Maak hoofkeuseskerm oop

Fidjiaanse nasionale rugbyspan

Die Fidjiaanse nasionale rugbyspan is ’n sportspan wat Fidji in internasionale rugby verteenwoordig. Rugby word in Fidji deur die Fidjiaanse Rugbyunie (FRU) geadministreer. Die Fidjiaanse rugbyspan is tans (25 November 2019) elfde op Wêreldrugby se wêreldranglys gelys.[8] Die span neem jaarliks deel aan Wêreldrugby se Stille Oseaan Nasiesbeker teen Japan, Kanada, Samoa, Tonga en die Verenigde State. Fidji is ’n lid van die Stille Oseaan Eilande Rugbyalliansie (Engels: Pacific Islands Rugby Alliance; PIRA), saam met Tonga; Samoa was tot in 2009 ook ’n lid, maar hulle het hulself onttrek.[9]

Fidji
Flag of Fiji.svg
Unie Fidjiaanse Rugbyunie
Bynaam(e) Vlieënde Fidjiane
Embleem die Palmboom
Stadion ANZ Nasionale Stadion, Suva
Kapasiteit 25 000
Afrigter(s) Vlag van Nieu-Seeland John McKee[1]
Kaptein(s) Dominiko Waqaniburotu
Spankleure


Alt. kleure

Statistiek
Meeste toetse Nicky Little (71)[2]
Meeste toetspunte Nicky Little (670)[3]
Meeste drieë Vereniki Goneva (22)[4]
Eerste internasionale wedstryd
Vlag van Samoa Samoa 0–6 Fidji Vlag van Fidji
(Apia, Samoa; 18 Augustus 1924)[5]
Grootste oorwinning
Vlag van Niue Niue 4–120 Fidji Vlag van Fidji
(Apia, Samoa; 10 September 1983)[6]
Grootste nederlaag
Vlag van Nieu-Seeland Nieu-Seeland 91–0 Fidji Vlag van Fidji
(North Shore City, Nieu-Seeland; 10 Junie 2005)[7]
Wêreldbeker
Verskynings 8/9 (Eerste in 1987)
Beste uitslag Kwarteindrondte in 1987 en 2007
Unie webwerf
www.fijirugby.com
Lynstaan tydens Fidji se poelwedstryd teen Kanada in die Rugbywêreldbeker 2007
Lynstaan tydens Fidji se poelwedstryd teen Suid-Afrika in die Rugbywêreldbeker 2011

Fidji is een van die min lande waar rugby die hoofsport is. Slegs die Cookeilande, Nieu-Seeland, Samoa, Tonga en Wallis kan soortgelyke bewerings maak.[10] Daar is ongeveer 80 000 geregistreerde spelers uit ’n totale bevolking van sowat 950 000. Een van die probleme waarmee Fidji sukkel is om hulle spelers te kry om vir die nasionale span te speel aangesien baie kontrakte in Europa of met Superrugby spanne het wat vir spelers finansieel meer lonend is. Geld wat deur oorsese sterre huistoe gestuur word het ’n belangrike bron van sommige plaaslike gemeenskappe geword. Verder speel ’n beduidende aantal spelers wat vir Fidji verkiesbaar is vir Australië of Nieu-Seeland; twee noemenswaardige voorbeelde is die Fidjiaans gebore All Blacks neefs Joe Rokocoko en Sitiveni Sivivatu en Wallabies Vleuel Lote Tuqiri.

Rugby is in 1884 na Fidji gebring en die beheerliggaam is in 1913 gestig. Die eerste internasionale wedstryd is in Augustus 1924 teen Samoa gespeel. Fidji, Samoa en Tonga speel gereeld teen mekaar in toernooie soos die Pasifiese Drienasies, waarvan Fidji tot dusver die meeste titels gewen het. Fidji se bynaam is Flying Fijians (Engels vir: "vlieënde Fidjiane") en hulle speel tradisioneel in wit truie met swart broeke. Die cibi-oorlogsdans (Fidjiaans: [ˈðimbi]) word voor elke toetswedstryd deur die Fidjiaanse span uitgevoer. Die oorlogsdans wat dateer uit die land se oorloë met naburige eilande word sedert 1939 op die rugbyveld gebruik.[11]

Fidji is genooi om aan die eerste Rugbywêreldbeker in 1987 deel te neem en het tot die kwarteindrondte gevorder. Later kon hulle nie daarin slaag om vir die Rugbywêreldbeker 1995 te kwalifiseer nie, die enigste toernooi tot dusver wat hulle misgeloop het. In 2007 het hulle vir ’n tweede keer daarin geslaag om tot die kwarteindrondte deur te dring. Sedertdien het Fidji nie meer so goed in die Wêreldbeker gevaar nie.

