Maak hoofkeuseskerm oop

Tongaanse nasionale rugbyspan

Die Tongaanse nasionale rugbyspan van Tonga is ’n sportspan wat Tonga in internasionale rugby verteenwoordig. Rugby word in Tonga deur die Tongaanse Rugbyunie (TRU) geadministreer. Die Tongaanse rugbyspan is tans (25 November 2019) 13de op Wêreldrugby se wêreldranglys gelys.[4] Die span neem jaarliks deel aan Wêreldrugby se Stille Oseaan Nasiesbeker teen Fidji, Japan, Kanada, Samoa en die Verenigde State. Tonga is ’n lid van die Stille Oseaan Eilande Rugbyalliansie (Engels: Pacific Islands Rugby Alliance; PIRA), saam met Fidji; Samoa was tot in 2009 ook ’n lid, maar hulle het hulself onttrek.[5]

Tonga
Flag of Tonga.svg
Unie Tongaanse Rugbyunie
Bynaam(e) Ikale Tahi
Embleem die Wit duif
Stadion Teufaiva Sportstadion, Nuku'alofa
Kapasiteit 10 000
President Epi Taione
Afrigter(s) Vlag van Tonga Toutai Kefu
Kaptein(s) Siale Piutau
Spankleure


Alt. kleure

Statistiek
Meeste toetse Nili Latu (48)[1]
Meeste toetspunte Kurt Morath (340)[2]
Meeste drieë Fetu'u Vainikolo (17)[3]
Eerste internasionale wedstryd
Vlag van Tonga Tonga 9–6 Fidji Vlag van Fidji
(Nukuʻalofa, Tonga; 25 August 1924)
Grootste oorwinning
Vlag van Tonga Tonga 119–0 Korea Vlag van Suid-Korea
(Nukuʻalofa, Tonga; 22 Maart 2003)
Grootste nederlaag
Vlag van Nieu-Seeland Nieu-Seeland 102–0 Tonga Vlag van Tonga
(North Shore City, Nieu-Seeland; 16 Junie 2000)
Wêreldbeker
Verskynings 8/9 (Eerste in 1987)
Beste uitslag Eerste rondte, derde in poel 1995, 2007 en 2011
Unie webwerf
www.tongarugbyunion.org
Frankryk teen Tonga tydens die Rugbywêreldbeker 2007

Rugby is in die vroeë 20ste eeu na Tonga gebring en die beheerliggaam is in 1923 gestig. Die eerste internasionale wedstryd is in Augustus 1924 teen Fidji gespeel. Fidji, Samoa en Tonga speel gereeld teen mekaar in toernooie soos die Pasifiese Drienasies, waarvan Tonga tot dusver drie gewen het. Tonga is een van die min lande waar rugby die hoofsport is. Slegs die Cookeilande, Fidji, Nieu-Seeland, Samoa en Wallis kan soortgelyke bewerings maak.[6] Tonga se bynaam is Ikale Tahi (Tongaans vir: "see-arende") en hulle speel tradisioneel in rooi truie en wit broeke. Soos hulle Polinesiese buurlande begin die Tongane hulle wedstryde met ’n oorlogsdans – die Kailao (alias Sipi Tau).

Tonga is genooi om aan die eerste Rugbywêreldbeker in 1987 deel te neem, maar is reeds in die poelfase uitgeskakel. Hulle kon nie daarin slaag om vir die Rugbywêreldbeker 1991 te kwalifiseer nie, die enigste toernooi tot dusver wat hulle misgeloop het. Hul beste prestasie tot dusver was die derde plek in hulle poele in onderskeidelik 1995, 2007 en 2011.

