Steynsburg
Steynsburg is 'n dorp in die Oos-Kaap, Suid-Afrika. Die dorp is genoem na Douw Gerbrand Steyn, 'n oupa (vader van die moeder van president Paul Kruger) wat op die plaas Bulhoek geboer het en waar die latere president van die Zuid-Afrikaansche Republiek op 10 Oktober 1825 gebore is.
Steynsburg | |
---|---|
Steynsburg uit Molteno se rigting gesien | |
Koördinate: 31°17′47″S 25°49′22″O / 31.29639°S 25.82278°O | |
Land | Suid-Afrika |
Provinsie | Oos-Kaap |
Distrik | Joe Gqabi |
Munisipaliteit | Walter Sisulu |
Stigting | 1892 |
Vernoem na | Douwe Steyn |
Oppervlak | |
• Totaal | 14,70 km2 (5,68 vk. myl) |
Hoogte | 1 451 m (4 760 ft) |
Bevolking (2011)[1] | |
• Totaal | 2 488 |
• Digtheid | 169/km2 (440/vk. myl) |
Rasverdeling (2011) | |
• Wit mense | 10.89% |
• Indiërs/Asiërs | 0.1% |
• Bruin mense | 17.9% |
• Swart mense | 69.9% |
Taal (2011) | |
• Xhosa | 61.45% |
• Afrikaans | 30.91% |
• Engels | 3.82% |
• Sotho | 0.84% |
• Ander | 1.45% |
Poskode (strate) | 5920 |
Skakelkode | 048 |
Stigting
wysigDie Gereformeerde Kerk het die dorp in 1872 aangelê en dit na ouderling A.P.J. Steyn, 'n broer van pres. Paul Kruger se moeder, Elsie Steyn, genoem omdat hy die siel van die onderneming was om 'n kerkdorp in die omgewing gestig te kry vir die lidmate van die Gereformeerde kerk Middelburg, Kaap en Burgersdorp vir wie dit moeilik was om so ver te reis om hul kerklike voorregte te geniet. Destyds was Steynsburg in die distrik Albert geleë. Die lidmate van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in die omgewing van Steynsburg het onder die NG gemeente Burgersdorp geressorteer. Deur hulle is, veral vanweë die groot afstande (64 km na Burgersdorp), ook die behoefte aan 'n eie gemeente sterk aangevoel. In 1874 is reeds begin met die bou van 'n eerste kerkgebou, waarvan die hoeksteen in Maart 1875 gelê is. Veral deur die ywer van Johannes C.M.D. du Plessis is die NG gemeente Steynsburg op 26 Januarie 1876 gestig.
Die dorp word in 1892 'n munisipaliteit. Die R56-provinsiale pad loop deur Steynsburg. In 1890 is ’n spoorlyn tussen Rosmead en Stormberg-stasie aangelê. Dit was ’n groot gebeurtenis omdat inwoners hierna nie net verseker was van vervoer na stede in die Kaapkolonie nie, maar plaasprodukte kon ook na en van die dorp vervoer word en na Oos-Londen met die oog op uitvoer. Die spoorvervoer het intussen in onbruik verval en die spoorlyne het tot niet gegaan.
Klimaat
wysigSteynsburg het 'n koel tot gematigde klimaat.[2] Die gemiddelde temperatuur was 17 °C. Die warmste maand is Januarie, 25 °C, en die koudste Junie, 8 °C.[3] Gemiddelde reënval is 556 millimeter per jaar. Die natste maand is Desember met 100 mm reën, en die droogste September, met 9 mm.[4]
Ekonomie
wysigSteynsburg is 'n handelsentrum vir 'n woldistrik van 1 000 km2 met verskeie merinostoetplase. Buurdorpe is Hofmeyr (48 km suid), Molteno en Burgersdorp (64 km noordoos). Ongeveer 30 km wes van Steynsburg is Teebus, 'n koppie waar die Oranje-Visrivier tonnel in die Teebusspruit uitmond.[5][6]
Gesondheid
wysigSteynsburg beskik oor 'n goed gevestigde provinsiale hospitaal, asook 'n primêre gesondheidskliniek in Khayamnandi.