GeskiedenisWysig

Vroeë jareWysig

Rugby is in Fidji vir die eerste keer deur Europese en Fidjiaanse soldate van die Inheemse konstabulêr by Ba op Viti Levu Island in 1884 gespeel. In 1913 is ’n unie vir die Europese settlers gestig.

In Desember 1913 was die All Blacks van hul baie suksesvolle toer in Kalifornië op pad terug na Nieu-Seeland. Die Fidjiaanse Rugbyunie het met hulle ’n wedstryd op Albertpark gereël, die eerste verteenwoordigende wedstryd nog in dié kolonie. Die Fidjiaanse span het uit Europeërs bestaan. Die All Blacks wen 67–5; Fidji se punte was te danke aan ’n drie deur hul kaptein en afrigter, PJ Sheehan. In 1914 is ’n "inheemse kompetisie" van stapel gestuur en in 1915 is ’n Fidjiaanse inheemse unie gestig en het deel geword van die Fidjiaanse Rugbyunie.

Tussenoorlogse tydperkWysig

 
Die Fidjiaanse span in 1924
 
Die Fidjiaanse span in 1932
 
Die Fidjiaanse span in 1939

Fidji het op 18 Augustus 1924 sy eerste internasionale wedstryd teen Wes-Samoa in Apia gespeel. Fidji se 20 manne was uitsluitlik afkomstig van die destyds vyf geregistreerde inheemse klubs. Die wedstryd het om 7 h in die oggend afgeskop om die Samoaanse tyd te gee om na die wedstryd te kon werk, en dit is op ’n veld met ’n groot boom op die halfpadlyn gespeel. Fidji het swart gedra en 6–0 gewen, ondanks hulle kaalvoet was. Die terugwedstryd is deur Samoa 9–3 gewen en die reeks was gelykop. Die eerste Fidjiaanse toetspan het hul oorsese avontuur voortgesit met ’n nege-wedstryd-toer na Tonga. Hoewel Fidji die eerste toets in Nuku'alofa 9–6 verloor het, sou hulle nie weer verloor nie, hulle het die tweede toets egter 14–3 ingepalm en die derde beslissende toets was ’n 0–0-gelykop. Hulle kon al die ses wedstryde teen nie-toets-teenstanders wen.

In 1926 was die Universiteit van Auckland se span die eerste oorsese om Fidji te besoek. Die Kiwi-studente het teen die Fidjiaanse Europeërs gespeel en die drie-wedstryde-reeks met ’n oorwinning, ’n nederlaag en ’n gelykop beëindig. Tonga het Fidji in dieselfde jaar besoek en vir die eerste keer het Fidji in sy hedendaagse trui met ’n wit hemp, palmboom-kenteken en swart breuke gespeel. Die reeks het gelykop geëindig, nadat Tonga die eerste toets 9–6 wen; Fidji die tweede 14–3 en die laaste wedstryd in ’n 0–0-gelykop eindig.

Gedurende die 1927-seisoen is ’n algemene vergadering byeengeroep om ’n terugbesoek aan Nieu-Seeland na die uitnodiging van die Universiteit van Auckland te reël. Sowat 30 spelers het hul bereidwilligheid vir die toer getoon, maar nadat alle reëlings getref is, was daar nie genoeg spelers beskikbaar nie, sodat die beheerliggame die toer, ter teleurstelling van Auckland, moes kanselleer.

Tussen 1924 en 1938 het Fidji en Tonga al om die twee jaar drie toetsreekse gespeel. Destyds was dit die enigste verteenwoordigende rugbyunie wat teen Fidji gespeel het. In die wedstryde tussen die twee Pasifiese eilandnasies is hard geveg; baie was van mening dat die antieke feudale oorloë tussen die eilandbewoners na die rugbyveld oorgeplaas is. Probleme tydens die derde toets van Fidji se 1928-toer in Tonga het daartoe gelei dat die wedstryd laat vaar is en Tonga dit 11–8 verloor het.

