Wikus Vorster
Ds. Johannes Lodewikus Vorster (noemnaam Wikus, Philipstown, Kaapkolonie, 20 Desember 1908 – Potchefstroom, 2 Mei 1990) was langer as 38 jaar predikant in die Gereformeerde Kerk en het in sewe werkkringe gestaan, naamlik Piet Retief 1935–1938, Durban 1939–1942, Ventersburg-kombinasie 1942–1944, Johannesburg-Oos 1944–1948, Steynsburg 1948–1953, Bloemfontein-Wes 1953–1958 en Potchefstroom-Noord 1958–1973.
Ds. Wikus Vorster | |
Ds. J.L. Vorster
| |
Naam | Johannes Lodewikus |
---|---|
Geboorte | 20 Desember 1908 Philipstown, Kaapkolonie |
Sterfte | 2 Mei 1990 (op 81) Onbekend |
Kerkverband | Gereformeerd |
Gemeente(s) | Piet Retief 1935–1938 Durban 1939–1942 Ventersburg-kombinasie 1942–1944 Johannesburg-Oos 1944–1948 Steynsburg 1948–1953 Bloemfontein-Wes 1953–1958 Potchefstroom-Noord 1958–1973 |
Jare aktief | 1935–1973 |
Kweekskool | Potchefstroom |
Herkoms
wysigSoos so baie predikante wat in die jare twintig en dertig van die vorige eeu tot die bediening toegetree het, was Wikus Vorster ’n seun van Philipstown in die Bo-Karoo. In sy geboortewêreld het hy die meeste van sy onderrig ontvang, maar het aan die Hoërskool Gimnasium op Potchefstroom gematrikuleer. Aan die PUK vir CHO was hy ’n goeie student en het later voorsitter van die studenteraad geword. As jong predikant is hy getroud met Anna de Vos, wat hy aan die PUK ontmoet het.
Gemeentebediening
wysigDs. Vorster se sewe gemeentes of kombinasies was verspreid oor al vier die destydse provinsies van Suid-Afrika, terwyl hy ook hulpdiens verrig het in die indertydse Suidwes-Afrika. Volgens dr. Ben de Klerk wat sy lewensberig in die GKSA se Almanak van 1991 geskryf het, is ds. Vorster se bediening gekenmerk deur "opregtheid, nederigheid en sy liefde vir en betrokkenheid by elke lidmaat". In sy jare van bediening het hy groot veranderinge ten opsigte van verstedeliking en bedieningspatrone meegemaak.
Breër betrokkenheid
wysigDs. Vorster was 12 jaar lank raadslid van die PU vir CHO en het harde werk gedoen, ook in die komitees. In die gemeenskapslewe van al die plekke waar gearbei het, het hy volgens dr. De Klerk ’n leidende rol gespeel. "Hy was veral ’n harde, stille werker agter die skerms. Hy was by uitnemendheid ’n gesinsman en sy vrou, kinders en kleinkinders was vir hom ’n kosbare kleinood."
So stil en nederig soos hy geleef het, skryf dr. De Klerk, is ds. Vorster die oggend van 2 Mei 1990 in sy slaap in die ouderdom van 81 jaar oorlede. "Die lewe van hierdie begaafde kneg van die Here sal vir baie nog as voorbeeld bly dien."
Waardering
wysigSy dogter Elna Coetzer het einde 2017 van haar pa geskryf: "Ek onthou hom as my stil en rustige pa, wat, volgens my as tiener, 'uit die bloute', altyd daar was as ek hulp of raad nodig gehad het. Sonder dat hy dit gewys het, het hy my so goed gelees en gehelp met raad, veral ook oor besluite oor my studierigting op Puk. Ek het gedink niemand weet hoe ek daaroor worstel nie maar ja, skielik was hy net daar op die regte tyd vir my om te help. Die Karoo-woonstelle het sy naam gekry van sy erfplaas in die Karoo. Ons was 'n paar dae gelede by Coenie en Deon Meyer se uitmuntende Karoo Suite en daar was my man Jan so aangedaan, want ons het gewens my pa was daar om die Karoo, wat hy so diep liefgehad het, te kon gedenk deur Coenie en Deon se oë ... en harte."
Bronne
wysig- (af) De Klerk, dr. Ben in De Bruyn, F.P.R et al. 1990. Die almanak van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika vir die jaar 1991. Potchefstroom: Administratiewe Buro.