Belgiese nasionale rugbyspan

(Aangestuur vanaf België nasionale rugbyspan)

Die Belgiese nasionale rugbyspan (Duits: Belgische Rugby-Union-Nationalmannschaft; Frans: Équipe nationale de Belgique de Rugby de XV; Nederlands: Belgisch rugbyteam) is die nasionale rugbyspan wat België in internasionale wedstryde (toetswedstryde) verteenwoordig. Rugby word in België geadministreer deur Belgium Rugby (BR) wat in 1931 gestig is. Hulle dra die bynaam “Swart duiwels”. België word deur Wêreldrugby as ’n vlak drie-span erken. Die Belgiese rugbyspan is tans (Oktober 2024) 30ste op Wêreldrugby se wêreldranglys gelys.[4]

België
Unie Belgium Rugby (BR)
Bynaam(e) Zwarte Duivels (nl) / Diables noir (fr) / Schwarze Teufel (de) (Swart duiwels)
Embleem Belgiese leeu
Stadion Nelson Mandela-stadion, Brussel
Afrigter(s) Vlag van Frankryk Laurent Dossat (sedert 2024)
Kaptein(s) Jens Torfs
Spankleure


Alt. kleure

Statistiek
Meeste toetse Thomas Dienst (27)[1]
Meeste punte Alan Williams (173)[2]
Meeste drieë Thomas de Molder (5)[3]
Eerste internasionale wedstryd
Eerste nieamptelike toetswedstryd
Vlag van Nederland Nederland 0–6 België Vlag van België
(Den Haag, Nederland; 1 Julie 1930)
Eerste amptelike toetswedstryd
Vlag van Nederland Nederland 6–6 België Vlag van België
(Amsterdam, Nederland; 13 Maart 1932)
Grootste oorwinning
Vlag van België België 94–3 Verenigde Arabiese Emirate Vlag van Verenigde Arabiese Emirate
(Doebai, Verenigde Arabiese Emirate; 8 Desember 2012)
Grootste nederlaag
Vlag van Spanje Spanje 77–0 België Vlag van België
(Madrid, Spanje; 8 Desember 1996)
Unie webwerf
www.rugby.be

België het in 1930 sy eerste nieamptelike toetswedstryd teen Nederland gespeel; hul eerste amptelike toetswedstryd het twee jaar later plaasgevind. In die daaropvolgende jare het albei spanne gereeld ontmoet. Van die ander opponente in die begintydperk was Italië en Duitsland. In 1934 was België een van die stigtingslede van die Fédération internationale de rugby amateur (FIRA, nou Rugby Europa) wat as mededinger tot die destydse eksklusiewe, Angel-Saksies oorheersde Internasionale Rugbyvoetbalraad (IRVR, nou Wêreldrugby) gestig is.[5] Sedert die 2000’s het die rugbysport in België verder ontwikkel en die keurspan lok intussen gereeld skare van sowat 1 000 tydens tuiswedstryde. België speel die meeste van sy toetswedstryde tydens die Europese Rugbykampioenskap, waar hulle met ander opkomende rugbyspanne meeding. Die nasionale span se beste prestasies tot dusver is die promosie na die eerste vlak in 2010, 2014 en 2022. België kon tot dusver nog nie vir ’n rugbywêreldbekertoernooi kwalifiseer nie. Die Belgiese span speel tradisioneel in rooi-swart-gestreepte truie met swart broeke en swart sokkies.

Beheerliggaam

wysig

Die beheerliggaam vir rugby in België is Belgium Rugby (BR), tot in 2019 die Belgiese Rugbyfederasie (Fédération Belge de Rugby, FBRB) genoem. Die FBRB is in 1931 gestig en het in 1998 by die Internasionale Rugbyraad (IRR, nou Wêreldrugby) aangesluit.[6] Daarbenewens was die Belgiese beheerliggaam in 1934 ’n stigtingslid van die kontinentale beheerliggaam Fédération internationale de rugby amateur (FIRA, nou Rugby Europa).[5]

Die hoogste rugbyliga in België is die Eerste Divisie, waaraan agt spanne deelneem. Die meeste spelers van die Belgiese nasionale span is uit dié liga afkomstig. Van die ander spelers is veral in Frankryk aktief. In België aktiewe nasionale spelers draf meestal uit vir die professionele span Brussels Devils wat sedert 2021 aan die Rugby Europa Superbeker deelneem.[7]

Naas die amptelike nasionale span roep die FBRB ook ander keurspanne byeen. Die Belgium Sevens is die Belgiese sewesrugbyspan en hulle neem aan internasionale toernooie soos Wêreldrugby se Sewesreeks, Sewesrugbywêreldbeker en Olimpiese Somerspele deel. Net soos ander rugbylande beskik België oor ’n o/20-nasionale span wat aan die Europese en Wêreldrugby o/20-kampioenskap deelneem.[8] Kinders en jongmense word reeds op skool aan rugby bekend gestel en na gelang van hul belangstelling en talent begin hul met hul afrigting.

