Olimpiese Somerspele 1936
Spele van die XIe Olimpiade | ||||||||||||||||||||||||
|
Die Olimpiese Somerspele 1936 (Duits: Olympische Sommerspiele 1936), amptelik bekend as die Spele van die XIde Olimpiade, is tussen 1 en 16 Augustus 1936 in Berlyn, Nazi-Duitsland, aangebied. In 1931 is Berlyn deur die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK) bo Barcelona as gasheer vir die Spele verkies. Berlyn het 43 teenoor Barcelona se 16 stemme gekry. In 1936 het die destydse Nazi-Duitsland ook die Olimpiese Winterspele aangebied, in Garmisch-Partenkirchen in die Alpe. Dit was die laaste Olimpiese Somerspele voor die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog drie jaar later, wat met die Duitse Inval van Pole begin het.
Toe Adolf Hitler in Januarie 1933 aan bewind kom as kanselier, klink daar stemme op om die Spele na 'n ander land te verskuif. In die Verenigde State was daar selfs 'n veldtog om die Spele te boikot. Avery Brundage, die voorsitter van die Amerikaanse Olimpiese Komitee, spreek hom teen 'n verskuiwing van die Spele uit, en hy kry ook steun van De Coubertin. Net die Sowjetunie het hierdie spele geboikot.[4] Spanje bly weg omdat dit deur 'n burgeroorlog verskeur is.
Hoewel die Spele dus aan Berlyn toegeken is voordat die Nazi's in Duitsland aan bewind gekom het, sien die owerheid die Spele as 'n geleentheid om sy fascistiese ideologie uit te dra. Leni Riefenstahl was aangestel om 'n film oor die Spele te maak. Die film Olympia kan as propaganda bestempel word, maar gebruik 'n getal ongewone tegnieke wat destyds nog nie in sportfilms aangewend is nie. Dit was ook die eerste Olimpiese Spele wat op televisie gebeeldsend is en radio-uitsendings het 41 lande bereik.
Om soveel moontlik oorwinnings te verseker, stel die Duitse owerheid anaboliese steroïde en testosteroon aan hulle atlete beskikbaar. Duitsland oorheers die Spele en het heelwat meer medaljes as enige ander land ingepalm. In 'n weerlegging van die rassistiese Nazi-filosofie, verower die Afro-Amerikaner Jesse Owens egter vier goue medaljes. Owens was gewild onder die toeskouers en Duitse publiek en is meer entoesiasties as in sy tuisland ontvang.[5] Hitler besluit egter om geen medaljes persoonlik toe te ken nie, moontlik omdat die Afro-Amerikaner Cornelius Johnson op die eerste dag van die Spele 'n goue medalje verower het.[5]
Die superioriteit van die Reich kom ook tot uiting in die oorweldigende infrastruktuur wat vir die Spele opgerig is: 'n splinternuwe stadion is gebou ten weste van die Charlottenburg-kasteel met sitplek vir honderdduisend toeskouers. Langsaan is die swembad met sitplek vir twintigduisend toeskouers opgerig.
Hitler pas die Olimpiese handves tot die letter toe en beloof om nie 'n enkele toespraak tydens die Spele te hou nie. Verder pas hy ook geen rassediskriminasie tydens die Spele toe nie. Getuie hiervan was die opname van die Joodse skermster Helena Mayer in die Duitse span. Maar buite die stadion draai die Duitse propagandamasjien volspoed voort: die swastika was oral teenwoordig en daar het meer Nazi- as Olimpiese vlae gewapper. As deel van die Nazi-propaganda is tydens die Olimpiese Somerspele 1936 vir die eerste keer 'n fakkelloop vir die Olimpiese vlam tussen Olimpia in Griekeland en Berlyn aangebied.
Toewysing
wysigBerlyn is deur die Internasionale Olimpiese Komitee gekies as die gasheer vir die Olimpiese Somerspele in 1936. Ander kandidate was: Barcelona, Alexandrië, Boedapest, Buenos Aires, Keulen, Dublin, Frankfurt am Main, Helsinki, Lausanne, Neurenberg, Rio de Janeiro en Rome.
Die stemming het as volg verloop:
Stemming vir gasheer van die Olimpiese Somerspele 1936[6] | ||||||
---|---|---|---|---|---|---|
Stad | Land | Rondte 1 | ||||
Berlyn | Duitsland | 43 | ||||
Barcelona | Spanje | 16 | ||||
Alexandrië | Egipte | – | ||||
Boedapest | Hongarye | – | ||||
Buenos Aires | Argentinië | – | ||||
Keulen | Duitsland | – | ||||
Dublin | Ierland | – | ||||
Frankfurt am Main | Duitsland | – | ||||
Helsinki | Finland | – | ||||
Lausanne | Switserland | – | ||||
Neurenberg | Duitsland | – | ||||
Rio de Janeiro | Brasilië | – | ||||
Rome | Italië | – |
Sporte
wysig19 Olimpiese sportsoorte in 129 dissiplines is tydens die Spele beoefen. Tydens die Spele is 130 goue medaljes oorhandig. Daarbenewens is wedstryde in verskeie demonstrasiesporte beslis.
