Iwan Konstantinowitsj Aiwazofski
Ons jong Afrikaanse Wikipediane is nog besig om hulle vaardighede te oefen. Hulle mag nou na die kompetisie weer verder aan hulle artikels redigeer en verbeter. Geniet asseblief die artikel met dit ingedagte.
Iwan Konstantinowitsj Aiwazofski[1] (1817-1900) was 'n Russiese kunstenaar wat bekendheid verwerf het vir sy seetonele in die Romantiese styl. Sy kunswerke beeld meestal die see se prag, maar ook onheilspellende gevare, uit. Aiwazofski word dikwels as die vader van die Romantiese Seekuns beskou. Hy het veral op doek met olieverwe geverf.
Vroeë jare
wysigAiwazofski is in 1817 op die dorp Feodosia in die Krim, aan die Swartsee, gebore. Sy familie was lidmate van die Russies-Ortodokse Kerk, waar hy as Howhannes Aiwazian gedoop is. Hy het later sy naam na die Russiese weergawe daarvan, Iwan Konstantinowitsj Aiwazofski, verander.
Sy pa was 'n ryk Armeense handelaar, maar het al sy rykdom as gevolg van die Swart Pes verloor. Aiwazofski het 'n ouer broer genaamd Gabriël en drie susters gehad. Die gesin se huis was so gebou dat Aiwazofski 'n indrukwekkende uitsig oor die see gehad het. Hy was baie slim en het homself leer viool speel toe hy tien was. Hy was vriende met die goewerneur van Feodosia se seun, wie se pa vir hom waterverf en papier gegee het.
Die goewerneur het Aiwazofski en sy familie na 'n groter dorp met die naam Simferopol geskuif. In Simferopol het hy skoolgegaan en vriende gemaak met die seun van Natalja Fjodorowna Narisjkin, 'n vrou met bande in die Russiese adelryk. Natalja het baie van Aiwazofski gehou en het vir hom 'n sesjaarbeurs by die Keiserlike Akademie vir Kuns in Sint Petersburg gekry.
Studentejare
wysigAiwazofski was sestien toe hy na die Keiserlike Akademie vir Kuns in Sint Petersburg gaan. Die reis van Simferopol na Sint Petersburg het omtrent 'n week geduur. Die akademie se formele opleiding en die sosiale protokolle was vir die plattelandse dorpseun baie vreemd en onbekend. Verslae[2] is gekry wat aandui dat Aiwazofski baie tyd in die akademie se siekeboeg deurgebring het, omdat hy gekla het oor borspyn, wat aandui dat hy nie honderd persent gelukkig was nie en baie spanning gehad het. Aiwazofski het beter begin vaar toe hy in die landskapklas van Maksim Nikiforowitsj Worobjof geplaas is. Worobjof het Aiwazofski se liefde vir verf en viool gedeel, wat meegebring het dat hulle goeie vriende geword het. In die volgende paar jaar het Aiwazofski gewys dat hy 'n betroubare en slim leerling is. In 1835 het keiser Nikolaas I die Franse kunstenaar Philippe Tanneur genooi om in Sint Petersburg 'n kunsuitstalling te hou. Die akademie is gevra om 'n assistent te voorsien. Aiwazofski is vir die werk gekies. Maar Tanneur het gefrustreerd geraak met Aiwazovsky omdat hy so baie af “siek” was om een van sy vroeëre skilderwerke te voltooi. Hierdie skildery het later die tweede plek in die akademie se uitstalling van die jaar gekry. Tanneur het geëis dat die skildery van die uitstalling verwyder word. Die keiser het van Aiwazofski te hore gekom en na 'n vinnige ontmoeting was hy so beïndruk deur die jong man dat hy die skildery vir sy Winterpaleis gekoop het.
