Noordwes
Noordwes (Engels: North West, Tswana: Bokone-Bophirima) is een van die nege provinsies van Suid-Afrika. Die hoofstad is Mahikeng (heet tot onlangs Mafikeng en nog algemeen gebruik). Noordwes is in 1994 gevorm deur die samevoeging van die ou Wes-Transvaal en die "tuisland" Bophuthatswana (uitgesluit die deel wat in die Vrystaat geleë was) en 'n noordoostelike deel van die ou Kaapprovinsie.
Vlag |
Wapen |
Oppervlakte | 104 882 km² |
Bevolking (2011)[1] | 3 509 953 |
Bevolking (2017 skat) | 3 850 000 |
Tale[1] | Tswana (63,4%), Afrikaans (9,0%), Suid-Sotho (5,8%), Xhosa (5,5%), Tsonga (3,7%) |
Etniese groepe[1] | Swart mense (89,8%), Wit mense (7,3%), Bruin mense (2,0%), Asiërs (0,6%) |
Hoofstad | Mahikeng |
Premier | Lazzy Mokgosi (ANC) |
Die provinsiale hoofstad Mahikeng vorm 'n eenheid met Mmabatho, wat voorheen die hoofstad van Bophuthatswana was.
Ander belangrike dorpe in Noordwes is onder meer Potchefstroom, Klerksdorp, Brits, Rustenburg, Lichtenburg en Vryburg.
Demografie
wysig- Bevolking (2007-sensus): 3 394 200.
- Tale: Tswana (63,4%), gevolg deur Afrikaans (9,0%).
Distrikte
wysigDaar is 4 distrikte in die provinsie, naamlik:
- Bojanala Platinum
- Ngaka Modiri Molema (voorheen Sentrale)
- Dr. Kenneth Kaunda (voorheen Suidelike)
- Dr. Ruth Segomotsi Mompati (voorheen Bophirima)
Geografie
wysig- Oppervlakte: Sowat 104 882 vk. km.
Ligging en topografie
wysigNoord en wes van Noordwes lê die land Botswana, terwyl die provinsies Noord-Kaap en Vrystaat aan die suidekant, Limpopo na die noordooste en Gauteng aan die oostekant daarvan lê. Die Magaliesbergreeks is in die noordooste, en die Vaalrivier vorm die provinsie se suidelike grens. Noordwes se suidelike deel is 'n uitgestrekte vlakte, terwyl die noordelike deel grootliks yl begroeide bosveld is.
Ekonomie
wysigMynbou sorg vir meer as 'n derde van Noordwes se bruto binnelandse produk. Nagenoeg 94% van Suid-Afrika se platinum kom van die distrikte Rustenburg en Brits, wat meer van hierdie kosbare silwerwit metaal produseer as enige ander gebied ter wêreld. Die provinsie lewer voorts 'n kwart van die land se goud. Graniet, marmer, vloeispaat en diamante word ook ontgin.
Ondanks die mynboubedrywighede het die provinsie nog steeds 'n landelike karakter. Noordwes lewer sowat 'n derde van die land se mielies. Ander belangrike landbouprodukte in die suidelike en oostelike dele van die land is sonneblomolie, vrugte, tabak en katoen. Die westelike en noordelike dele het weer baie skaap- en beesplase.
Toerisme
wysigNoordwes se malariavrye wildernisgebiede soos die Madikwe Wildreservaat en die Nasionale Pilanesbergpark is gewilde toeristebestemmings. So ook Sun City, 'n bekende luukse vakansieoord wat met twee gholfbane, kasino's, sportgeriewe en ander vermaaklikheidsaktiwiteite daagliks meer as 25 000 besoekers lok. Ander gewilde bestemmings vir buitelug-aktiwiteite is die Hartbeespoortdam (vir watersport) en die Magaliesberge met sy natuurskoon en voetslaanpaaie.
Opvoeding
wysigDie Noordwes-Universiteit, wat die Potchefstroomkampus (die Pukke) insluit, is die provinsie se vernaamste tersiêre onderwysinrigting.
Verwysings
wysig- ↑ 1,0 1,1 1,2 (en) "2011-sensus" (PDF). Statistiek Suid-Afrika. Geargiveer vanaf die oorspronklike (PDF) op 13 November 2015. Besoek op 13 November 2015.
Bronne
wysig
Eksterne skakels
wysigWikimedia Commons bevat media in verband met Noordwes. |
Sien noordwes in Wiktionary, die vrye woordeboek. |
- (en) Toerisme-inligting oor Noordwes op Wikivoyage
- (en) Amptelike webwerf
Provinsies van Suid-Afrika | |
---|---|
Gauteng | KwaZulu-Natal | Limpopo | Mpumalanga | Noord-Kaap | Noordwes | Oos-Kaap | Vrystaat | Wes-Kaap |