Izak van der Walt
Ds. Izak Jacobus van der Walt (plaas Nauwpoort, distrik Rustenburg, Transvaal, 10 Augustus 1904 – 8 Desember 1975) was ’n predikant in vyf gemeentes van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, waarvan vier in die destydse Transvaal was en een, Hennenman, in die Vrystaat.
Izak van der Walt | |
Izak van der Walt
| |
Naam | Izak Jacobus van der Walt |
---|---|
Geboorte | 10 Augustus 1904 Distrik Rustenburg |
Sterfte | 8 Desember 1975 (op 71) |
Kerkverband | Gereformeerde Kerk |
Gemeente(s) | Matlabas (1932–1941) Louis Trichardt (1941–1945) Ventersdorp (1945–1951) Hennenman (1951–1955) Randfontein (1955–1969) |
Jare aktief | 1932–1969 |
Kweekskool | Potchefstroom |
Van der Walt het die lewenslig in die distrik Rustenburg aanskou en is daarna gedoop in die Gereformeerde kerk Rustenburg. Later het sy ouers, algemeen bekend as oom Izak en tant Miemie, na die Moot getrek waar Van der Walt en sy tweelingbroer, Willie, hul eerste onderwys aan die CNO-skool op Hartbeesfontein ontvang het. Hul eerste onderwysers was N. van der Walt en later P.A. Mulder en J.J. Malan. Die CNO-skool is egter later gesluit en moes hulle toe na die goewermentskool op Hartebeestfontein gaan waar meester A. Bosua die hoof was. Aan die einde van st. 5 het Van der Walt ’n beurs verwerf wat sy ouers in staat gestel het om hom na die Potchefstroom Gimnasium te stuur waar hy gematrikuleer het. In die PUK vir CHO het hy sy my studie voortgesit en ná B.A. aan die Teologiese Skool waar hy einde 1931 sy finale eksamens afgelê het.
Begin van 1932 het die gemeente van Matlabas hom gevra om tydelik as proponent daar te kom werk. In April van dieselfde jaar is hy daarheen beroep en in Julie as eerste predikant van dié kerk bevestig deur prof. J.A. du Plessis. In 1958 sou ds. Van der Walt skryf: “Die beginjare in die nuwe gemeente was moeilik. Die mense was arm, ’n swaar depressie het gedruk, die nuwe kerk wat gebou was moes afbetaal word, ens. Tye en toestande het later darem verbeter. Vervoermiddele met huisbesoeke was nie van die modernste nie. Dit het gegaan soms per muilkar, soms per motor en ’n enkele keer ook te perd, te donkie en te voet. Grappies het ook nie ontbreek nie veral nie as ons die dag met die perde en donkies moes gaan. En toe op ’n keer die diaken vlak voor die huis waar ons moes gaan huisbesoek doen van sy perd afgeval het met al sy potsierlike manewales daarby, het dit moeilik gegaan om die nodige erns by die huisbesoek te bewaar.”
Ds. Van der Walt is in 1934 getroud met mej. B.J. Theron van Frankfort. Uit die huwelik is drie kinders gebore van wie een jonk oorlede is.
In 1941 is hy na Louis Trichardt, waar hy vier jaar gearbei het. Destyds was die latere gemeentes Magalakwin en Messina nog wyke van Louis Trichardt-gemeente. Ook hier was ds. Van der Walt die eerste eie predikant wat in die gemeente gewoon en gewerk het. Van Louis Trichardt is hy na Ventersdorp, wat hy in kombinasie met Lichtenburg vyf jaar lank bedien het. Tydens sy bediening op Lichtenburg is die huidige kerkgebou daar opgerig.
In 1951 het hy ’n beroep na Hennenman-Ventersburg-kombinasie opgevolg en dit vier jaar bedien. Sinds 1955 was hy op Randfontein werksaam, waar hy sy emeritaat in 1969 aanvaar het. Ook van ons verafgeleë gemeentes het hy besoek: in 1940 Suid-Rhodesië, in 1944 Noord-Rhodesië en in 1946 Kenia vir drie maande. In 1958 skryf hy: “Van al hierdie reise het ek nog steeds die aangenaamste herinneringe.”
Bronne
wysig- (af) Venter, H.J. 1959. Eeufeesgedenkalbum van die Gereformeerde kerke in die Klassis Waterberg 1859–1959. Potgietersrus: Deputaatskap vir die Gedenkalbum.