Die keiser het Aiwazofski saam met die Baltiese Vloot gestuur as 'n geleentheid om die see en sy kleure beter te leer ken. Toe Aiwazofski na die akademie terugkom, was sy kunswerke nog beter as tevore. Teen 1836 het Aiwazofski sewe skilderye in die akademie se kunsuitstalling gehad, waarvoor hy 'n goue medale gekry het. 'n Verslaggewer het opgemerk dat Aiwazofski se talente hom ver sou bring. Toe sy tyd by die akademie verby is, het Aiwazofski weer by die vloot aangesluit. Nadat hy 'n rukkie saam met die vloot was, het Aiwazofski na Europa gegaan. Hy was in Berlyn, Wene en Rome waar hy twee jaar lank gebly het. Hy het ook in Italië na die stede Venesië, Florence en Napels gegaan. 'n Paar ander lande waarheen hy ook was, sluit Nederland, Engeland en Frankryk in. Pous Gregorius XVI het Aiwazofski se skildery Chaos gekoop en in die Vatikaan opgehang, waar net die beste werke van die beste kunstenaars vertoon word. Aiwazofski het ander beroemde kunstenaars leer ken deur sy reise oor die wêreld, soos J.M.W. Turner, 'n Engelsman wat in Rome was vir 'n kunsuitstalling, William Martin, nog 'n Engelsman en die Franse kunstenaar Théodore Géricault.
Volwasse jare
wysigToe Aiwazofski terugkom in Rusland, het hy die vloot se hoofskilder geword. Dit het meegebring dat Aiwazofski meer skilderye van die see, kus en vloot kon skilder. In 1845 het hy op sy geboortedorp, Feodosia, 'n groot huis en galery laat bou waar hy in 1846 'n kunsuitstalling gehou het. In 1847 het hy die professor van seelandskapkuns aan die Keiserlike Akademie vir Kuns geword.
In 1848 is hy met Julia Graves (1833-1894), 'n Engelse goewernante, getroud. Hulle het vier dogters gehad, Alexandra (1849-?), Maria (1851-?), Elena (1852-?) en Joanne (1858-?), maar hulle huwelik was nie gelukkig nie. Toe die Krimoorlog in 1853 uitbreek, is Aiwazofski saam met die vloot gestuur, waar hy pragtige skilderye geskep het. Toe die oorlog in 1856 eindig, is Aiwazofski na Parys, waar hy 25 skilderye uitgestal en verkoop het. Die Franse keiser het erkenning vir Aiwazofski se werk en invloed getoon deur vir hom die Legioen van Eer te gee. Aiwazofski was die eerste buitelander wat hierdie uitsonderlike erkenning gekry het.
Terwyl die res van Rusland se kunstenaars hulle aandag op die normale, alledaagse mense gefokus het en hulle geverf het in 'n styl wat die swaarkry gewys het, het Aiwazofski geweier om sy verfstyl te verander. Hy het aangegaan om die see te verf. In 1867 is Aiwazofski deur die keiserin en haar kinders in Feodosia besoek. Onder Aiwazofski se leiding is die strate met kleurvolle vlaggies versier, die dorp se kinders het 'n ballet opgevoer en 'n uitsonderlike maaltyd is vir die keiserin en haar gesin berei.
Aiwazofski en Julia is na twaalf jaar geskei. Julia het in 1877 besluit dat die lewe in Feodosia haar nie meer geval nie en het saam met haar dogters na Sint Petersburg getrek. In 1882 het Aiwazofski op die ouderdom van 65 weer getrou met Anna Sarkizowa, 'n weduwee wat 40 jaar jonger as hy was. Hulle huwelik het gehou tot Aiwazofski se dood, waarna Anna nog 44 jaar geleef het.
Laaste jare
wysigAiwazofski het sy laaste paar jaar gebruik om die plek te kry vir die treinstasie en spoor wat deur Feodosia loop. Toe die stasie in 1892 ingewy word, het die mense dit Aiwazofskaja genoem ter ere van die kunstenaar. In dieselfde jaar is Aiwazofski na Amerika, waar hy in Chicago se wêrelduitstalling 20 skilderye gehad het. Op Aiwazofski se 80ste verjaarsdag in 1887 is Feodosia versier met helder, vrolike vlaggies en pragtige blomme. Mense het wat van wyd en syd gekom om die invloedryke kunstenaar geluk te wens. Nie lank daarna nie het Aiwazofski sy laaste les by die akademie gegee. Dit was was 'n twee uur lange praktiese demonstrasie van seelandskap verf. Toe die les verby is, het 'n wilde applous uitgebreek. Die Russiese skrywer Anton Tsjechof skryf aan sy vrou oor sy ontmoeting met Aiwazofski:
“Aiwazofski is vol van sy eie belangrikheid, het sagte hande, maar skud nog steeds jou hand soos 'n generaal. Hy is nie baie slim nie, maar hy het 'n komplekse persoonlikheid wat 'n verdere studie waardig is. In hom alleen is daar gekombineer 'n generaal, 'n biskop, 'n kunstenaar, 'n Armeniër, 'n naïewe ou boer en 'n Othello.”