GeskiedenisWysig

 
Tonga teen Japan op Honjo-stadion in Kitakyushu, Japan op 4 Junis 2006
 
Tonga teen die Verenigde State tydens die Rugbywêreldbeker 2007 in Frankryk
 
Die All Blacks verdedig teen Tonga tydens die Rugbywêreldbeker 2011 in Nieu-Seeland
 
Tonga voor hul wedstryd teen Nieu-Seeland tydens die Rugbywêreldbeker 2015 in Engeland
 
Tonga teen die VSA tydens die Elkanobeker in 2016

Daar word gemeen dat Rugby vroeg in die 20ste eeu deur matrose en sendelinge na die gebied gebring is. Die Tongaanse Rugbyvoetbalunie is in laat 1923 gevorm. Tonga het Fidji 9–6 in hulle eerste toets in 1924 geklop wat in die hoofstad Nukuʻalofa gespeel is. Tonga het egter die tweede toets 14–3 verloor en 0–0 gelykop gespeel in die beslissende derde toets.[7]

Tussen 1924 en 1938 het Tonga en Fidji al om die twee jaar drie-toetsreekse gespeel. Wedstryde tussen die twee Stille Oseaan nasies is hard geveg en baie mense beweer dat die antieke oorlogsfetes tussen die eilandbewoners op die rugbyveld voortgesit het. Probleme tydens die derde toets van Fidji se 1928-toer na Tonga het daartoe gelei dat die wedstryd beëindig moes word toe Tonga 11–8 voorgeloop het. In 1954 het Tonga as gasheer opgetree vir ’n besoekende span van Wes-Samoa.

Tonga het die Nieu-Seeland Māorispan in 1969 verslaan maar moes tot 1973 wag voor hulle tweede toets kon speel, ’n 30–12 nederlaag teen Australië in Sydney. Hulle het later wraak geneem deur Australië in Ballymore, Brisbane, 16–11 te verslaan in wedstryd waarin hulle vier drieë teen die twee van Australië gedruk het in Junie 1973. Die volgende jaar het die span na die Cardiff Arms Park gereis vir ’n nie-toets internasionale wedstryd teen Wallis, ’n wedstryd wat in ’n 26–7 nederlaag geëindig het.

Die eerste Tongatoer na Groot-Brittanje was in 1974 toe die span 10 wedstryde gespeel het insluitend die in Wallis teen Oos-Wallis, Llanelli, Noord-Wallis, Newport, Wes-Wallis en ’n Wallis XV. Die enigste oorwinning op die toer was die 18–13 oorwinning in die eerste wedstryd teen Oos-Wallis. Die 'toetse' is 44–8 teen ’n Skotland XV en 26–7 teen ’n Wallis XV verloor.

Tonga het in Europa ’n onbekende faktor gebly tot 1986 toe Wallis ’n toer na Fidji, Tonga en Wes-Samoa onderneem het. Vroeg in die wedstryd teen Tonga is die Walliese flank Mark Brown platgetrek deur drie Tonga voorspeler wat gelei het tot ’n massageveg wat die hele span behalwe Malcolm Dacey en Mark Titley betrek het. Robert Jones beskryf dit in sy boek Raising The Dragon as "die ergste geveg wat ek ooit op ’n rugbyveld gesien het." By die na-wedstryd dinee is Jonathan Davies gevra om ’n paar woorde in Wallies te sê en terwyl die gashere vir hom hande geklap het, het hy hulle blykbaar as "die vuilste span waarteen ek ooit gespeel het!" beskryf.[7]

Tonga het teen Wallis te staan gekom in die eerste Rugbywêreldbeker 1987 in Nieu-Seeland. Die vorige kragmeting en Wallis se besluit om van hulle topspeler te laat rus het na ’n swak Walliese vertoning gelei alhoewel hulle steeds daarin geslaag het om Tonga 29–16 te klop. Tonga het ook teen Ierland (32–9) en Kanada (37–4) verloor.

Tonga kon nie daarin slaag om vir die Rugbywêreldbeker 1991 te kwalifiseer nie, die enigste toernooi tot dusver wat hulle misgeloop het. In 1994 het hulle die Stille Oseaan kampioenskap op drie-telling gewen en sodoende vir die Super 10 gekwalifiseer waar hulle aan die onderkant van hulle poel geëindig het.