Geskiedenis

wysig

Invoering en vestiging van rugby

wysig
 
België teen Italië tydens die FIRA-toernooi in 1937

Rugby is in België veral deur Britte en Franse gevestig. Die Rugby Club Français is deur die Fransman Jean Rey gestig en hy sou later die eerste hoofafrigter van die nasionale span word. Britte was later by die stigting van die Britse Sportklub in Antwerpen (gestig in 1919) en Brussel (gestig in 1925) betrokke wat rugby in België verder versprei het. België het op 1 Julie 1930 in sy eerste wedstryd weg in Den Haag gespeel en hulle kon Nederland met 6–0 klop, waarmee die tot op hede aanhoudende mededinging met die noordelike buurland afgeskop het. Later dieselfde jaar het die tweede wedstryd in Brussel gevolg, wat hulle met 11–0 kon wen. Albei wedstryde word deur Belgium Rugby (BR) egter nie as amptelike toetswedstryde erken nie omdat sowel die Belgiese asook die Nederlandse rugbybeheerliggam nog nie bestaan het nie. In 1931 is die Belgiese Rugbyfederasie (Fédération Belge de Rugby, FBRB; nou Belgium Rugby) gestig.[9] Die eerste raadsvergadering is op 20 Januarie 1932 gehou. Op 13 Maart dieselfde jaar is in Amsterdam die eerste amptelike, deur die Belgiese rugbybeheerliggaam erkende, toetswedstryd teen Nederland beslis en dit het in ’n 6–6-gelykop geëindig.[10] Tot in 1937 het die Belge jaarliks teen Nederland te staan gekom, maar elke wedstryd verloor.

In 1934 was die FBRB een van die stigtingslede van die vastelandse beheerliggaam Fédération internationale de rugby amateur (FIRA, nou Rugby Europa) wat onder Franse leiding as mededinger tot die destydse eksklusiewe, Angel-Saksies oorheersde Internasionale Rugbyvoetbalraad (IRVR, nou Wêreldrugby) gestig is.[5][11] Nogtans was internasionale ontmoetings skaars. In 1937 is die Eerste Divisie, die nasionale kampioenskap, vir die eerste keer beslis. In dieselfde jaar het die span, tydens die tweede FIRA-toernooi in Parys (die Europese Rugbykampioenskap se voorloper), ook teen Italië gespeel, maar hulle is verslaan. Hulle kon in die uitspeelwedstryd om die vyfde plek Nederland klop.[12]

Gereelde internasionale kontak

wysig

Ná die einde van die Tweede Wêreldoorlog het die Belgiese span in die laat 1940’s slegs teen Nederland te staan gekom. In 1952 is die Europese Rugbybeker ná ’n onderbreking van vyftien jaar hervat, maar die Belge is deur Wes-Duitsland geklop en daarmee in die eerste rondte uitgeskakel.[13] Tydens die Rugbybeker 1954 het hulle vir die eerste keer Spanje ontmoet, maar hulle is weer in die eerste rondte uitgeskakel.[14] Tot en met 1969 het die Belge in minstens een jaarlikse vriendskaplike wedstryd teen die noordelike buurland gespeel.

Toe die FIRA die Europese Rugbykampioenskap ná ’n onderbreking van meer as tien jaar hervat het (onder deelname van Noord-Afrikaanse spanne), het die Belge begin in die tweede afdeling. Tydens die FIRA-nasiesbeker 1965/66 het hulle ná ’n gelykop teen Portugal op eie bodem promosie na die eerste afdeling misgeloop.[15] Tydens die FIRA-nasiesbeker 1966/67 het hulle in die eindstryd teen Tsjeggo-Slowakye vasgeval.[16] In 1967/68 is hulle deur Spanje, Marokko en Portugal verslaan.[17] In 1968/69 het die span ná ’n oorwinning oor Nederland die finale rondte gehaal, maar hulle is deur Italië en Spanje geklop.[18] In 1970/71 is België in die groepfase uitgeskakel.[19]

