NG gemeente Jacobsdal
Die NG gemeente Jacobsdal is 'n gemeente in die Vrystaatse Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk met sy middelpunt op die dorp Jacobsdal. Dis in 1860 gestig as die sewende gemeente van die Vrystaatse Kerk en die 79ste gemeente in die hele NG Kerk. In die Vrystaat is net Winburg (1841), NG gemeente Fauresmith (1848), Bloemfontein (1848), Harrismith (1849) en Boshof (1856) ouer.
Stigting
wysigTen tyde van Jacobsdal se stigting was hierdie gebied nog deel van die Kaapse Kerk en bekend as die Transgariepse Ring. Daar is dadelik begin met voorbereidings vir die bou van 'n kerk en 'n pastorie en die vind van 'n predikant. Tog is met al drie baie gesukkel en die eerste beroep is eers in 1865 uitgebring en die derde beroep was eers suksesvol, dié op proponent E.A.J. du Toit. Ds. Du Toit was van 1866 tot 1880 predikant van die gemeente en was verantwoordelik vir die eerste kerkgebou wat in 1879 ingewy is. Gedurende hierdie tydperk het die ramp in verband met die diamantveldkwessie die gemeente van feitlik twee derdes van sy lede beroof. Op 14 Junie 1877 is 'n versoekskrif van die gemeente Jacobsdal voor die Vrystaatse Volksraad ingedien, waarin versoek is dat die distrik van Jacobsdal gebiedsuitbreiding moet kry na Boshof en Fauresmith se rigting om te vergoed vir die verlies en ook £10 000 kontant om die bou van die kerk moontlik te maak. Hierdie bespreking was baie uiteenlopend. Gedeeltelike gebiedsuitbreiding is toegestaan en £2 000 vir die bou van 'n kerk.
Vanaf 1881 tot 1899 is die gemeente bedien deur ds. Andrew Murray (die seun van prof. John Murray van die Kweekskool), wat in 1893 die pragtige ystertraliewerk om die kerk laat aanbring het teen 'n koste van £1 100. Ds. P.J.J. Boshof het die gemeente van 1899 tot 1904 gedien. Gedurende hierdie tyd het die verskriklike oorlog gewoed en is die geestelike werk onder baie moeilike omstandighede gedoen. Met die aanval van die Jacobsdalse kommando op die Britse besetting in die dorp in Oktober 1900, het die dominee ook onder verdenking gekom en is hy 'n nag lank saam met ander in die kruithuisie buite die dorp opgesluit, waar hulle byna versmoor het; die dag daarna is die dominee deur die owerheid uit die dorp verban, wat hy per trapfiets moes verlaat met net die nodigste agter op. Baie huise en ook die pastorie is deur die Britse magte in Jacobsdal verniel. Jacobsdal was die eerste Vrystaatse dorp wat in Engelse hande geval het en wel op 15 Februarie 1900. In die Slag van Rooilaagte op 25 November 1899 het die Jacobsdalse kommando hom besonder dapper gedra en groot verliese aan lewens gely.
Twintigste eeu
wysigTot omstreeks die dorp en gemeente se eeufees het ook die volgende leraars hier gedien: S.J. Perold (1904 – '07), in wie se tyd die orrel aangekoop en die galery vergroot is; A.A. Weich (1908 – '27), in wie se tyd die orrel ingewy is en groot ywer vir die sending geheers het; H.A. Hanekom (1927 – '30), in wie se tyd die kerk vergroot is en die toring aangebou is; J.S. Dreyer (1931 – '48); S.C. Biggs (1949 – '58). As gevolg van die destydse versnippering van die distrik en die ontstaan van die diamantdorpe Kimberley en Koffiefontein, is die gemeente geografies besonder moeilik geleë om vanaf die dorp te bedien.
Enkele leraars
wysig- Egbert Andries Jacobus du Toit, 1866 tot 1880 (waarna Brandfort tot 1894; oorlede op 5 Maart 1926)
- Andrew Murray (seun van John Murray), 1881 tot 1899
- Pieter Johannes Jurgens Boshoff, 1899 tot 1904
- Stefanus Jacobus Perold, 1904 tot 1907
- Alfred August Weich, 1908 tot 1927 (aanvaar sy emeritaat)
- Hendrik Andries Hanekom, 1927 tot 1931
- Jacob Stefanus Dreyer, 1931 tot 1948
- Stanley Charles Biggs, 1949 tot 1958
- Petrus Albertus Pretorius, 16 Januarie 1981 tot omstreeks 1985
Bronne
wysig- (nl) Maeder, ds. G.A. en Zinn, Christian. 1917. Ons Kerk Album. Kaapstad: Ons Kerk Album Maatschappij Bpkt.
- (af) Oberholster, prof. dr. J.J. 1964. Die Nederduitse Gerformeerde Kerk in die Oranje-Vrystaat. Bloemfontein: Die N.G. Kerk in die O.V.S.
- (af) Olivier, ds. P.L., 1952. Ons gemeentelike feesalbum. Kaapstad en Pretoria: N.G. Kerk-uitgewers.
Sien ook
wysigEksterne skakels
wysig- (en) Foto's van die kerkgebou soos dit vandag lyk op die blog "Thoughts of Louise". URL besoek op 25 November 2014.