Tonga het vir die Rugbywêreldbeker 1995 gekwalifiseer nadat hulle Fidji op grond van punte verskil uitgeskakel het. Tonga kon slegs twee oorwinnings behaal in die volgende twee Wêreldbekers, 29–11 teen Ivoorkus in 1995 en Italië in 1999. Die oorwinning oor Ivoorkus het ’n tragiese gevolg gehad toe die Ivoorkus se vleuel Max Brito ernstig beseer en verlam is.[8]

In Junie 1999 het die span hulle belangrikste tuisoorwinning behaal toe hulle Frankryk 20–16 in Nuku'alofa verslaan het, maar in 2000 is hulle 102–0 (insluitend 15 drieë) deur Nieu-Seeland verneder.

Nadat hulle hulle eerste vier wedstryde teen Fidji en Samoa verloor het, het Tonga derde in die Oseaniese kwalifiseringgroep vir die Rugbywêreldbeker 2003 geëindig. As gevolg hiervan moes hulle tuis en weg wedstryde teen Papoea-Nieu-Guinee, wat hulle 47–14 en 84–12 gewen het, speel gevolg deur wedstryde teen Suid-Korea, wat Tonga gemaklik 75–0 en 119–0 gewen het.

Tydens die Rugbywêreldbeker 2003 het Tonga al hulle wedstryde verloor en laaste in hulle poel geëindig. Hoewel hulle Wallis tot 20–27 beperk het, is hulle weereens deur Nieu-Seeland verneder.

Tydens die Rugbywêreldbeker 2007 kon Tonga twee van hulle poelwedstryde wen en amper die latere kampioen verslaan, maar Suid-Afrika kon hulle net-net 30–25 klop.

Tydens die Rugbywêreldbeker 2011 het Tonga vir ’n groot verrassing gesorg toe hulle die latere naaswenner Frankryk 19–14 verslaan.

Op 24 November 2012 het Tonga Skotland 21–15 op Pittodrie-stadion geklop en sodoende hul eerste oorwinning oor ’n tradisionele rugbymag op Europese bodem aangeteken.

Tydens die Rugbywêreldbeker 2015 het Tonga drie van sy vier poelwedstryde verloor en net een oorwinning teen Namibiese nasionale rugbyspan (35–21) aangeteken. In hul laaste poelwedstryd het die All Blacks met Tonga 47–9 afgereken.

In die "doodspoel" van die Rugbywêreldbeker 2019 is Tonga deur die drie gunstelinge Engeland (35–3), Argentinië (28–12) en Frankryk (23–21) geklop, voordat hulle die VSA (19–31) in hulle laaste wedstryd kon verslaan.

Sipi TauWysig

Soos baie ander groot Stille-Oseaan rugbynasies voer Tonga ’n ritueel voor hulle wedstryde uit. Die Sipi Tau is ’n vorm van die Kailao. Die Kailao was oorspronklik ’n oorlogsdans wat na Tonga ingevoer is van Walliseiland. Dit word algemeen by openbare en privaat seremonies uitgevoer.

Een van die mees onvergeetlike uitvoerings in moderne tye van die Sipi Tau was tydens die Rugbywêreldbeker 2003 in Australië, in Tonga se wedstryd teen die All Blacks. Die All Blacks het hulle tradisionele haka uitgevoer toe Tonga gereageer het met die Sipi Tau terwyl die All Blacks nog met die Haka besig was. Die spanne het meters van mekaar te staan gekom net voor die afskop.[9]

Sipi Tau a'e 'Ikale Tahi

Teuaki ki he tau! (Leier)
Tonga! (Span)
Teu lea pea tala ki mamani katoa
Ko e ʻIkale Tahi kuo halofia.
Ke ʻilo ʻe he sola mo e taka
Ko e ʻaho ni te u tamate tangata,
'A e haafe mo e tautuaʻa
Kuo huʻi hoku anga tangata.
Ei! (Leier)
E!
Ei! (Leier)
E!
Te u peluki e molo mo e foueti taka,
Pea ngungu mo ha loto fitaʻa
Ngungu! (Leier)
ʻIo!
Ngungu! (Leier)
ʻIo!
Ko Tonga pe mate ki he moto (Leier)
Otua mo Tonga ko hoku tofi'a
Ei e! (Leier)
TONGA!