Ná ’n herstrukturering van die FIRA-beker het België tydens die FIRA-beker 1974/75 in die tweede afdeling aangebly, maar albei groepwedstryde verloor.[20] Daarmee is hulle na die derde afdeling gerelegeer, waar hulle ná drie oorwinnings regstreekse promosie behaal het.[21] In 1977/78 het die span ’n nederlaag teen Marokko gely, terwyl hulle nie teen Joego-Slawië gespeel het nie en dié wedstryd ook as ’n nederlaag geag is.[22] Tot in die middel-1980’s het die Belge veral in die derde afdeling gespeel, maar ná nog ’n herstrukturering ná die FIRA-beker 1984/85, toe die FIRA die tweede en derde afdeling saamgevat het, het hulle in die derde afdeling aangebly.[23]

In 1985 het die Internasionale Rugbyvoetbalraad (IRVR, nou Wêreldrugby), wat destyds baie eksklusief was en slegs agt lede gehad het, op die invoering van die rugbywêreldbekertoernooi besluit. Vir die eerste Rugbywêreldbeker 1987 het die IRVR nege spanne vir deelname genooi, maar België het geen uitnodiging ontvang nie.[24] Die Belge se eerste deelname was tydens die Rugbywêreldbeker 1991-kwalifisering, waar hulle in die tweede rondte van die Europese kwalifisering slegs die vierde plek kon behaal, nadat België al sy drie wedstryde verloor het.[25]

In die 1990’s het die span al hoe meer wedstryde teen hulle gereelde Europese teenstanders begin speel en tydens die FIRA-beker 1992–1994 aan die eerste divisie deelgeneem.[26] Tydens die Rugbywêreldbeker 1995-kwalifisering kon die span slegs Switserland klop, maar hulle is deur Portugal en Spanje geklop.[27]

Die FIRA het die Europese toernooi weereens herstruktureer, maar België het tydens die FIRA-beker 1994–1997 in die eerste afdeling aangebly en tydens die hoofrondte die laaste groepplek beklee.[28] België het in 1998 amptelik by die IRR aangesluit. Die jare van 1997 tot 1999 was ’n tyd van veranderinge in Europese rugby, aangesien FIRA homself onder die IRR as vastelandse beheerliggaam geskik en gelyktydig die nie-Europese lede ontslaan het. Buitendien het met Frankryk en Italië die twee sterkste spanne nie meer aan die Europese kampioenskappe deelgeneem nie. Om dié redes is ander toernooie beslis, wat nie as vastelandse kampioenskappe geag is nie. Tydens die FIRA-toernooi 1996/97 het die Belge die agtste plek behaal.[29] Tydens die daaropvolgende Rugbywêreldbeker 1999-kwalifisering, wat in die wintersemester 1997/98 beslis is, het hulle slegs die vyfde groepplek behaal.[30]

Tydens die FIRA-toernooi 1998/99 het België sy wedstryde teen Joego-Slawië en Luxemburg gewen, terwyl hulle deur Tunisië en Duitsland geklop is.[31] Daarmee het die span die derde groepplek behaal, waarmee hulle die Europese Nasiesbeker 1999/2000 se derde afdeling gehaal het, die eerste toernooi van die Europese toernooi se nuwe formaat. België het die wedstryd teen Switserland gewen, maar hulle het die ander wedstryde teen Pole, Tsjeggië en Letland verloor.[32]

In die nuwe millennium

wysig
 
Duitsland speel tydens die Europese Rugbywêreldbeker 2007-kwalifisering teen België op 29 April 2006 in Hannover, Duitsland
 
Pole speel tydens die Europese Rugbywêreldbeker 2011-kwalifisering teen België op 30 Mei 2009

Die Europese Nasiesbeker 2000/01 en die Europese Nasiesbeker 2001/02 was gelyktydig die eerste en tweede rondte van die Rugbywêreldbeker 2003-kwalifisering en die Belge het met hul promosie na die tweede afdeling ook die tweede rondte gehaal, maar daar het hulle slegs die laaste plek behaal.[33]

Tydens die Europese Nasiesbeker 2002–2004 het die Belge die laaste plek behaal.[34] Die Europese Nasiesbeker 2004–2006 het gelyktydig as die Rugbywêreldbeker 2007-kwalifisering se eerste deel gedien. Dit het vir die span in die tweede rondte geëindig, nadat hulle die tweede plek behaal het.[35] Voor die Rugbywêreldbeker 2007 het ’n Belgiese span teen Argentinië gespeel. Op 24 Mei 2008 het ’n Belgiese XV teen die Britse Barbarians gespeel.