- Atletiek (29)
- Basketbal (1)
- Boks (8)
- Fietsry
- Baan (4)
- Pad (2)
- Gewigoptel (5)
- Gimnastiek (9)
- Handbal (1)
- Kanovaart (9)
- Moderne vyfkamp (1)
- Polo (1)
- Roei (7)
- Ruitersport
- Dressuur (2)
- Driefasekompetisie (2)
- Spring (2)
- Seilvaart (4)
- Skermsport (7)
- Skyfskiet (3)
- Sokker (1)
- Stoei
- Grieks-Romeins (7)
- Vrystyl (7)
- Veldhokkie (1)
- Watersport
- Bofbal en sweefvlug is as demonstrasiesporte aangebied.
Stadions
wysig22 sportplekke is tydens die Olimpiese Somerspele 1936 gebruik:
Stadion | Sporte | Kapasiteit |
---|---|---|
Avus Motorpad | Atletiek (maraton, 50 km-loop), Fietsry (pad) | Nie gelys nie |
BSV-veld | Fietsry (baan), Handbal | 1 000 |
Dietrich Eckart Opelugteater | Gimnastiek | 20 000 |
Döberitz | Ruitersport (dressuur), Moderne vyfkamp (perdry) | Nie gelys nie |
Deutschlandhalle | Boks, Gewigoptel, Stoei | 8 630 |
Berlin-Grünau Regattakursus | Kanovaart, Roei | 19 000 |
Haus des Deutschen Sports | Skermsport, Moderne vyfkamp (skermsport) | 1 200 |
Hertha-BSC-veld | Sokker | 35 239 |
Hokkiestadion | Veldhokkie | 18 000 |
Hokkiestadion #2 | Veldhokkie | 1 600 |
Baai van Kiel | Seilvaart | Nie gelys nie |
Meiveld | Ruitersport (dressuur), Polo | 75 000 |
Mommsenstadion | Sokker | 15 005 |
Olimpiese Stadion Berlyn | Atletiek, Ruitersport (spring), Sokker (eindstryd), Handbal (eindstryd) | 100 000 |
Olimpiese Spemstadion | Sierduik, Moderne vyfkamp (swem), Swem, Waterpolo | 20 000 |
Polisiestadion | Handbal | Nie gelys nie |
Poststadion | Sokker | 45 000 |
Ruhleben | Moderne vyfkamp (skietsport) | Nie gelys nie |
Tennisbane | Basketbal, Skermsport (swaard) | 832 |
Tennisstadion | Basketbal | Nie gelys nie |
Wannsee Gholfbaan | Moderne vyfkamp | Nie gelys nie |
Wannsee Skietbaan | Skyfskiet | Nie gelys nie |
Deelnemende nasies
wysigHier volg 'n alfabetiese lys van al die Nasionale Olimpiese Komitees wat deelgeneem het. Waar beskikbaar word die aantal atlete per land in hakies aangedui:
- Afghanistan (14)
- Argentinië (51)
- Australië (32)
- België (120)
- Bermuda (5)
- Bolivië (1)
- Brasilië (73)
- Brits-Indië (27)
- Bulgarye (24)
- Chili (40)
- Colombia (5)
- Costa Rica (1)
- Denemarke (116)
- Duitsland (348)
- Egipte (54)
- Estland (33)
- Filippyne (28)
- Finland (107)
- Frankryk (201)
- Griekeland (40)
- Hongarye (209)
- Italië (182)
- Japan (153)
- Joego-Slawië (90)
- Kanada (96)
- Letland (24)
- Liechtenstein (6)
- Luxemburg (44)
- Malta (11)
- Meksiko (34)
- Monaco (6)
- Nederland (128)
- Nieu-Seeland (7)
- Noorweë (72)
- Oostenryk (176)
- Peru (40)
- Pole (112)
- Portugal (19)
- Roemenië (53)
- Republiek van China (54)
- Suid-Afrika (25)
- Swede (150)
- Switserland (174)
- Tsjeggo-Slowakye (162)
- Turkye (48)
- Uruguay (37)
- Verenigde Koninkryk (207)
- Verenigde State (310)
- Ysland (12)
Suid-Afrikaanse deelname
wysig- Die hoofartikel vir hierdie afdeling is: Suid-Afrika op die Olimpiese Spele.
Charles Catterall wen die silwermedalje in boks in die veergewigafdeling.