Iwan Aiwazofski het op 2 Mei 1900 gesterf. Hy is begrawe in die voorhof van die Armeense kerk Sint Sargis. Sy graf is gemerk met 'n marmergrafsteen. Daar word gesê dat die Italiaanse beeldhouer L. Biogiolli dit gemaak het, maar daar is geen ander bronne wat aandui dat L. Biogiolli bestaan het nie.[3] In die marmer is dié woorde uitgekerf “Hy is as 'n sterfling gebore, maar het 'n onsterflike nalatenskap gelaat.” Iwan het in sy leeftyd omtrent 6 000 skilderye gemaak, waarvan twee derdes van die see was.
Invloed in die kunswêreld
wysigKunstenaars soos Arkhip Kuindzhi, Lev Largorio en Mikhail Latri is almal deur Aiwazofski se werk beïnvloed. Aiwazofski het ook die Romantiese styl van verf beïnvloed. Hy word dikwels beskou as die vader van Romantiese seelandskapskilderye.
Bekende kunswerke
wysigVan Aiwazofski se bekende werke is:[4][5][6]
Chaos (Die Skepping), 1841
wysigStyl - Romanties
Kunstipe - Seelandskapskildery
Medium - Olie op doek
Grootte - 106 x 75 cm
Waar kan dit gesien word - Die Vatikaan, Rome, Italië
Die Baai van Napels, 1841
wysigStyl - Romanties
Kunstipe - Seelandskapskildery
Medium - Olie op doek
Grootte - 73 x 108 cm
Waar kan dit gesien word - Russiese Staatsmuseum in Sint Petersburg.
Die Gouehoringbaai, 1845
wysigStyl - Romanties
Kunstipe - Stadsbeeldskildery
Medium - Olie op doek
Grootte - 51 x 76 cm
Waar kan dit gesien word - Russiese Staatsmuseum in Sint Petersburg.
Die Negende Golf, 1850
wysigStyl - Romanties
Kunstipe - Seelandskapskildery
Medium - Olie op doek
Grootte - 221 x 332 cm
Waar kan dit gesien word - Russiese Staatsmuseum in Sint Petersburg.
Uitsig op die Bosporus en Konstantinopel, 1856
wysigStyl - Romanties
Kunstipe - Stadsbeeldskildery
Medium - Olie op doek
Grootte - 125 x 196 cm
Waar kan dit gesien word - Privaat versameling
Sonsondergang oor Jalta, 1853
wysigStyl - Romanties
Kunstipe - Seelandskapskildery
Medium - Olie op doek
Grootte - 67 x 89 cm
Waar kan dit gesien word - Staatsmuseum, Hermitage, Sint Petersburg.
Die Reënboog 1873
wysigStyl - Romanties
Kunstipe - Seelandskapskildery
Medium - Olie op doek
Grootte - 102 x 132 cm
Waar kan dit gesien word - Tretjakof-staatsgalery, Moskou
Die Swartsee in die Aand, 1879
wysigStyl - Romanties
Kunstipe - Seelandskapskildery
Medium - Olie op doek
Grootte - 100 x 76 cm
Waar kan dit gesien word - Russiese Staatsmuseum, Sint Petersburg
Die Swartsee, 1881
wysigStyl - Romanties
Kunstipe - Seelandskapskildery
Medium - Olie op doek
Grootte - 149 x 208 cm
Waar kan dit gesien word - Tretjakof-staatsgalery, Moskou
Die Skipbreuk 1884
wysigStyl - Romanties
Kunstipe - Seelandskapskildery
Medium - Olie op doek
Grootte - 304 x 505 cm
Waar kan dit gesien word - Russiese Staatsmuseum, Sint Petersburg
Skipbreuk aan die Swartseekus, 1887
wysigStyl - Romanties
Kunstipe - Seelandskapskildery
Medium - Olie op doek
Grootte - 100 x 150 cm
Waar kan dit gesien word - Russiese Staatsmuseum, Sint Petersburg
Die Vallei van Ararat, 1882
wysigStyl - Romanties
Kunstipe - Geloofskildery
Medium - Olie op doek
Grootte - 130 x 215 cm
Waar kan dit gesien word - Russiese Staatsmuseum, Sint Petersburg
Die Golf, 1889
wysigStyl - Romantiek
Kunstipe - Seelandskapskildery
