Andrew Hofmeyr
Ds. Andrew Murray Hofmeyr (Murraysburg, 15 Junie 1866 – Elladale, distrik Greytown, 21 Februarie 1936), was ’n sendeling en dosent.
Andrew Hofmeyr was die derde van die twaalf kinders van ds. Jan Hendrik Hofmeyr, predikant van Murraysburg en Somerset-Oos, en sy vrou, Isabella Murray, dogter van ds. Andrew Murray, die oue. Hy verwerf die B.A.-graad aan Gill-kollege, Somerset-Oos, en ontvang sy teologiese opleiding aan die Kweekskool op Stellenbosch.
Aan die einde van 1893 word hy as predikant van die NG Kerk gelegitimeer en op 14 April 1894 op Somerset-Oos georden om sendingwerk onder die Zoeloes in die omgewing van Greytown, Natal, te gaan doen. Een van sy belangrikste take was die opleiding van evangeliste op Emandhleni. Hiervandaan word hy beroep as die eerste direkteur van die Stofberg-gedenkskool, wat op 1 Oktober 1908 naby Viljoensdrif geopen is vir die opleiding van swart leraars, evangeliste en onderwysers. Die inrigting begin op 'n beskeie skaal, maar brei onder Hofmeyr se leiding bestendig uit. Dit het sy naam gekry ter ere van ds. Pieter Stofberg, sendeling op Mochudi in Betsjoeanaland van 1898 tot sy dood in Junie 1907, sowat 'n jaar nadat hy op die Kaapse Sinode 'n kragtige pleidooi vir die oprigting van so 'n onderwysinstelling gelewer het.
Ná 36 jaar in die amp tree hy aan die einde van 1934 af en vestig hom naby Greytown. By sy aftrede het 26 leraars, 171 evangeliste en honderde onderwysers reeds hul opleiding aan sy inrigting voltooi.
Hofmeyr is in 1894 met Phoebe Home Stroebel (1866–1924) getroud en in 1927 met die weduwee Millie Nel. Uit die eerste huwelik is vier kinders gebore. Een van die seuns, ds. Henry Murray Hofmeyr, het Hofmeyr as direkteur van die Stofberg-gedenkskool opgevolg.
Hofmeyr was 'n vrome, beskeie en liefdevolle mens wat sy taak met besonderse ywer en toewyding verrig het. Onder die swart mense is hy as 'n ware geestelike vader beskou en was gelief en gerespekteer.
Bronne
wysig- (af) Hofmeyr, W. Lou(w); Hofmeyr, Nico J.; Hofmeyr, S.M.; Hofmeyr, George S.; Hofmeyr, Johannes W. (samestellers). 1987. Die Hofmeyrs: 'n Familiegeskiedenis. Lynnwoodrif en Bloemfontein: Die Samestellers.