België het geleidelik verbeter, van die 55ste rang af in 2004 het die “Swart Duiwels” gedurende die volgende jare baie verbeter en goeie resultate teen ander Europese spanne behaal en in 2010 een van die 30 beste spanne op die IRR se ranglys geword. Sedert België se toetreding tot die eerste 30 spanne in die internasionale ranglys het hulle daarin geslaag om hul plek te behou.[4] Die Europese Nasiesbeker 2006–2008 het die Belge in die tweede plek afgesluit en sodoende promosie na die eerste afdeling misgeloop.[36] Tydens die Europese Nasiesbeker 2008–2010, wat ook deel gevorm het van die Rugbywêreldbeker 2011-kwalifisering, het die Belge sowel promosie asook die Europese uitspeelwedstryd misgeloop.[37]

Gedurende die Europese Nasiesbeker 2010–2012 het België ’n baie suksesvolle veldtog gehad en kon tussen Maart 2011 en Desember 2012 tien agtereenvolgende wedstryde wen.[38] Hulle het vir die 2012–14-toernooi tot die ENB 1A gevorder, waar hulle teen spanne soos Spanje en Portugal, maar ook die Rugbywêreldbeker 2011-deelnemers Roemenië, Georgië en Rusland gespeel het. Die span het egter in die sesde plek geëindig en is weer na die afdeling 1B gerelegeer.[39] Aangesien dit ook deel was van die Europese Rugbywêreldbeker 2015-kwalifisering, het die span ook dié toernooi misgeloop.[40] Tydens die Europese Nasiesbeker 2014–2016 het België regstreekse promosie na afdeling 1A behaal.[41]

’n Kontroverse en sy gevolge

wysig

Ná nog ’n formaatverandering in die Europese Nasiesbeker het België aan die hoogste vlak Europese Rugbykampioenskap 2017 deelgeneem. Dié toernooi se uitslae is soos die Europese Rugbykampioenskap 2018 s’n vir die Rugbywêreldbeker 2019-kwalifisering in ag geneem (uitsluitende die wedstryde teen die reeds gekwalifiseerde Georgiërs). Die Belge kon egter slegs het ’n oorwinning oor Duitsland aanteken. Daarna het hulle op 18 Maart 2018 in Brussel ’n omstrede 18–10-tuisoorwinning oor Spanje behaal. Die Roemeense skeidsregter Vlad Iordăchescu en die twee Roemeense lynregters het tydens die wedstryd verskeie omstrede besluite ten gunste van die Belge geneem, wat daartoe gelei het dat Roemenië pleks van Spanje sou gekwalifiseer het.[42]

Drie weke later het Wêreldrugby ’n ondersoek aangekondig. Die amptenare was bekommerd oor die benoeming van ’n klaarblyklik nie neutrale skeidsregterspan deur die vastelandse beheerliggaam Rugby Europa. Hulle wou ook ondersoek instel na gerugte wat intussen opgeduik het, waarvolgens verskeie spanne uitgesluite spelers ingespan het. Nasionale rugbyspanne kon destyds naas staatsburgers ook buitelandse spelers insluit, wat vir ten minste drie jaar sonder onderbreking hul verblyf in die betrokke land gehad het (sedert 2020 is dit vyf jaar).[43] Middel Mei 2018 het die onafhanklike ondersoekkomitee in opdrag van Wêreldrugby sy verslag gepubliseer. Volgens dié berig het België, Roemenië en Spanje in verskeie wedstryde spelers ingespan, wat volgens die verblyfreël nie geskik was nie. In België se geval was dit ses kwalifiseringswedstryde en hulle is met die aftrekking van 30 tabelpunte beboet (vyf vir elke wedstryd). Gevolglik het die span van die vierde na die sesde plek afgegly. Roemenië, wat ook beboet is, is by dié toernooi deur Rusland vervang, terwyl Duitsland pleks van Spanje aan die volgende kwalifiseringsrondte kon deelneem.[44] In Junie het ’n onafhanklike appèlliggaam dié uitspraak bevestig.[45]

Verdere ontwikkeling

wysig

Vroeg in 2019 het die Belgiese beheerliggaam sy amptelike naam verander in “Belgium Rugby” (BR), daarmee wou die beheerliggaam enersyds aan homself ’n neutraler naam gee in ’n meertalige België en andersyds toegankliker vir die internasionale rugbygemeenskap word.[9] Tydens die Europese Rugbykampioenskap 2020 kon die Belge slegs ’n oorwinning oor Rusland aanteken, waarmee hulle in die laaste plek geëindig het en om promosie/relegasie teen die Nederlanders moes speel. Hulle het ’n naelskraapse 21–23-nederlaag gely, waarmee hulle na die Europese Rugbytrofee gerelegeer is en nie meer vir die Rugbywêreldbeker 2023 kon kwalifiseer nie.[46] In Maart 2020 is die internasionale speelprogram weens die wêreldwye Covid-19-pandemie tot in Oktober 2021 gekniehalter. Tydens die Europese Rugbytrofee 2021/22 het België die eerste plek behaal,[47] waarvolgens hulle na die Europese Rugbykampioenskap 2022/23 gepromoveer is, waartydens die span die sewende plek onder agt deelnemers beklee het.[48] Tydens die Europese Rugbykampioenskap 2023/24 het die Belge weer die sewende plek behaal, waarmee hulle in dié afdeling aangebly het.[49] Tydens dié toernooi kon die Belge ’n verrassende tuisoorwinning oor die rugbywêreldbekerdeelnemer Portugal aanteken (met 10–6).[50]

