Louis Tregardt-gedenktekens
In die noordelike provinsies van Suid-Afrika is daar verskeie monumente en plekname wat die geskiedenis van die trek gelei deur Louis Tregardt in herinnering roep.
Plekname
wysigDie dorpsnaam Louis Trichardt (nou soms ook bekend as Makhado) in die provinsie Limpopo is die bekendste aandenking aan hierdie Voortrekkerleier. Tussen Tzaneen en Ohrigstad lê oos van die R36-roete die plaasgemeenskap Trichardtsdal.
Zebediela
wysigLangs die R519-pad van Roedtan na Pietersburg is daar tussen Zebediela en Bergnek 'n monument op die plek waar die Tregardt-trek in 1836 verbygegaan het.
Pietersburg
wysigOp die Burgerplein in die middestad van Pietersburg (nou ook bekend as Polokwane) staan 'n borsbeeld van Tregardt tussen borsbeelde van o.a. Paul Kruger en W.E. Bok en 'n standbeeld van Tom Naudé. Net buite Pietersburg verby die lughawe is 'n gedenksuil ter ere van die Tregardt-trek. Trappe lei na die bopunt van die kort grys toring. Daar is 'n bronsplaat met 'n kaart van die gebied wat die Trekkers daar deurkruis het.
Krugerwildtuin
wysigSo 'n 15 km noord van Tsjokwane in die Krugerwildtuin draai die Louis Trichardtpad oos weg. By hierdie kruising is 'n bronsplaat aangebring wat Tregardt en sy geselskap se reis vanaf die Zoutpansberge na Delagoabaai in 1838 verby hierdie punt herdenk.
Die dorp Louis Trichardt
wysigIn die plaaslike openbare biblioteek staan 'n borsbeeld van die Voortrekkerleier. Op 'n plein net suid van die NG kerk het die plaaslike Rapportryerskorps in 1994 die Louis Trichardt-skoolmonument opgerig.
Nelspruit
wysigIn die tuin by die eertydse stadsaal (tans Promenade Hotel) in Nelspruit is 'n sonwyser in die vorm van 'n wawiel. Dit is 'n eerbewys aan die Tregardt-trek se baanbrekerstog deur die laeveld.
Trichardtspoort
wysigTrichardtspoort in Mpumalanga is op die trekroete wat die waens van Louis Trichardt en A.H. Potgieter gevolg het. Dit lê tussen Cullinan en die Loskopdam en ook tussen die Wilgerivier en die Gouwsberg. Dit is dus noordoos van Bronkhorstspruit en suidwes van Groblersdal. Teenswoordig is die gebied gewild as 'n bergfietsroete en by stappers.
Graskop
wysigNoord van Graskop en suid van Bourke's Luck langs die R532 is 'n gedenkteken vir die Voortrekkers Louis Tregardt en A.H. Potgieter. Potgieter het naamlik hierdie roete gebruik.
Drakensberg
wysigIn 1937 is 'n plaket aangebring op die plek waar die trek die Drakensberg oos van die Olifantsrivier oorgesteek het.
Voortrekkermonument
wysigIn die heldesaal van die Voortrekkermonument word Louis Tregardt afgebeeld waar hy die Portugese kommandeur van Delagoabaai ontmoet.
Louis Tregardt-gedenktuin
wysig- Die hoofartikel vir hierdie afdeling is: Louis Tregardt-gedenktuin.
'n Indrukwekkende fries, 'n mosaïekroetekaart, afbeeldings van hoofmanne en San met pyl en boog en 'n ronde vywer in die middestad van Maputo in Mosambiek.
Literatuur
wysigIn die drama Voëlvry deur D.J. Opperman is Louis Trichardt die hooffiguur. Sy trek is ook die tema van Jeanette Ferreira se novelle, Die son kom aan die seekant op.
Lubisidam
wysigNa bewering is die Lubisidam, noord van Qamata en noordwes van Cofimvaba in die Oos-Kaap, in die Indwerivier, na die Louis van Louis Tregardt vernoem. Sy trekgeselskap het glo hier 'n tydjie vertoef op hul reis noordwaarts. Daarom is hier ook 'n Trichardtskop.
Trichardt, Secunda
wysigDie nedersetting Trichardt by Secunda is nie na Louis Tregardt vernoem nie, maar lê wel langs die trek se noordwaartse roete.
Gedenktrek van 1938
wysigAan die 1938 trek het daar 'n Louis Trichardt-wa deelgeneem waarvan die waspore by Bedford se Louis Trichardt-plein (voor NG Kerk), in Bethulie by die bopunt van Kerkstraat, Petrus Steyn se Dirkie Uys-terrein, Vryheid se Kerkplein, Paulpietersburg se Erfenispark, Amsterdam se dorpsingang, Piet Retief se NG Kerk en Retief-monument, en op Volksrust se Voortrekkerplein in sement vasgelê is. Daar is ook roetemonumente vir hierdie watrek in Gezina, Pretoria en net noord van Pietersburg opgerig. Die Pietersburg-monument, langs die N1, is ca 2006 deur die munisipaliteit platgestoot.[1]
Bibliografie
wysig- ↑ "Trichardt Monument". Scott Balson's trip to South Africa (in Japannees). 2006. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 4 November 2011. Besoek op 4 Februarie 2016.
- Grobler, Jackie: Monumentale erfenis. 'n Gids tot 50 Afrikaner-gedenktekens. Pretoria: Kontak, 2012. ISBN 978-0-9584313-5-4
- Standard Encyclopaedia of Southern Africa, deel 10. Kaapstad: Nasou, 1974. ISBN 0-625-00326-8
- www.erfenisstigting.org.za
- www.gelofteland.org