Louis Kruger
Ds. Louis Stephanus Kruger (distrik Bethal, 28 April 1922 – 11 Januarie 2006) was tussen 1951 en 1962 predikant in drie gemeentes van die GKSA.
Ds. Louis Kruger | |
Ds. Louis Kruger
| |
Naam | Louis Stephanus Kruger |
---|---|
Geboorte | 28 April 1922 Distrik Bethal |
Sterfte | 11 Januarie 2006 (op 83) |
Kerkverband | Gereformeerd |
Gemeente(s) | Groblersdal 1951–'54 Benoni 1954–'58 Odendaalsrus 1958–'62 |
Jare aktief | 1951–1962 |
Kweekskool | Potchefstroom |
In sy lewensberig in die Almanak vir die jaar 2007 skryf ds. L.S.D. du Plessis: "Oor die werk van die Here in en deur Louis Stephanus Kruger kan ons as mense vanuit ons sondige eenvoud en beperkte begripsvermoë dalk baie vrae vra, waarvan die vernaamste sekerlik is: Waarom het die Here so 'n briljante en absoluut toegewyde dienskneg van Hom so 'n feitlik lewenslange beproewingspad laat loop?"
Herkoms en opleiding
wysigVan kleins af wat die besonderse intellek waarmee Louis Kruger ontvang het, duidelik sigbaar. Hoewel die nagevolge van polio reeds op jong ouderdom lastig begin raak het, het hy deurentyd blymoedig opgetree, was hy 'n bron van onnutsigheid in sy skoolklasse, en het hy nooit gehuiwer om ten spyte van sy verswakkende spierfunksies ouer mense te help met moeilike take nie. Ds. Du Plessis skryf van die keer toe ds. Kruger op pad êrens heen was, 'n bejaarde man 'n dak sien verf het, die dak opgeklim, die bejaarde se kwas uit sy hand geneem en die dak eers kant en klaar geverf het, voor hy verder gegaan het.
Nadat hy tot die oortuiging gekom het om predikant te word, is sy begeerte hiertoe byna verydel toe medici bevind dat hy waarskynlik nie ouer as 30 jaar sou word nie, en dat die baie jare se studie hierdie prognose verder sou laat verswak. Die destydse Kuratorium het hom as gevolg hiervan ernstig afgeraai om die teologiese studie aan te pak. Gelei deur sy innerlike oortuiging, en ondersteun deur sy jeugvriendin, Nonnie Swart, het hy egter die studie met oorgawe aangepak en met groot sukses voltooi. Sy besonderse begaafdheid was so opmerklik dat hy reeds 'n beroep na die NG Kerk in Malawi ontvang het nog voor hy klaar studeer het.
Gemeentebediening
wysigNadat hy in 1950 sy studie voltooi het, het hy vele beroepe ontvang, en is hy begin 1951 bevestig in die Gereformeerde kerk Groblersdal, as die eerste predikant in sy eerste gemeente. Kort daarna is hy en Martha Hendrina Magdalena (Nonnie) Swart getroud.
Van 1954 af het hy Benoni bedien, en van 1958 tot 1962 was hy werksaam te Odendaalsrus. Weens steeds verswakkende gesondheid en ten spyte van selfs operasies en behandeling in Londen, moes hy in 1962 emeriteer. Tot in daardie stadium was hy nie net met gemeentelike werk besig nie, maar het hy ook akademies besig gebly.
Skrywer
wysigSy boek Waarom is u lid van die Gereformeerde Kerk? was 'n blitsverkoper met heelwat herdrukke. Sy grootste bydrae tot die Gereformeerde Kerke, volgens ds. Du Plessis, was sy aandeel in die boek Handleiding by die Gereformeerde Kerke, "'n boek wat oor baie jare, en selfs oor kerkgrense heen, steeds deur die ernstige soeker na God se orde vir sy kerk, bestudeer word".
Ná sy emeritering
wysigDie Kruger-egpaar het twee begaafde kinders gekry, naamlik Maggie en Theunis, asook, terwyl hulle die Paul Kruger-kinderhuis te Linmeyer uitgebou het (naasaan die Gereformeerde kerk Klipriviersberg), Esther, wat hulle kon grootmaak soos hulle eie. Eindelik, ook weens verdere verswakkende gesondheid, moes hy ook die werk by die kinderhuis, asook enige verdere werk staak.
Tog het hy op uitnodiging, al kon hy later nie meer behoorlik loop nie, steeds gepreek. Ds. Du Plessis skryf: "En wat 'n begaafde prediker was hy nie! Enigeen wat (Iees) deur die twee preekbundels van hom wat gepubliseer is, kom gou agter dat die eksegese besonder deeglik en verantwoord is, en die gedagte-opbou suiwer en boeiend. Sy preke was gevul met geestelike energie, hoewel sy liggaam vinnig agteruitgegaan het."
Sy vrou, Nonnie, het op 14 Junie 1993 in 'n motorongeluk gesterf. Sy hartseer was baie groot en volgens ds. Du Plessis het hy eintlik nooit ophou rou oor haar nie. Intussen het ds. Kruger se eie gesondheid so agteruitgegaan dat hy later 24 uur per dag versorg moes word. Sy versorgers, Miena en Pienkes, "het hierdie werk blymoedig en deeglik gedoen", skryf ds. Du Plessis, "terwyl hy hulle, met sy goeie verstand wat hom tot die einde bygebly het, in die Gereformeerde leer ingelei het.
Waardering
wysigDs. Du Plessis skryf: "Waarom die Here so 'n begenadigde dienskneg van Hom so 'n onverstaanbaar moeilike lewenspad laat loop het? Ons weet nie. Maar vir wyle ds. LS Kruger, wat alles gegee en opgeoffer het in diens van die Here en sy ewige evangelie, was dit wat die Here sê in 2 Korintiërs 4:16-18 die vreugde waaraan hy deurentyd vasgehou het."
Bronne
wysig- (af) Du Plessis, ds. L.S.D. in Vogel, ds. W. et al. 2006. Die Almanak van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika vir die jaar 20074. Potchefstroom: Administratiewe Buro.
Eksterne skakels
wysig- (af) Aanhalings uit ds. Kruger se boek Waarom is u lidmaat van die Gereformeerde Kerk?. URL besoek op 14 Desember 2017.