Die eerste Nieu-Seelandse Māorispan het Fidji in 1938 besoek. Fidjiane het vir die eerste keer in skoene gespeel, maar daar was gedurende die wedstryd steeds ’n neiging om van die skoene uit te skop en hulle na die raaklyn te gooi. Op die vyf-wedstryd-toer het die Māoris Fidji se tweede XV en die Fidjiaanse Europeërs geklop, voordat hulle ’n reeks van drie wedstryde begin het. Die eerste toets het in ’n 3–3-gelykop, die tweede in ’n 11–5-oorwinning vir die Fidjiane geëindig en die Māori wen die laaste toets 6–3 en die reeks geëwenaar.

In 1939 het Fidji vir die eerste keer na Nieu-Seeland getoer. Die Fidjiaanse kaptein vir die toer, Ratu Sir George Cakobau, het besluit dat sy span ’n oorlogsdans moet hê om sodoende teen die haka mee te ding. Hy benader vir Ratu Bola, die hoë hoof van die krygsklan van Navusaradave in Bau, wat hulle die cibi – wat sedertdien Fidji se ritueel voor elke wedstryd is – geleer het. Baie spelers het nog steeds verkies om kaalvoet te speel, en die Fidjiane het met ’n sorgvrye gees gespeel en geskiedenis gemaak, nadat hulle die eerste span geword het om ’n volle toer in Nieu-Seeland onoorwonne te beëindig, deur sewe toetse te wen en een met ’n gelykop af te sluit; ’n rekord wat tot vandag toe nog bestaan. Hulle het weer teen die Māori gespeel en 14–4 gewen.

Naoorlogse tydperkWysig

 
Die Fidjiaanse span in 1948
 
Die Fidjiaanse span in 1964

In 1951 het Fidji weer ’n suksesvolle toer na Nieu-Seeland onderneem. Hulle het die Nieu-Seelandse Māori 21–14 geklop. Fidji se toer na Australië in 1952 het die Australiese Rugbyunie gehelp om van die randjie van bankrotskap te laat herstel. Die toetsreeks is 1–1 voor ’n toeskouerrekord geëwenaar. Australië het die eerste toets 15–9 gewen, maar die Fidjiane kon die tweede 17–15 beklink.

’n Tweede toer na Australië in 1954 het weer rekordskare gelok. Australië kon weer die eerste toets wen, maar net met ’n 22–19. Die toetsreeks is 1–1 geëwenaar toe Fidji die tweede toets 18–16 wen. In dieselfde jaar het Fidji Wes-Samoa gehuisves. Fidji het in 1957 weer na Nieu-Seeland getoer en die Māoris 36–13 in Dunedin en 17–8 in Wellington geklop, en toe ’n sterk Aucklandse span 38–17 geklop.

In 1964 het Fidji vir die eerste keer na Europa getoer, waar hulle vyf onvergeetlike wedstryde in Wallis beslis het; die hoogtepunt was ’n klassieke ontmoeting in Cardiff waaroor nog jare later debater sou word. Wallis wen 28–22, maar moes net vir die tweede keer in hul geskiedenis ses drieë toelaat. In 1970 het ’n buitensporige Fidjiaanse span die Britse Barbarians 29–9 in Gosforth verneder. ’n Drie in die laaste minuut laat Nieu-Seeland in 1974 14–13 oor Fidji te Suva seëvier.

In Augustus 1977 het die Britse en Ierse Leeus na hul terugkoms van ’n toer in Nieu-Seeland in Fidji vasgemaak. Fidji kon hulle 25–21 op Buckhurstpark in Suva klop. In 1982 klop Fidji Vancouver XV om sodoende ’n wenreeks van 15 wedstryde tot in 1984 te begin.

Moderne tydperkWysig

 
Die Fidji-sewesspan tydens die Statebondspele in Melbourne in 2006

In 1985 het Fidji sy eerste toets teen Wallis in Cardiff gespeel, die tuisspan teken ’n dominante 40–3 met twee drieë deur Phil Davies aan. Fidji het ook swaar verliese teen Llanelli en Cardiff gely, maar net met een punt teen Ierland verloor.

In die volgende jaar het Wallis Suva besoek, waar kaptein Dai Pickering se somertoer tot ’n voortydige einde kom nadat hy harsingskudding opgedoen het. Richard Moriarty het oorgeneem en het gesien hoe sy span ’n 13–0 voorloop tot een punt laat daal, voordat Wallis met ’n 15–22-oorwinning wegtrek.