Aantal medaljes
wysigHier is die top tien lande wat medaljes by die Spele verower het: Hier is die top tien lande wat medaljes by die Spele verower het:
Plek | Land | Deelnemers | Goud | Silwer | Brons | Totaal |
---|---|---|---|---|---|---|
1 | Duitsland (GER) | 348 | 33 | 26 | 30 | 89 |
2 | Verenigde State (USA) | 310 | 24 | 20 | 12 | 56 |
3 | Hongarye (HUN) | 209 | 10 | 1 | 5 | 16 |
4 | Italië (ITA) | 182 | 8 | 9 | 5 | 22 |
5 | Finland (FIN) | 107 | 7 | 6 | 6 | 19 |
Frankryk (FRA) | 201 | 7 | 6 | 6 | 19 | |
7 | Swede (SWE) | 150 | 6 | 5 | 9 | 20 |
8 | Japan (JPN) | 153 | 6 | 4 | 8 | 18 |
9 | Nederland (NED) | 128 | 6 | 4 | 7 | 17 |
10 | Verenigde Koninkryk (GBR) | 207 | 4 | 7 | 3 | 14 |
25 | Suid-Afrika (RSA) | 25 | 0 | 1 | 0 | 1 |
Sien ook
wysig- Olimpiese Somerspele 1916 in Berlyn beplan, maar weens die Eerste Wêreldoorlog gestaak
- Olimpiese Winterspele 1936 in Garmisch-Partenkirchen
- Olimpiese Somerspele 1972 in München
Verwysings
wysig- ↑ (en) "Factsheet – The Games of the Olympiad" (PDF). Internasionale Olimpiese Komitee. Desember 2017. Geargiveer (PDF) vanaf die oorspronklike op 23 Desember 2018. Besoek op 3 Maart 2018.
- ↑ (en) "Factsheet – The Programme of the Games of the Olympiad" (PDF). Internasionale Olimpiese Komitee. Oktober 2017. Geargiveer (PDF) vanaf die oorspronklike op 22 April 2020. Besoek op 3 Maart 2018.
- ↑ (en) "Factsheet – Opening Ceremony of the Games of the Olympiad" (PDF). Internasionale Olimpiese Komitee. 11 Januarie 2018. Geargiveer (PDF) vanaf die oorspronklike op 25 Desember 2018. Besoek op 3 Maart 2018.
- ↑ (de) Volker Ullrich (2013). Adolf Hitler. Die Jahre des Aufstiegs 1889–1939. Frankfurt am Main: S. Fischer. p. 622. ISBN 3-10-086005-5.
- ↑ 5,0 5,1 (en) "German Myth 10: The 1936 Berlin Olympics Hitler and Jesse Owens". About.com. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 8 Mei 2020. Besoek op 3 Maart 2018.
- ↑ (en) "Past Olympic Host City Election Results". GamesBids. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 30 April 2020. Besoek op 3 Maart 2018.
Verdere leesstof
wysig- (en) Arnd Krüger (2005). The Nazi Olympics of 1936; In: Global Olympics. Historical and Sociological Studies of the Modern Games. Oxford: Elsevier. pp. 43–58. ISBN 0-7623-1181-9.
- (en) David Wallechinsky (2004). The Complete Book of the Summer Olympics, Athens 2004 Edition. SportClassic Books. ISBN 978-1-894963-32-9.
- (en) Bijkerk, Anthony T. (2004). "Pierre de Coubertin". In John E. Findling, Kimberly D. Pelle (red.). Encyclopedia of the Modern Olympic Movement. Greenwood Publishing Group. ISBN 0-313-32278-3. OCLC 52418065.
- (en) Arnd Krüger & William Murray (2003). The Nazi Olympics. Sport, Politics and Appeasement in the 1930s. Champaign, IL: Univ. of Illinois Press. ISBN 0-252-02815-5.
- (de) Volker Kluge (1997). Olympische Sommerspiele. Die Chronik Teil 1. Athen 1896 – Berlin 1936. Berlin: Sportverlag. ISBN 3-328-00715-6.
- (de) Friedrich Bohlen (1979). Die XI. Olympischen Spiele Berlin 1936. Köln: Pahl-Rugenstein. ISBN 3-7609-5016-7.
Eksterne skakels
wysigWikimedia Commons bevat media in verband met Olimpiese Somerspele 1936. |
- (en) Berlin 1936 Olympic.org. Internasionale Olimpiese Komitee.
- (en) Uitslae en medaljewenners Olympic.org. Internasionale Olimpiese Komitee.
- (en) Amptelike verslag van die Olimpiese Somerspele 1936
- (en) Olympics 1924 to 1940
Olimpiese Spele | |||
---|---|---|---|
Olimpiese Somerspele: 1896 • 1900 • 1904 • 1906* • 1908 • 1912 • Olimpiese Winterspele: 1924 • 1928 • 1932 • 1936 • |