 
Tonga voer die Sipi Tau tydens die 2008-Stille Oseaan Nasiebekerwedstryd teen Australië A op
 
Tonga voer die Sipi Tau tydens die Rugbywêreldbeker 2011 teen Frankryk op
Leier: Maak gereed vir die stryd!
Span: Tonga!
Ek sal met die hele wêreld praat
Die See-arende smag.
Laat die buitelander en die vreemdeling oppas
Vandag, ek die vernietiger van siele, is oral
Tot die skakelpaar en agterspelers
My menslikheid het verdwyn.
Leier: Hey! hey!
Ay!
Leier: Aye!
Aye!
Losgemaal en losvoorspelers sal ek sny
En laat enige kwaai harte waarvan jy weet knars.
Leier: Laat knars!
Yeah!
Leier: Laat knars!
Yeah!
Dis hoe Tonga volgens sy leuse sterf
God en Tonga is my erfenis.
Leier: Aye, ay!
Tonga!

RekordsWysig

Algehele rekordWysig

 
Tonga se plek op Wêreldrugby se ranglys vanaf 10 Oktober 2003 tot op hede

Tonga het teen 25 November 2019 107 van hulle 280 toetswedstryde gewen, ’n wenrekord van 38,21%.[10]

Tonga se toetsrekord teen alle lande: (Korrek op 12 November 2019)[10]

Teen Gespeel Gewen Verloor Gelykop % Gewen
  Argentinië 1 0 1 0 0
  Australië 4 1 3 0 25
  Australië A 1 0 1 0 0
  Chili 1 1 0 0 100
  Cookeilande 3 3 0 0 100
  Engeland 2 0 2 0 0
  Engeland XV 1 0 1 0 0
  Fidji 92 27 62 3 30,97
  Frankryk 5 2 3 0 40
  Georgië 7 2 5 0 33,33
   Ierland 2 0 2 0 0
  Italië 5 2 3 0 40
  Ivoorkus 1 1 0 0 100
  Japan 18 9 9 0 50
  Kanada 9 4 5 0 44,44
  Korea 6 6 0 0 100
  Māori All Blacks 12 4 8 0 33,33
  Namibië 2 2 0 0 100
  Nieu-Seeland 6 0 6 0 0
  Opkomende All Blacks 2 0 2 0 0
  Papoea-Nieu-Guinee 2 2 0 0 100
  Portugal 1 1 0 0 100
  Roemenië 3 2 1 0 66,67
  Samoa 65 27 34 4 42,19
  Skotland 4 1 3 0 25
  Skotland XV 2 0 2 0 0
  Spanje 1 1 0 0 100
  Suid-Afrika 2 0 2 0 0
  Verenigde State 9 8 1 0 88,89
  Wallis 8 0 8 0 0
  Wallis XV 1 0 1 0 0
  Zimbabwe 1 1 0 0 100
Totaal 280 107 166 7 38,21

WêreldbekerrekordWysig

Jaar Uitslag
1987 Poelfase
1991 Geen deelname
1995 Poelfase
1999 Poelfase
2003 Poelfase
2007 Poelfase
2011 Poelfase
2015 Poelfase
2019 Poelfase
2023 N.v.t.

VerwysingsWysig

  1. (en) "Most matches". ESPNscrum. Besoek op 25 November 2019.
  2. (en) "Most points". ESPNscrum. Besoek op 25 November 2019.
  3. (en) "Most tries". ESPNscrum. Besoek op 25 November 2019.
  4. (en) "World Rugby Rankings". Wêreldrugby. Besoek op 25 November 2019.
  5. (en) We quit: SRU Samoa Observer
  6. (en) TEIVOVO.COM – RUGBY HISTORY IN FIJI, besoek op 6 Oktober 2007
  7. 7,0 7,1 (en) "The Head Hunters: Tongan rugby". BBC. 10 Augustus 2007. Besoek op 25 November 2019.
  8. (en) "The good and bad of Tonga". BBC. 26 September 2003. Besoek op 25 November 2019.
  9. (en) "Haka and Sipi Tau set Lang Park alight". ABC. [dooie skakel]
  10. 10,0 10,1 (en) "International Rugby Union Statistics – Tonga". ESPNscrum. Besoek op 25 November 2019.

Eksterne skakelsWysig