Kleure, embleem en bynaam

wysig

België speel tradisioneel in ’n rooi-swart-gestreepte trui met die Belgiese vlag op die moue, swart broeke en swart sokkies met die Belgiese vlag aan die bokant. Hul alternatiewe trui is geel-swart-gestreep met die Belgiese vlag op die moue, swart broeke en swart sokkies met die Belgiese vlag aan die bokant.

Die huidige truiverskaffer is die Nieu-Seelandse sportuitruster Canterbury en die truiborg is die Belgiese THV.[51] Die beheerliggaam se kenteken verskyn op die regterbors, die truiverskaffer se kenteken links en die borgkenteken op die middel.

Belgium Rugby se kenteken toon ’n leeu met doelpale op die agtergrond voor ’n rugbybal in die nasionale kleure swart-geel-rooi met die afkorting FBRB daaronder. Die Belgiese nasionale rugbyspan se bynaam is sedert 2006 “Swart Duiwels” (Duits: Schwarze Teufel; Frans: Diables noir; Nederlands: Zwarte Duivels) en verbind die bynaam van die Belgiese nasionale sokkerspan (“Rooi Duiwels”) met dié van die Nieu-Seelandse nasionale rugbyspan (“All Blacks”). Daar is egter ook ’n historiese konneksie met die Slag by Halen tydens die Eerste Wêreldoorlog, waartydens ’n Belgiese Kompanie fietsryers met die bynaam “Swart Duiwels” ’n Duitse aanval gestuit het.[52]

Tuisstadion

wysig

België se tuisstadion is die Nelson Mandela-stadion in Brussel met 750 sitplekke.[53] Dit is in 2017 geopen en huisves ook die setel van die beheerliggaam Belgium Rugby.

Toetswedstryde

wysig

België het 98 van sy 232 toetswedstryde gewen, ’n wenrekord van 42,24%. België se statistieke in toetswedstryde teen alle lande, in alfabetiese volgorde, is soos volg (korrek teen Maart 2024):[54]

Opponent Gespeel Gewen Verloor Gelykop % Gewen
  Armenië 1 0 1 0 0,00
  Brasilië 1 0 1 0 0,00
 Britse Barbarians 1 0 1 0 0,00
  Denemarke 5 3 1 1 60,00
  Duitsland 12 5 6 1 41,67
  Fidji 1 0 1 0 0,00
  Georgië 7 0 7 0 0,00
  Hongkong 4 1 3 0 25,00
  Italië 2 0 2 0 0,00
  Kanada 1 0 1 0 0,00
  Kroasië 4 2 2 0 50,00
  Letland 2 1 1 0 50,00
  Litaue 2 2 0 0 100,00
  Luxemburg 4 4 0 0 100,00
  Malta 2 2 0 0 100,00
  Marokko 4 1 3 0 25,00
  Moldowa 7 5 2 0 71,40
  Monaco 1 1 0 0 100,00
  Nederland 46 23 19 4 50,00
  Oekraïne 5 2 3 0 40,00
  Pole 13 5 8 0 38,46
  Portugal 17 4 11 2 23,53
  Roemenië 9 0 9 0 0,00
  Rusland 7 1 6 0 14,29
  Samoa 1 0 1 0 0,00
  Serwië 8 7 1 0 87,50
  Slowenië 3 2 1 0 66,67
  Spanje 17 2 14 1 11,76
  Swede 12 8 4 0 66,67
  Switserland 8 5 3 0 62,50
  Tsjeggië 7 4 2 1 57,10
  Tsjeggo-Slowakye 6 1 5 0 16,67
  Tunisië 5 1 3 1 20,00
  Uruguay 1 0 1 0 0,00
  Verenigde Arabiese Emirate 1 1 0 0 100,00
  Wes-Duitsland 6 4 1 1 66,67
  Zimbabwe 1 1 0 0 100,00
Algeheel 232 98 122 12 42,24

Rekords

wysig

Wêreldbekerrekord

wysig

België kon tot dusver nog nie vir ’n rugbywêreldbekertoernooi kwalifiseer nie.