Onderwys
wysigDie Gereformeerde Kerk het 'n eie skool vir Christelike Nasionale Onderwys (CNO) hier gestig en ook 'n normaalskool waar onderwysers opgelei is.
Steynsburg se Hoërskool Paul Kruger, waar N.P. van Wyk Louw tydens 1928 Engels en 'n bietjie Duits gegee het,[9] is aan die einde van 1992 weens dalende leerlingetalle gesluit. Die gemeenskap het toe die eiendom van die hoërskool oorgeneem en die Paul Kruger Kollege vir Christelike Onderwys op 19 Januarie 1993 daarin geopen, blykbaar met net meer as 20 leerlinge. Intussen het die Laerskool Unie as 'n staatskool voortbestaan. Die Kaaplandse Onderwysdepartement (KOD) het die stigting van die sekondêre skool goedgekeur. Teen April 1993 het die hele kollege 66 leerlinge gehad, waarvan 22 in die hoërskool-afdeling was omdat die skool in sy stigtingsjaar reeds gedwing is om, weens geldelike oorwegings, laerskoolleerlinge in te neem. Die meeste van dié leerlinge het uit die Laerskool Unie gekom sodat dié skool kort voor lank net sowat 60 leerlinge oorgehad het. Die KOD het toe Paul Kruger-kollege se laerskool-afdeling gesluit. Hierna het op een na die hele bestuur van die plaaslike Nasionale Party-tak uit protes bedank het. Die privaat skool se direksie het toe appèl aangeteken by die onderwysminister.
Die stryd het daardie jaar in die hof gaan draai. Die Burger (Oos-Kaap) het op 18 November 1993 berig die "omstrede" privaat laerskool wat al tot "groot onmin en tweespalt" op die dorp gelei het, was weer in die nuus toe 'n regter van die hooggeregshof in Grahamstad beslis dat die skool se registrasie nie tersyde gestel mag word nie. Regter R.J.W. Jones het op 17 November beslis dat daar geen regsgrond is waarop die besluit van die Minister van Nasionale Opvoeding, Piet Marais, om registrasie van die Paul Kruger-Kollege vir Christelike Onderwys toe te staan, tersyde gestel moet word nie, soos die Laerskool Unie wou hê.[10]
Dit het gekom nadat die Laerskool Unie 'n aansoek by die hooggeregshof ingedien het dat die privaat laerskool se registrasie tersyde gestel moet word. Die privaat skool is in Mei 1993 geregistreer. Luidens die berig in Die Burger het die onmin begin toe die Paul Kruger-kollege uitgebrei is om ook 'n laerskool in te sluit. Daar is beweer dat leerlinge deur die privaatskool by die Laerskool Unie "afgerokkel" is en dat daar te min leerlinge op die dorp vir twee laerskole was.
Ondanks mooi prestasie en goeie matriekuitslae[11] het die ontvolking van die Oos-Kaapse platteland eindelik sy tol op die privaatskool geëis toe dit in 2007 moes sluit.[12]
Tehuis Marais Steyn
wysigIn 1978 is 'n huis vir bejaardes op Steynsburg geopen. Die kleurryke politikus van eers die Verenigde Party en later die Nasionale Party Marais Steyn het persoonlik meegehelp dat die tehuis, wat deur plaaslike kerke begin is en nog deur hulle bestuur word, tot stand kom. Die tehuis, wat voorsiening maak vir 41 verswakte bejaardes, is na hom genoem. Hy het die instelling meermale besoek en met sy opgewekte geaardheid en humorsin saam met die bestuur en inwoners verkeer.[13]
Bekende boorlinge
wysig- Felix du Plessis, Springbokkaptein en Morné du Plessis se pa
- Pres. Paul Kruger, op die plaas Bulhoek in die distrik[14]
- Prof. Joon van Rooy, akademikus en kultuurleier
Fotogalery
wysig-
Die dorp se stadsaal.
