 000 m bo seespieël en bied goeie weiding. Tog het twee faktore die plek se groei gestrem: die verarmde toestand van die immigrante weens die verliese wat hulle gely het op hul uitmergelende trek deur die Dorsland, en die gebrek aan markte binne redelike afstand. Die meeste nasate van die Dorslandtrekkers is aan die einde van die 1920's na Suidwes-Afrika gerepatrieer ingevolge 'n skema van die Uniale regering wat £500 000 gekos het. Altesaam 350 gesinne (wat op 1 900 mense neergekom het) het na Suidwes verhuis. Net 53 gesinne het in Angola agtergebly.
In later jare is 'n tegniese instituut op Humpata opgerig, en vanweë die ontwikkeling van die nabygeleë Sá da Bandeira, wat later per spoor met Mossamedes verbind is, het dié deel van Angola in 'n stadium taamlik welvarend geword.
Ds. Dirk Postma jr. in Angola
wysigDs. Dirk Postma jr. het hom omstreeks 1887 beskikbaar gestel om as eerste Afrikaanse predikant drie jaar na die Dorslandtrekkers, van wie die meeste Doppers (lidmate van die Gereformeerde Kerk) was, by São Januário, Humpata, te gaan. Hy is op 21 Oktober 1888 op Burgersdorp vir dié diens bevestig en bereik sy bestemming, Portugees-Wes-Afrika, in 1889.
Afgesien van die waardevolle geestelike en kerklike bediening wat van ds. Postma onder hierdie afgesonderde pioniers uitgaan, rig hy dadelik ook ten behoewe van die verwaarloosde jeug 'n skool op waarin hy self onderwys gee. Hy begin ook daar onder die diensbodes wat saam met die pioniers uit Transvaal getrek het, die sogenaamde "mak volk", met georganiseerde sendingwerk. Om gesondheidsredes moet hy in September 1890 terugkeer en word deur sy broer ds. Marthinus Postma in Mossamedes gehaal.
Ds. Postma jr. se boek Eenige schetsen voor eene geschiedenis van de Trekboeren, thans bekend onder den naam van de Gereformeerde gemeente van St. Januario, Humpata . . . (Amsterdam-Pretoria, 1897), het hy opgedra aan pres. Paul Kruger, self lidmaat van die Gereformeerde Kerk. Dit is 'n waardevolle bronnepublikasie vir die geskiedenis van die Dorslandtrek, met 'n menigte dokumente, herinneringe, beskrywings van die land, geografie, plante, sketse en foto's van die baanbrekers en inboorlinge asook 'n skerp waarneming van hul geskiedenis en kulturele agtergrond.
Flora
wysigDie Humpata-aalwyn is in 2009 hier naby ontdek.
Sien ook
wysigBronne
wysig- De Kock, W.J. (hoofred.) Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek Deel I. Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk, 1968.
- Potgieter, D.J. (hoofred.) 1974. Standard Encyclopaedia of Southern Africa. Cape Town: Nasou Limited.