In 1987 het Fidji tot die kwarteindrondte van die Rugbywêreldbeker gevorder en was – volgens die skeidsregter – op die punt om Frankryk te klop, toe hulle 4–3 voor was, maar is uiteindelik deur Frankryk 31–16 verneder.[12]

Tydens die Rugbywêreldbeker 1991 het Fidji al sy drie poelwedstryde verloor en laaste in sy pool geëindig. Wallis se derde toetswen oor Fidji was in 1994 in Suva. Die besoekers het ’n swak lynstaan ontbied om vir hul span ’n wedstryd moontlik te maak, maar hulle was goed genoeg om met ’n 23–8-oorwinning weg te stap.

Fidji het in 1995 ’n ontstellende toer in Wallis en Ierland gehad, toe hulle ses van nege wedstryd met nederlae te Neath, Cardiff en Pontypridd verloor. Hulle het egter daarin geslaag om vir Wallis net ’n taai oorwinning op Arms Park toe te laat en net 15–19 verloor. Na nederlae teen Tonga en Wes-Samoa kon Fidji nie daarin slag om vir die Rugbywêreldbeker 1995 te kwalifiseer nie; die enigste toernooi tot dusver wat hulle misgeloop het.

Fidji het voor die Rugbywêreldbeker 1999 herbou, en die nuwe afrigter Brad Johnstone het dissipline en vasberadenheid in hul speelstyl ingebring. Hulle het ’n suksesvolle begin gemaak deur Kanada en Namibië te klop, en was weer op die punt om Frankryk in Toulouse te klop, toe dinge begin skeefloop. ’n Omstrede skeidsregterprestasie deur Paddy O'Brien het hulle glo van hul oorwinning oor Frankryk ontneem, en Fidji verloor 28–19. Hulle het tot die uitspeelrondte vir die kwarteindrondte gevorder, maar op Twickenham teen Engeland 45–24 verloor. Kort na die toernooi vertrek Johnstone na Italië.

In 2001 is Fidji as Pasifiese kampioen gekroon, nadat hulle in die eindstryd in Tokio Samoa 28–17 verslaan het. In November 2002 het Fidji weer teen Wallis in die Millennium-stadion te staan gekom. Twee drieë en 21 punte van Stephen Jones se skoene af het aan die tuisspan ’n maklike 58–14 oorwinning besorg.

Fidji het sy Rugbywêreldbeker 2003-kwalifikasieveldtog Junie 2002 begin, toe die drie leidende Pasifiese eilandspanne tydens ’n rondomtalie in die tweede rondte van die Oseaniese kwalifikasie ontmoet het. Die Fidjiane skop af met nederlae teen Samoa en Tonga, maar hul nederlaag teen Samoa tuis het beteken dat hulle Tonga met meer as 20 punte moes klop om die groep te wen. Dit het hulle behoorlik gedoen deur in Nadi 47–20 te wen. Tydens die 2003-Rugbywêreldbekertoernooi kon hulle Japan 41–13 klop en die Amerikaanse Arende net-net 19–18 verslaan. Maar na ’n 20–22-nederlaag teen Skotland en ’n 18–61-nederlaag teen Frankryk het Fidji op die derde plek geëindig en sodoende die uitklopfase misgeloop.

Sedertdien het Fidji gemengde resultate gesien. Alhoewel hulle tradisioneel die sterkste van die Pasifiese rugbynasies is, is hulle in 2004 deur die Nieu-Seelandse Maori 29–27 geklop en deur die All Blacks 91–0 verneder. In Julie 2006 is vyf Fidjiaanse rugbyspelers na ’n dronk bakleiery gedurende ’n Pasifiese Vyfnasies-wedstryd in Japan vir die res van die jaar uit alle internasionale toernooie geskors.[13] Hul 2007-seisoen het begin as een van Fidji se ergste. Hulle het oor ’n baie onervare span beskik en teen albei Pasifiese mededingers, Tonga en Samoa, verloor en swaar nederlae teen Australië en die Junior All Blacks gely. Die enigste oorwinning vir Fidji by die 2007-Pasifiese Sesnasies was teen Japan; hulle kon egter ’n onverwagte 14–14-gelykop teen Australië A aanteken. Na die heraansluiting van Fidji se mees ervare spelers by die span het Fidji gedurende die Rugbywêreldbeker 2007 stadigaan verbeter en kon vir die eerste keer in 20 jaar tot die uitklopfase vorder.