Jaar Uitslag
1987 Nie genooi nie
1991 Nie gekwalifiseer nie
1995 Nie gekwalifiseer nie
1999 Nie gekwalifiseer nie
2003 Nie gekwalifiseer nie
2007 Nie gekwalifiseer nie
2011 Nie gekwalifiseer nie
2015 Nie gekwalifiseer nie
2019 Nie gekwalifiseer nie
2023 Nie gekwalifiseer nie
2027 N.v.t.
2031 N.v.t.

Europese Rugbykampioenskap

wysig

Die Belgiese nasionale span neem sedert 1952 aan die Europese Rugbykampioenskap deel, meestal in die tweede afdeling. Hulle het sedertdien nog nie ’n toernooi gewen nie.

Ander toetswedstryde

wysig

Vanweë sy laat vestiging het België gedurende die amateurtydperk min toere volgens die ou tradisie onderneem, aangesien dit teen die jaar 2000 tot ’n einde gekom het. Deesdae is toetswedstryde teen die spanne van die Suidelike Halfrond tweekeer per jaar moontlik. Gedurende Juniemaand se midjaarrugbytoetsreeks en gedurende Novembermaand se eindjaarrugbytoetsreeks. In teenstelling met die meeste ander rugbylande speel België nie vir enige trofee teen sy opponente nie.

Spelers

wysig

Huidige span

wysig

Die volgende spelers het die Belgiese span gevorm tydens die 2021 eindjaarrugbytoetsreeks:

Agterspelers
Speler Posisie Klub
Tom Cocqu Skrumskakel Brussels Devils
Ryan Godsmark Skrumskakel Brussels Devils
Henri Dequenne Losskakel Brussels Devils
Viktor Pazgrat Losskakel Brussels Devils
Basile Poupaert Senter Brussels Devils
Jens Torfs Senter Nizza
Charles Reynaert Vleuel Cognac
Matias Remue Vleuel Brussels Devils
Thomas Wallraf Vleuel Bassin D’Arcachon
Hugo Ruelle Heelagter Brussels Devils
Voorspelers
Speler Posisie Klub
Alexandre Raynier Haker Lombez Samatan
Vincent Tauzia Haker Lombez Samatan
Charlesty Berguet Stut Perpignan
Ian Dumez Stut Brussels Devils
Samuel Opsomer Stut Brussels Devils
Basile van Parys Stut Brussels Devils
Frédéric De Smet Slot Brussels Devils
Maximilien Hendrickx Slot Brussels Devils
Guillaume Mortier Slot Marmande
Michael Abrahams Losvoorspeler Brussels Devils
Hugues Bastin Losvoorspeler Brussels Devils
Toon Deceuninck Losvoorspeler Brussels Devils
Jean-Maurice Decubber Losvoorspeler Massy

Bekende spelers

wysig
 
Jacques Rogge (2014)

Tot dusver is nog geen Belgiese speler in Wêreldrugby se Heldesaal opgeneem nie.

Jacques Rogge, die voormalige Internasionale Olimpiese Komitee-president, het tien keer vir die Belgiese nasionale rugbyspan uitgedraf.[55]

Spelerstatistieke

wysig

Vervolgens die belangrikste statistieke van België se spelers. Die spelers wat met * gekenmerk is, is nog aktief en kan hul statistieke verbeter.

(Korrek teen April 2020)

Meeste toetswedstryde[56]
Rang Naam Tydperk Toetswedstryde
01 Thomas Dienst 2014–2021 27
02 Guillaume Piron 2013–2021 23
03 Alan Williams 2013–2021 23
04 Thomas de Molder 2013–2021 21
05 Bertrand Billi 2013–2020 20
06 Gillian Benoy 2017–2021 20
07 Maxime Jadot 2013–2021 18
08 Tom Cocqu 2017–2021 18
09 Alexis Cuffolo 2013–2020 17
10 Julien Berger 2013–2020 16
Meeste punte aangeteken[57]
Rang Naam Tydperk Punte
01 Alan Williams 2013–2021 173
02 Vincent Hart 2017–2021 032
03 Louis de Moffarts 2019–2021 027
04 Thomas de Molder 2013–2021 025
05 Thomas Dienst 2014–2021 020
06 Gillian Benoy 2017–2021 020
07 Maxime Jadot 2013–2021 020
08 Julien Berger 2013–2020 015
09 Ervin Muric 2017–2020 015
10 Charles Reynaert 2017–2019 015
Meeste drieë gedruk[58]
Rang Naam Tydperk Drieë
01 Thomas de Molder 2013–2021 5
02 Thomas Dienst 2014–2021 4
03 Gillian Benoy 2017–2021 4
04 Maxime Jadot 2013–2021 4
05 Jens Torfs 2014–2021 4
06 Julien Berger 2013–2020 3
07 Ervin Muric 2017–2020 3
08 Charles Reynaert 2017–2019 3
09 Craig Dowsett 2017–2020 2
10 Vincent Hart 2017–2021 2