Medium - Olie op doek
Grootte - 300 x 200 cm
Waar kan dit gesien word - Russiese Staatsmuseum, Sint Petersburg
Die Swartseevloot in Feodosia, 1890
wysigStyl - Romanties
Kunstipe - Seelandskapskildery
Medium - Olie op doek
Grootte - 53 x 107 cm
Waar kan dit gesien word - Russiese Staatsmuseum, Sint Petersburg
Die Skip Mercury word deur Twee Turkse Skepe aangeval, 1892
wysigStyl - Romanties
Kunstipe - Seelandskapskildery
Medium - Olie op doek
Grootte - 339 x 212 cm
Waar kan dit gesien word - Russiese Staatsmuseum, Sint Petersburg
Tussen die Golwe, 1898
wysigStyl - Romanties
Kunstipe - Seelandskapskildery
Medium - Olie op doek
Grootte - 284 x 429 cm
Waar kan dit gesien word - Russiese Staatsmuseum, Sint Petersburg
Die Ontploffing van die Turkse Skip, 1900
wysigStyl - Romantiek
Kunstipe - Seelandskapskildery
Medium - Olie op doek
Grootte - 67 x 96 cm
Waar kan dit gesien word - Nasionale Kunsgalery Aiwazofski
Verwysings
wysig- ↑ https://maroelamedia.co.za/afrikaans/taalgebruik/hoekom-in-afrikaans-poetin-en-nie-putin/
- ↑ https://www.theartstory.org/artist/aivazovsky-ivan/
- ↑ https://www.theartstory.org/artist/Aiwazofski-Iwan/
- ↑ https://www.wikiart.org/en/Ivan-Aivazovsky/all-works#!#filterName:all-paintings-chronologically,resultType:masonry
- ↑ https://arthive.com/IvanAivazovsky#google_vignette
- ↑ https://artincontext.org/Ivan-Aivazovsky-paintings/
Bronne
wysig- Hetq (1 Augustus 2019); Aghalaryan,K.: https://hetq.am/en/article/106005; Besoek op 21 Oktober 2024.
- World's facts (19 Desember 2023); Dan.: https://www.worldsfacts.com/16-interesting-facts-about-Ivan-Aivazovsky/#google_vignette; Besoek op 21 Oktober 2024.
- The Tretyakov gallery magazine (2017); Losev, D.:https://www.tretyakovgallerymagazine.com/articles/1-2017-54/father-town-Ivan-Aivazovsky-and-feodosia-lifelong-attachment; Besoek op 21 Oktober 2024.
- Arthive (2024); Arthive.: https://IvanAivazovsky.arthive.com/; https://arthive.com/IvanAivazovsky#google_vignette; Besoek op 21 Oktober 2024.
- The Art Story (2024); TheArtStory.: https://www.theartstory.org/artist/aivazovsky-ivan/; Besoek op 21 Oktober 2024
- USEUM (2024) Useum.: https://useum.org/artist/Ivan-Aivazovsky; Besoek op 21 Oktober 2024.
- Art in context (7 Feburarie 2024); Meyer,I.:https://artincontext.org/Ivan-Aivazovsky-paintings/; Besoek op 21 Oktober 2024.
- Wikiart (2024) Wikiart.: https://www.wikiart.org/en/ivan-aivazovsky/all-works#!#filterName:all-paintings-chronologically,resultType:masonry; Besoek op 21 Oktober 2024.
- The collector (25 April 2021); Kurkina,A.: https://www.thecollector.com/ivan-aivazovsky-master-of-marine-art/; Besoek op 21 Oktober 2024.
- Russian Art Gallery (2024); Russian Art Gallery.:https://www.russianartgallery.org/famous/Aivazovsky.htm; Besoek op 21 Oktober 2024.
- My daily art display (28 Oktober 2019); jonathan5485.: https://mydailyartdisplay.uk/2019/10/28/Ivan-Aivazovsky-part-2-the-master-of-seascapes/; https://mydailyartdisplay.uk/2019/10/21/Ivan-konstantinovich-aivazosky/; Besoek op 21 Oktober 2024.
- Maroela Media (24 Februarie 2023); Maroela Media.: https://maroelamedia.co.za/afrikaans/taalgebruik/hoekom-in-afrikaans-poetin-en-nie-putin/; Besoek op 21 Oktober 2024.