Rugbywêreldbeker 2007Wysig

 
Fidji teen Suid-Afrika tydens die Rugbywêreldbeker 2007

Fidji is tydens die Rugbywêreldbeker 2007 saam met Wallis, Kanada, Japan en Australië in Poel B geloot. Nadat hulle Japan en Kanada in taai wedstryde kon klop, het Fidji tydens die wedstryd teen Australië verskeie sleutelspelers vir die belangrike wedstryd teen Wallis laat rus. Australië verslaan Fidji 55–12. Fidji se lot in die toernooi het op ’n "alles of niks"'-wedstryd teen Wallis afgekom, wat Fidji 38–34 kon wen en sodoende vir die tweede keer tot die uitklopfase geneem het. Die voormalige Wallaby Michael Lynagh het die wedstryd as een van die beste "van alle tye" beskryf. Fidji het in die kwarteindstryd teen Suid-Afrika verloor, maar hul uitstaande prestasie tydens die toernooi het aan hulle die negende plek op die wêreldranglys besorg – hul beste rank nog. Die Australiërs Shannon Fraser en Gregg Mumm het tydens die aanloop tot die wêreldkampioenskap as hulpafrigters opgetree en vir ’n groot deel van die Fidjiaanse sukses erkenning ontvang.[verwysing benodig]

Rugbywêreldbeker 2011Wysig

Fidji is tydens die Rugbywêreldbeker 2011 saam met Suid-Afrika, Wallis, Samoa en Namibië in Poel D geloot. Fidji wen sy eerste wedstryd teen Namibië 49–25, maar hulle kon nie daarin slaag om hul wêreldkampioenskapprestasie van 2007 te herhaal nie. Fidji het swaar nederlae teen Suid-Afrika, Wallis en Samoa gely. Die finale tellings was 3–49 teen Suid-Afrika, 7–27 teen Samoa en 0–66 teen Wallis.

CibiWysig

 
Fidji voer die cibi tydens die Rugbywêreldbeker 2007 teen Kanada op
 
Fidji se cibi op Millennium-stadion in Cardiff, Wallis, 2010
 
Fidji voer die cibi tydens die Rugbywêreldbeker 2011 teen Suid-Afrika op

Die cibi (Fidjiaans: [ˈðimbi]) is ’n Fidjiaanse meke en oorlogsdans, afkomstig van die Bau-eiland, wat algemeen voor of na ’n slag uitgevoer word. Dit het in 1939 op die rugbyveld prominent geword toe dit voor die wedstryd deur die Fidjiaanse nasionale rugbyspan uitgevoer is.

Fidjiaans Afrikaans

(Leier) Vaka rau! Cibi!
Ai tei vovo, tei vovo
E ya, e ya, e ya, e ya;
Tei vovo, tei vovo
E ya, e ya, e ya, e ya

Rai tu mai, rai tu mai
Oi au a virviri kemu bai
Rai tu mai, rai tu mai
Oi au a virviri kemu bai

Toa yalewa, toa yalewa
Veico, veico, veico
Au tabu moce koi au
Au moce ga ki domo ni biau

E luvu koto ki ra nomu waqa
O kaya beka au sa luvu sara
Nomu bai e wa mere
Au tokia ga ka tasere

Tuletule buka sa dredre
Tuletule buka sa dredre
Tou vaka tosoya
Vaka malua.
E ya, e ya, e ya, e ya

Maak reg! Cibi!
Die oorlogdraad, die oorlogdraad,
Oh, oh, oh, oh, oh, oh, oh, oh,
Die oorlogdraad, die oorlogdraad
Oh, oh, oh, oh, oh, oh, oh, oh

Kyk hier, kyk hier,
Ek val u verdediging aan,
Kyk hier, kyk hier,
Ek val u verdediging aan

’n Haan en ’n hen,
Hulle val aan, val aan, val aan,
Dit is verbode vir my om te sluimer,
Behalwe vir die geluid van brekende golwe

U skip lê gesink onder,
U sê ek het dalk verdrink.
U draad is net gemaak van rankplante
Ek kyk daarna, en dit word ongedaan gemaak.