Afrigters

wysig
 
Richard McClintock (2015)

Die volgende persone het al as hoofafrigters van die Belgiese nasionale rugbyspan gedien:

Naam Tydperk
  Richard McClintock 2004–2014
  Guillaume Ajac 2014–2020
  Frédéric Cocqu 2020–2022
  Chris Cracknell 2022–2023
  Mike Ford 2023
  Laurent Dossat sedert 2024

Sien ook

wysig

Verwysings

wysig
  1. (en) "Most matches". ESPNscrum. Besoek op 24 Oktober 2024.
  2. (en) "Most points". ESPNscrum. Besoek op 24 Oktober 2024.
  3. (en) "Most tries". ESPNscrum. Besoek op 24 Oktober 2024.
  4. 4,0 4,1 (en) "World Rankings". Wêreldrugby. Besoek op 24 Oktober 2024.
  5. 5,0 5,1 5,2 (en) "Historical Rugby Milestones 1930s". Rugby Football History. Besoek op 24 Oktober 2024.
  6. (en) "Belgium". Wêreldrugby. Besoek op 24 Oktober 2024.
  7. (en) "Rugby Europe Super Cup 2023". Rugby Europa. Besoek op 24 Oktober 2024.
  8. (en) "World Rugby U20 Championship". Wêreldrugby. Besoek op 24 Oktober 2024.
  9. 9,0 9,1 (en) "History". Belgium Rugby. Besoek op 24 Oktober 2024.
  10. (nl) "Bijna 80 jaar Nederland vs Belgie". Rugby Nederland. 22 Maart 2011. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 30 Mei 2012. Besoek op 30 Mei 2012.
  11. (en) "About us". Rugby Europa. Besoek op 24 Oktober 2024.
  12. (en) "1937 FIRA Tournament". rugbyarchive.net. 2023. Besoek op 24 Oktober 2024.
  13. (en) "1952 European Cup". rugbyarchive.net. 2023. Besoek op 24 Oktober 2024.
  14. (en) "1954 European Cup". rugbyarchive.net. 2023. Besoek op 24 Oktober 2024.
  15. (en) "1965/66 FIRA Nations Cup – Division 2". rugbyarchive.net. 2023. Besoek op 24 Oktober 2024.
  16. (en) "1966/67 FIRA Nations Cup – Division 2". rugbyarchive.net. 2023. Besoek op 24 Oktober 2024.
  17. (en) "1967/68 FIRA Nations Cup – Division 2". rugbyarchive.net. 2023. Besoek op 24 Oktober 2024.
  18. (en) "1968/69 FIRA Nations Cup – Division 2". rugbyarchive.net. 2023. Besoek op 24 Oktober 2024.
  19. (en) "1970/71 FIRA Nations Cup – Division 2". rugbyarchive.net. 2023. Besoek op 24 Oktober 2024.
  20. (en) "1974/75 FIRA Trophy – Division 2". rugbyarchive.net. 2023. Besoek op 24 Oktober 2024.
  21. (en) "1976/77 FIRA Trophy – Division 2". rugbyarchive.net. 2023. Besoek op 24 Oktober 2024.
  22. (en) "1977/78 FIRA Trophy – Division 2". rugbyarchive.net. 2023. Besoek op 24 Oktober 2024.
  23. (en) "1984/85 FIRA Trophy – Division 3". rugbyarchive.net. 2023. Besoek op 24 Oktober 2024.
  24. (en) "1987 Rugby World Cup: The long road to the cup". New Zealand History. 2021. Besoek op 24 Oktober 2024.
  25. (en) "1991 Rugby World Cup – European qualifiers". rugbyarchive.net. 2022. Besoek op 24 Oktober 2024.
  26. (en) "1992/94 FIRA Trophy". rugbyarchive.net. 2023. Besoek op 24 Oktober 2024.
  27. (en) "1995 Rugby World Cup – European qualifiers". rugbyarchive.net. 2022. Besoek op 24 Oktober 2024.
  28. (en) "1994/96 FIRA Trophy". rugbyarchive.net. 2023. Besoek op 24 Oktober 2024.
  29. (en) "1996/97 FIRA Tournament". rugbyarchive.net. 2023. Besoek op 24 Oktober 2024.
  30. (en) "1999 Rugby World Cup – European qualifiers". rugbyarchive.net. 2022. Besoek op 24 Oktober 2024.
  31. (en) "1998/99 FIRA Tournament". rugbyarchive.net. 2023. Besoek op 24 Oktober 2024.