-
Syaansig van die stadsaal.
-
'n Gastehuis in die middedorp.
-
Dié gastehuis was in die mark toe die foto geneem is in Junie 2012.
-
'n Ry winkels aan die dorp se hoofstraat.
-
Die Gereformeerde kerk staan in die middel van die dorp, maar die NG kerk is in 'n systraat.
-
Woonhuise in die sogenaamde bodorp.
-
'n Straattoneel in die middedorp.
-
Die stasiegebou in 2012.
-
Steynsburg se poskantoor toon in 2012 ook tekens van verwaarlosing.
-
Een van tallose huise op die dorp wat agteruitgaan.
-
'n Tipiese huis op Steynsburg.
-
Dié huis oorkant die NG kerkgebou heet "Sondersorge".
-
Die NG kerk Steynsburg.
-
Die NG gemeente Steynsburg is drie jaar jonger as die Gereformeerde kerk. Die hoeksteen van dié gebou is in 1910 gelê.
-
Steynsburg is deur die Gereformeerde Kerk gestig.
-
Die Gereformeerde kerk gedenk sy 80-jarige bestaan in 1952 met die aanbring van siersteenwerk en lê dié gedenksteen.
-
Die Gereformeerde kerk het sy eeufees in 1972 gedenk.
Sien ook
wysigEksterne skakels
wysig- Steynsburg vier sy 140ste bestaansjaar[dooie skakel]
- Ryk aan geskiedenis en gees; Steynsburg vier 140 jaar Volksblad, 31 Oktober 2012
- Steynsburg wys ná 140 jr. sy hart bly groot Volksblad, 25 Oktober 2012
- Twee matrieks van Paul Kruger vaar puik Die Burger, 28 Desember 1998
- (en) Nadere besonderhede oor die Marais Steyn-tehuis Geargiveer 18 Maart 2016 op Wayback Machine. URL besoek op 6 Junie 2013.
Verwysings
wysig- ↑ 1,0 1,1 1,2 1,3 "Hoofplek Steynsburg". Sensus 2011.
- ↑ Peel, M C; Finlayson, B.L. "Updated world map of the Köppen-Geiger climate classification". Hydrology and Earth System Sciences. 11: 1633–1644. doi:10.5194/hess-11-1633-2007. Besoek op 30 Mei 2016.
- ↑ "NASA Earth Observations Data Set Index" (in Engels). NASA. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 11 Mei 2020. Besoek op 30 Mei 2016.
- ↑ "NASA Earth Observations: Rainfall (1 month - TRMM)" (in Engels). NASA/Tropical Rainfall Monitoring Mission. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 11 Mei 2020. Besoek op 30 Mei 2016.
- ↑ Op Pad in Suid-Afrika. B.P.J. Erasmus. 1995. ISBN 1-86842-026-4
- ↑ Ensiklopedie van Suidelike Afrika. Eric Rosenthal. 1967
- ↑ Artefacts.co.za
- ↑ Epwpmis.co.za[dooie skakel]. URL besoek op 30 Junie 2013.
- ↑ Doktorale verhandeling oor N.P. van Wyk Louw
- ↑ Skool se registrasie mag nie tersyde gestel word - hof Die Burger (Oos-Kaap), 18 November 1993
- ↑ Paul Kruger Kollege, Die Burger, 31 Desember 1999. URL besoek op 30 Junie 2013.
- ↑ "Firstthoughts.org". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 22 Januarie 2013. Besoek op 7 Desember 2012.
- ↑ Menings: Steynsburg sal sy seun lank onthou.
- ↑ Matriekklas ná 52 jaar weer byeen Volksblad, 21 September 2012