Ek draai die boom om dit te ontwortel,
Dit is moeilik, maar dit is daar.
Die boom is uit die grond uit
Stadig maar, ons in staat is om dit te skuif.
Oh, oh, oh, oh, oh!

RekordsWysig

Algehele rekordWysig

 
Fidji se plek op Wêreldrugby se ranglys vanaf 10 Oktober 2003 tot op hede

Fidji het teen 25 November 2019 168 van hulle 345 toetswedstryde gewen, ’n wenrekord van 48,69%.[14]

Fidji se toetsrekord teen alle lande: (Korrek op 25 November 2019)[14]

Teen Gespeel Gewen Verloor Gelykop % Gewen
  Argentinië 4 1 3 0 25
  Australië 22 2 19 1 9
  België 1 1 0 0 100
 Britse Barbarians 2 0 2 0 0
  Britse en Ierse Leeus 1 1 0 0 100
  Chili 1 1 0 0 100
  Cookeilande 2 2 0 0 100
  Engeland 7 0 7 0 0
  Engeland XV 3 0 3 0 0
  Frankryk 10 1 9 0 10
  Frankryk XV 1 0 1 0 0
  Georgië 4 3 1 0 75
  Hongkong 3 3 0 0 100
   Ierland 4 0 4 0 0
  Ierland XV 2 0 2 0 0
  Italië 12 6 6 0 50
  Japan 18 14 4 0 77,8
  Kanada 12 9 3 0 75
  Kanada XV 1 1 0 0 100
  Klassieke All Blacks 1 1 0 0 100
  Māori All Blacks 29 7 20 2 24,1
  Namibië 2 2 0 0 100
  Nieu-Seeland 5 0 5 0 0
  Nieu-Seeland XV 5 0 5 0 0
  Niue 1 1 0 0 100
  Papoea-Nieu-Guinee 3 3 0 0 100
  Portugal 2 2 0 0 100
  Roemenië 3 2 1 0 66,7
Sjabloon:SALru 2 2 0 0 100
  Samoa 53 30 20 3 59,4
  Skotland 8 2 6 0 25
  Skotland XV 2 0 2 0 0
  Spanje 1 1 0 0 100
  Suid-Afrika 3 0 3 0 0
  Tonga 92 62 27 3 67,4
  Uruguay 4 3 1 0 75
  Verenigde State 6 5 1 0 83,3
  Wallis 11 1 9 1 9,1
  Wallis XV 3 0 3 0 0
Totaal 345 168 167 10 48,69

WêreldbekerrekordWysig

Jaar Uitslag
1987 Kwarteindrondte
1991 Poelfase
1995 Geen deelname
1999 Kwarteindrondte uitspeelwedstryd
2003 Poelfase
2007 Kwarteindrondte
2011 Poelfase
2015 Poelfase
2019 Poelfase
2023 N.v.t.

VerwysingsWysig

  1. (en) FRU Appoints New Flying Fijians Head Coach
  2. (en) "Most matches". ESPNscrum. Besoek op 25 November 2019.
  3. (en) "Most points". ESPNscrum. Besoek op 25 November 2019.
  4. (en) "Most tries". ESPNscrum. Besoek op 25 November 2019.
  5. (en) "Fiji / Match results". ESPNscrum. Besoek op 25 November 2019.
  6. (en) "Fiji's Results – 1983". ESPNscrum. Besoek op 25 November 2019.
  7. (en) "Fiji's Results – 2005". ESPNscrum. Besoek op 25 November 2019.
  8. (en) "World Rugby Rankings". Wêreldrugby. Besoek op 25 November 2019.
  9. (en) We quit: SRU Samoa Observer
  10. (en) TEIVOVO.COM – RUGBY HISTORY IN FIJI, besoek op 6 Oktober 2007
  11. (en) Teivovo – The first word in Fijian rugby, HISTORY OF RUGBY IN FIJI – The origins of the cibi, besoek op 6 Oktober 2007
  12. (en) "Rugby World Cup: The Tongan priest, Fijian panache and airport training". Rugby World. 8 September 2015. Besoek op 25 November 2019.
  13. (en) "Five Fijians banned after brawl". BBC. 4 Augustus 2006. Besoek op 25 November 2019.
  14. 14,0 14,1 (en) "International Rugby Union Statistics – Fidji". ESPNscrum. Besoek op 25 November 2019.

Eksterne skakelsWysig