  32. (en) "2000 European Nations Cup – Division 3". rugbyarchive.net. 2023. Besoek op 24 Oktober 2024.
  33. (en) "2001/02 European Nations Cup – Division 2". rugbyarchive.net. 2022. Besoek op 24 Oktober 2024.
  34. (en) "2002/04 European Nations Cup – Division 2B". rugbyarchive.net. 2022. Besoek op 24 Oktober 2024.
  35. (en) "2004/06 European Nations Cup – Division 2". rugbyarchive.net. 2022. Besoek op 24 Oktober 2024.
  36. (en) "2006/08 European Nations Cup – Division 2A". rugbyarchive.net. 2023. Besoek op 24 Oktober 2024.
  37. (en) "2008/10 European Nations Cup – Division 2A". rugbyarchive.net. 2022. Besoek op 24 Oktober 2024.
  38. (en) "2010/12 European Nations Cup – Division 1B". rugbyarchive.net. 2023. Besoek op 24 Oktober 2024.
  39. (en) "2012/14 European Nations Cup – Division 1A". rugbyarchive.net. 2023. Besoek op 24 Oktober 2024.
  40. (en) "2015 Rugby World Cup – European qualifiers". rugbyarchive.net. 2022. Besoek op 24 Oktober 2024.
  41. (en) "2014/16 European Nations Cup – Division 1A". rugbyarchive.net. 2022. Besoek op 24 Oktober 2024.
  42. (en) Paul Tait (18 Maart 2018). "Belgium Down Spain in RWC Qualifier Amid Controversy". America Rugby News. Besoek op 24 Oktober 2024.
  43. (en) "World Rugby to review Spain and Belgium qualifier". The Irish Times. 5 April 2018. Besoek op 24 Oktober 2024.
  44. (en) "Russia into Rugby World Cup as Romania are punished". RTÉ. 16 Mei 2018. Besoek op 24 Oktober 2024.
  45. (en) "Romania, Spain lose appeals, won't compete in 2019 Rugby World Cup". The Japan Times. 7 Junie 2018. Besoek op 24 Oktober 2024.
  46. (en) "2019/20 Rugby Europe Championship". rugbyarchive.net. 2022. Besoek op 24 Oktober 2024.
  47. (en) "2021/22 Rugby Europe Trophy". rugbyarchive.net. 2022. Besoek op 24 Oktober 2024.
  48. (en) "2022/23 Rugby Europe Championship". rugbyarchive.net. 2022. Besoek op 24 Oktober 2024.
  49. (en) "2023/24 Rugby Europe Championship". rugbyarchive.net. 2022. Besoek op 24 Oktober 2024.
  50. (en) Oliver Jervis (7 Februarie 2024). "Watch Portugal lose first game since World Cup heroics in huge Rugby Europe upset". Rugby World. Besoek op 24 Oktober 2024.
  51. (en) "TVH Becomes Main Sponsor of Belgian Rugby". Belgium Rugby. Besoek op 24 Oktober 2024.
  52. (nl) Jonas Creteur (25 Augustus 2023). "Belgian Cheetahs, Red Lions en Belgian Tornados: waar komen die bijnamen toch vandaan?". Knack. Besoek op 24 Oktober 2024.
  53. (nl) "Sportcentrum Nelson Mandela ingehuldigd". Brussel. 12 Oktober 2017. Besoek op 24 Oktober 2024.
  54. (en) "International Rugby Union Statistics – Belgium". ESPNscrum. Besoek op 24 Oktober 2024.
  55. (en) John Goodbody (3 September 2021). "Jacques Rogge obituary". The Guardian. Besoek op 24 Oktober 2024.
  56. (en) "Total matches played (descending)". ESPNscrum. Besoek op 24 Oktober 2024.
  57. (en) "Total points scored (descending)". ESPNscrum. Besoek op 24 Oktober 2024.
  58. (en) "Total tries scored (descending)". ESPNscrum. Besoek op 24 Oktober 2024.

Verdere leesstof

wysig
  • (en) Huw Richards (2007). A Game for Hooligans: The History of Rugby Union. Edinburg: Mainstream Publishing. ISBN 978-1-84596-255-5.
  • (en) Richard Bath (1997). The Complete Book of Rugby. Seven Oaks. ISBN 1-86200-013-1.

Eksterne skakels

wysig