Italiaanse Rugbyfederasie
Die Italiaanse Rugbyfederasie (Italiaans: Federazione Italiana Rugby, afgekort “FIR”) is die bestuursliggaam wat rugby en sewesrugby in Italië beheer. Die beheerliggaam is in 1928 gestig en by die Stadio Olimpico in Rome gesetel. Sedert 1987 verteenwoordig dit Italië by Wêreldrugby en sedert 1934 ook by Rugby Europa (“RE”).
Italiaanse Rugbyfederasie | |
---|---|
Kenteken van die Italiaanse Rugbyfederasie
| |
Italiaanse naam | Federazione Italiana Rugby |
Afkorting | FIR |
Land | Italië |
Sportsoorte | Rugby, Sewesrugby |
Gestig op | 28 September 1928 |
Gestig in | Rome, Italië |
Lid van | Wêreldrugby |
Aangesluit in | 1987 |
Vastelandse beheerliggaam | Rugby Europa |
President | Marzio Innocenti |
Setel | Stadio Olimpico, Rome, Italië |
Amptelike taal | Italiaans |
Amptelike webwerf | federugby.it |
Geskiedenis
wysigDie Italiaanse Rugbyfederasie het in 1928[1] uit die “Propagandakomitee” ontstaan en in 1987 by die Internasionale Rugbyvoetbalraad (IRVR; nou Wêreldrugby) aangesluit.[2] Daarbenewens was die Italiaanse Rugbyfederasie in 1934 ’n stigtingslid van die vastelandse beheerliggaam Fédération internationale de rugby amateur (FIRA, nou Rugby Europa).[3]
Taak
wysigDie Italiaanse Rugbyfederasie organiseer verskeie nasionale spanne, insluitend Italië se nasionale seniormansrugbyspan (Azzurri), vroue en jeug. Naas die amptelike nasionale span roep die FIR ook ander keurspanne byeen. Italia Emergenti (“Opkomende Italië”) is die tweede nasionale span van Italië. Daarbenewens bestuur die beheerliggaam kinder- en jeugrugby in Italië. Kinders en jongmense word reeds op skool aan rugby bekend gestel en na gelang van hul belangstelling en talent begin hul met hul afrigting. Net soos ander rugbylande beskik Italië oor ’n o/20-nasionale span wat aan die o/20-Sesnasies-toernooi en die Wêreldrugby o/20-kampioenskap deelneem.[4][5] Die FIR hou ook toesig oor sewesrugby in Italië en aangesien dit ’n Olimpiese sportsoort is, werk hulle met die Italiaanse Nasionale Olimpiese Komitee saam.
Saam met die Engelse Rugbyvoetbalunie, die Franse Rugbyfederasie, die Ierse Rugbyvoetbalunie, die Skotse Rugbyunie en die Walliese Rugbyunie organiseer hulle die jaarlikse Sesnasies-toernooi, die vernaamste rugbytoernooi in die Noordelike Halfrond.
Die beheerliggaam reël ook die plaaslike kompetisies. Die hoogste rugbyliga in Italië is die Campionato di Eccellenza, waaraan twaalf spanne deelneem. Van die spanne is veral uit die twee rugbyvestings Lombardye en Veneto afkomstig. Bo die nasionale kampioenskap word die internasionale liga Verenigde Rugbykampioenskap uitgespeel, saam met spanne uit Ierland, Skotland, Suid-Afrika en Wallis, waaraan twee Italiaanse spanne (Benetton Rugby Treviso uit Treviso en Zebre uit Parma) deelneem. Bo die Verenigde Rugbykampioenskap word jaarliks saam met klubs uit Engeland, Frankryk, Ierland, Skotland, Suid-Afrika en Wallis die Europese Rugbykampioenskapbeker en die Europese Rugbyuitdagingsbeker uitgespeel.
Net soos Argentinië is Italië die enigste vlak-een-rugbyland wat tot dusver nog nie ’n wedstryd tydens ’n rugbywêreldbekertoernooi gehuisves het nie, alhoewel hulle vir beide die Rugbywêreldbeker 2015 en Rugbywêreldbeker 2019 aansoek gedoen het.[6][7]
Kenteken
wysigVan die begin van die Italiaanse rugbyspan tot die einde van die Tweede Wêreldoorlog is die ou embleem op die trui aan die Italiaanse rugbyspan aan die Huis van Savoje se wapen ontleen. Die huidige embleem van Italië herinner aan die Italiaanse vlag (groen, wit en rooi), omring deur lourierblare, wat die grootsheid van die Romeinse geskiedenis en die oorwinnings van Julius Caesar in die oudheid simboliseer. Die lourierkrans is deur die Romeinse keisers gedra. Dit is ook as ’n beloning vir militêre oorwinnings aan die generaals toegeken.[8]
Verwysings
wysig- ↑ (it) "Federazione Italiana Rugby". Italiaanse Rugbyfederasie. Besoek op 30 Maart 2024.
- ↑ (en) "Italy". Wêreldrugby. Besoek op 30 Maart 2024.
- ↑ (en) "Historical Rugby Milestones 1930s". Rugby Football History. Besoek op 30 Maart 2024.
- ↑ (en) "Italy U20". Sesnasies. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 20 November 2023. Besoek op 20 November 2023.
- ↑ (en) "World Rugby U20 Championship". Wêreldrugby. Besoek op 30 Maart 2024.
- ↑ (en) "Italian rugby chief wades into euro row". ESPNscrum. 20 September 2012. Besoek op 30 Maart 2024.
- ↑ (en) "IRB confirm 2015 & 2019 host bids". BBC. 15 Augustus 2008. Besoek op 30 Maart 2024.
- ↑ (fr) Jérémy Talbot. "Les lauriers italiens". linternaute.com. Besoek op 30 Maart 2024.